No Image Caption

Kort nuus

Iréne-Mari van der Walt
Sesriem



Toeris oorlede

’n Suid-Afrikaanse toeris (62) is volgens die polisie se misdaadverslag met sy aankoms by die Sesriem-kliniek dood. Volgens die verslag het die man Donderdag in Namibië aangekom vir ’n 15 dae lange toer deur die land en het na bewering begin kla oor borspyne tydens die egpaar se besoek aan die Sesriem-canyon. Sy vrou het hom na die kliniek gehaas waar hy gesterf het. Die polisie ondersoek die voorval.



Okatope



Man verkrag glo verstandelik gestremde

’n Man (52) is die naweek by Okadhiya in die Oshikotostreek in hegtenis geneem nadat hy glo ’n verstandelik gestremde vrou in haar slaap verkrag het. Die vrou het na bewering ’n kamer met ’n negejarige seun gedeel wat na bewering uit die kamer gehardloop en haar pa gaan wakker maak het. Toe die pa opdaag, was die man glo reeds weg. Hy sou na verwagting gister in die Ondangwa-landdroshof verskyn het.



Ariamsvlei



Voersak vol dagga naby grenspos gevind

’n Plaaswerker het glo die naweek ’n voersak vol dagga sowat 2 kilometer van Ariamsvlei in die rigting van die Nakop-grenspos by die plaas Uitkoms gevind. Die plaaswerker was na bewering besig om die skape bymekaar te maak toe hy die sak in ’n bos gekry het en die polisie is gevolglik in kennis gestel. Volgens die polisie sê verslag is vyf pakkies dagga met ’n gesamentlike gewig van 10,605 kg met ’n waarde van N$530 250 in die sak gevind. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.



Opuwo



Dagga, sigarette glo by man gekry

Op Opuwo is ’n 53-jarige man in hegtenis geneem toe hy in besit gevind is van dagga ter waarde van N$47 800, 13 onwettige sigarette ter waarde van N$13 en N$5 530 in kontant.



Mururani



Man glo vas weens dagga in sy besit

’n Drie-en-twintigjarige man is by Mpora in die Kavango-Wesstreek in hegtenis geneem nadat 245 ballies dagga in sy besit gevind is. Die waarde van hierdie vonds moet nog bepaal word. – Nuus uit die polisie se misdaadverslag

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer