• Tuisblad
  • Kultuur
  • Dis hoe ons ónsé prate in’ie Boesmanland stane praat

Dis hoe ons ónsé prate in’ie Boesmanland stane praat

Die mees fassinerende woorde, beskrywings en idiome
Die skrywer en storieverteller Elias P. Nel skryf oor hoe Afrikaans in Boesmanland gepraat word en deel sy besondere verwerking van Psalm 8.
Henriette Lamprecht
Die Boesmanland is ’n ongenaakbare streek met droë vaal eindelose vlaktes en kliprante.

In hierdie verlate dorre annerlikgeit is die mense met hul feestelike prate die grootste skat. My geboorteplek, die nedersetting Swartkop (ook Verneukpan genoem), val binne hierdie streek.

My bemoeienis met Boesmanland-Afrikaans is beperk tot Verneukpan, Brandvlei, Kenhardt, Vanwyksvlei en die omliggende plase.

In hierdie streek word daar in die mees fassinerende woorde, beskrywings en idiome land en sand gepraat. Oor die dood, die begrafnis en die misterie van die hiernamaals sal iemand hom/haarself só uitdruk:

“Oorle Piet het toe mos sy houtpak gelê-e aantrek. Toe’t hy oener’ie sandkombers geloop lê en toe’t hy mos’ie blou leer geklim.”

Die oormatige gebruik van werkwoorde kom wel ook in die ander subvariëteite van Gariep-Afrikaans voor. Dis egter of die Boesmanland dit meer beklemtoon.

“Toe ek sien toe kom sitte stap hy hier aan” of “Ek lê-e loop solank, julle kom mos”.

Nog ? voorbeeld van die beskrywende taal. Die moeë voetganger sal so ’n rygeleentheid bedel:

“Kan ek’ie assemblief my voete in Meester se mouter koel maak’ie?”

Hopelik gee my ongepubliseerde verwerking van Psalm 8 ’n beter aanduiding hoe soepel Boesmanland-Afrikaans werklik is. (“Wats” word gebruik om status aan te dui.)



PSALM 8

Issie mens da ooit wats?

virrie voorman vannie miskante; op allie klas snaarmisieke

’n Psalm van Dawid

Jirre, onse Jirre hoe vreeslik mooilekker

is U se naam op hierie hele grote aare!

U’t mos U se groot koniklikgeit

oppie hemel geloop neergelê

ytie monne van U se tjeeners

en okkie ou bawetjies sinne

is U se sterkgeit mos vas oenerie grond gekom ingespit

oor U se tegepertye se ontwille

om daai vyhandte van U

en daai wraakvergellers stil te maak

as ek só narie hemel sitte tjyk

daais mos als U se vingers se werke

en okkie sterre wat U self ytgeknip’it

da sitte verwonner ek vir my:

issie mens da ooit wats

lat U nog aan hom sitte dink

ennie mens se tjeent

lat U nog vir hom wil kom stane tjyer?

U’t hom mos net ? kleine bietjietjies minnerter assie ingele gemaak

Toe’t U vir hom allie eer en heerlikgeit gestane sjee

enne splinterniewie hoed mette veer in op sy kop gesit

toe’t U hom bo als nog voorman ôk gestane gemaak

om agter U se hannewerk te lope tjyk ennit op te pas

ons praat nou hier van allie skape, bokke ennie beeste

en allie annerlike diere vannie velt

dan’s daar noggie voëltjietjies vannie hemel

die visse innie see wat mettie seepatte langes trek

ooee Jirre onse Jirre hoe vreeslik mooilekker

is U se heilagge naam hier op hierie hele grote aare!



My vurige hartswens is dat ek iewers ’n borgskap sal losslaan om hierdie wilde en eerlike taal volledig op te teken; voordat dit mak en oneerlik word en saam met haar sprekers onder die sandkombers gaan lê.



* Elias P Nel is op Verneukpan in die Noord-Kaap gebore en is al vir bykans 30 jaar besig om die besonderse taalvariëteit van Gariepafrikaans te bevorder.

– afrikaans100.org

Kommentaar

Republikein 2024-12-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 40° Rundu: 20° | 39° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 22° | 36° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 23° | 33° Gobabis: 24° | 34° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 21° | 36° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 24° | 41° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 19° | 38° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 23° | 36° Maputo: 24° | 41° Windhoek: 23° | 33° Cape Town: 16° | 21° Durban: 19° | 24° Johannesburg: 23° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 23° | 38° Harare: 21° | 36° #REF! #REF!