Eeufeesboek vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

Leksikografie
’n Inisiatief het dit ten doel om groot volumes gedrukte en handgeskrewe materiaal om te skakel na digitale bronne ter ondersteuning van toekomstige leksikografiese werk.
Francoise Steynberg

Afrikaans is groot in Namibië en vier vanjaar saam met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) die eeufeesvieringe. 

In die nuuskantoor van Republikein is woordeboeke soos water en reën in Namibië – iets waarsonder nie gelewe kan word nie.

Vir die WAT wat vanjaar 100 jaar oud is, is ’n Eeufeesboek deur Jana Luther saamgestel. 

Uit meer as 200 taalrubrieke en radiopraatjies is 100 stukke vir hierdie bundel gekies en aangepas. 

Net ’n klein oplaag word gedruk en die opbrengs uit verkope gaan volledig na die WAT. 

Die eindproduk behoort in April beskikbaar te wees, volgens die WAT. As jy die boek aanskaf, vir jouself, as ’n geskenk vir iemand, sal jy dus ’n klein deeltjie bydra om die WAT van V af tot by Z te kry. 

Een van David Griessel se betowerende werke, “Verdant Enigma” is as “boom van Afrikaans” vir die omslag gebruik. 


HOE WORD ’n WOORDEBOEK AANMEKAARGESIT?

Hoe word ʼn woordeboek nou eintlik aanmekaargesit? Vir baie van ons is woordeboeke eenvoudig dáár wanneer ons hulle nodig het; stil-stil eenkant op ʼn rak, of binne ʼn oogwink aanlyn beskikbaar. 

Nogtans verteenwoordig elke omskrywing ʼn ryke wêreld van navorsing, struktuur en noukeurige taalkundige werk.

Kollegas van die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum, Chantal Ellis (terminologiekoördineerder) en dr. Alta van Rensburg (adjunkdirekteur), het onlangs die geleentheid gehad om meer van dié wêreld te wete te kom. Die WAT het sy ontstaan by US gehad. 

Hulle het die departement Afrikaans en Nederlands se leksikografiekursus bygewoon, met Afrilex-raadslede drs. André du Plessis van die WAT en Lorna Morris, ʼn vryskutleksikograaf en -navorser, as aanbieders.

Die kursus het afgeskop met ʼn boeiende geskiedkundige oorsig oor leksikografie deur prof. Rufus Gouws, wat waardevolle konteks verleen het om ʼn begrip te vorm van hoe dié dissipline deur die jare ontwikkel het.

Daarna het ʼn omvattende verkenning van die manier waarop woordeboeke beplan, saamgestel en onderhou word, aan die beurt gekom. Die deelnemers is gelei om noukeurige oorweging te skenk aan die prosesse en strukture wat leksikograwe gebruik om taal akkuraat te verteenwoordig. 

Die raakvlak tussen leksikografiese teorie en praktyk is verken, met spesiale aandag aan die ingewikkelde van woordeboekmakery.


KUNSMATIGE INTELLIGENSIE

Een van die besprekings het op die groter wordende rol van kunsmatige intelligensie (KI) gefokus. Die besprekings het gehandel oor wat KI kan beteken vir die toekoms van woordeboeksamestelling, die ontleding van taaldata en die ontwikkelende verantwoordelikhede van leksikograwe in ʼn toenemend digitale omgewing.

ʼn Hoogtepunt was ʼn besoek aan die Buro van die WAT, ʼn hoeksteenorganisasie in Afrikaanse leksikografie. Kursusgangers is verwelkom deur die hoofredakteur en uitvoerende direkteur, dr. Phillip Louw. 

Hulle het die kluis besoek waar meer as 3,5 miljoen indekskaarte bewaar word wat bydraes bevat wat oor baie jare deur gewone Afrikaanssprekendes gemaak is. Elke indekskaart vang ʼn oomblik van werklike taalgebruik vas en maak deel uit van die uitgebreide bewysbasis wat die woordeboek onderlê.

Verder het die groep die WAT se biblioteek besoek waar ʼn betekenisvolle driejaarprojek tans aan die gang is om hulle Afrikaanse materiaal te digitaliseer. 

Hierdie inisiatief het dit ten doel om groot volumes gedrukte en handgeskrewe materiaal om te skakel na digitale bronne ter ondersteuning van toekomstige leksikografiese werk. Dit was vir die groep ʼn indrukwekkende demonstrasie van hoe tradisionele leksikografie deur tegnologiese innovering steeds aanhou ontwikkel.

Ná afloop van die toer het die groep geleentheid gehad om deel te neem aan insiggewende gesprekvoering met WAT-personeel oor hulle werk, huidige uitdagings en toekomstige projekte.

Verder het die groep die WAT se biblioteek besoek waar ʼn betekenisvolle driejaarprojek tans aan die gang is om hulle Afrikaanse materiaal te digitaliseer. Hierdie inisiatief het dit ten doel om groot volumes gedrukte en handgeskrewe materiaal om te skakel na digitale bronne ter ondersteuning van toekomstige leksikografiese werk. 

Dit was vir die groep ʼn indrukwekkende demonstrasie van hoe tradisionele leksikografie deur tegnologiese innovering steeds aanhou ontwikkel.

Ná afloop van die toer het die groep geleentheid gehad om deel te neem aan insiggewende gesprekvoering met WAT-personeel oor hul werk, huidige uitdagings en toekomstige projekte.


BORG ’n WOORD

Liefhebbers van Afrikaans het sedert 2010 die unieke geleentheid om ’n woord te borg as deel van die WAT se Borg ’n Woord-projek. Buiten dat so geld ingesamel word vir die WAT wat ’n eeu oud is, skep dit ook ’n bewustheid van die waarde van woorde en van die kleurrykheid, omvang en veelseggendheid van Afrikaans by die Jan en Susan Publiek. 

Boonop kom elkeen wat ’n woord of woorde borg of koop, in aanmerking vir die jaarlikse Borg ’n Woord-Sanlamprys van N$25 000. 

Besoek die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy saam aan die dokumentering van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang. – Universiteit Stellenbosch

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer