Mariud Ngula, Sonja Smith en Nikanor Nangolo uit die NMH-stal is vir uitmuntende bydraes tot sport en ondersoekende joernalistiek bekroon. FOTO JORGE DOS SANTOS
Mariud Ngula, Sonja Smith en Nikanor Nangolo uit die NMH-stal is vir uitmuntende bydraes tot sport en ondersoekende joernalistiek bekroon. FOTO JORGE DOS SANTOS

NMH-joernaliste vereer

-
-
Jorge Dos Santos

Drie joernaliste van Network Media Hub (NMH) het tydens die Redakteursforum van Namibië (EFN) se gesogte jaarlikse toekenings vir uitmuntende joernalistiek met die louere in hul onderskeie kategorieë weggestap.  

Joernaliste van Namibian Sun, Republikein en Allgemeine Zeitung wat in NMH se stal val, was onder die wenners met met Mariud Ngula en Nikanor Nangolo wat gesamentlik die MTC-geborgde Sportjoernalis van die Jaar-toekenning ontvang het. Sonja Smith is as ondersoekende joernalis as wenner aangewys in die kategorie vir ontginningsnywerhede en energie wat deur B2Gold geborg is. 

Die joernalis van die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC), Maria Kaalushu, is aangewys as Joernalis van die Jaar 2026. Kaalushu het oor die toekenning gesê sy is “baie oorweldig, maar baie bly en baie dankbaar” en was vol dankbaarheid vir lede lede van die publiek wat haar met hul ervarings vertrou het. 

“Dikwels is die stories wat ons dek, stories waaroor mense nie altyd bereid is om te praat nie. Ek is altyd baie dankbaar teenoor mense wat bereid is om oor hul probleme te praat,” het Kaalushu gesê.


Die toekenningseremonie wat Vrydag in Windhoek plaasgevind het, vier uitnemendheid in Namibiese joernalistiek en gee erkenning aan uitstekende verslaggewing met professionele standaarde in 'n reeks kategorieë. 

Die EFN-voorsitter Toivo Ndjebela het tydens die geleentheid gesê die toekennings vereer nie net uitstekende stories nie, maar ook die waardes wat joernalistiek onontbeerlik maak.

“Agter elke toekenning is 'n joernalis wat gekies het om nog 'n vraag te vra, nog 'n feit te verifieer, nog 'n kilometer te reis of selfs nog 'n slapelose nag in die nastrewing van die waarheid deur te bring,” het Ndjebela gesê. 

FNB Namibië was die hoofborg en het N$250 000 bygedra, terwyl MTC, B2Gold, Kadhila Amoomo Legal Practitioners, Old Mutual, die Bank van Namibië (BON) asook die regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (Cran) ook die geleentheid ondersteun het. - [email protected]
















Kommentaar

Republikein 2026-09-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer