'n Avontuur van 'n leeftyd

Otis Daniels
Expedition Africa Namibia het gister amptelik in Walvisbaai met kajakke by die seiljagklub afgeskop met 68 deelnemers uit 11 lande wat tydens die avontuur-resies meeding om te kwalifiseer vir die Adventure Racing Wêreldkampioenskap wat later vanjaar in Ecuador plaasvind. Van die sportdissiplines deel van die wedren sluit hardloop, stap en bergfietsry, asook navigasie, touwerk en kameelritte in. Die deelnemers sluit vierman- en tweeman gemengde spanne in wat die resies oor 490 kilometer in agt kategorieë moet voltooi en is georganiseer deur Heidi Muller en haar man Stephan. Namibië word verteenwoordig deur agt atlete wat in verskillende spanne deelneem. Danie van Aswegen (48) wat reeds nege Expedition Africa's voltooi het en as die land se top ultra-atleet beskou word, neem deel as lid van 'n gemengde viermanspan, Namaqua.

"Jy weet nooit wat op jou wag nie en moet geestelik sterk wees. Dis nie altyd die sterkste en fiksste span wat wen nie, jou navigasie- en beplanningsvaardighede moet tops wees. Die doel is om alles te doen wat jy kan om die volle roete te voltooi. Ons beplan om die roete te geniet en om teen Donderdag klaar te maak," het Danie gesê.

"Dit is 'n leefstyl en ek is seker dat 'n groot verrassing vir die internasionale deelnemers wag. Die resies sal ons land blootstel as 'n gesogte avontuur- en toeristebestemming. Die ongerepte en uitgestrekte gebied waar ons deelneem, bring 'n totale nuwe dimensie aan die Adventure Racing-konsep.”

Die res van die Namibiërs wat deelneem, is Hilke Kruger (47), lid van die gemengde viermanspan

Kombisa Crawlers; Louise Breed (40) en JP Bruger, lede van die gemengde viermanspan The Fantastic Four; Danie van Wyk (37) en Melanie van Wyk (37), lede van die gemengde tweemanspan Quiver and Co en Nadine Duplesis (34), lid van die gemengde tweemanspan Etosha Medicare. Volg die deelnemers regstreeks op www.expafrica.live; www.SleepMonsters.com of AR World Series: www.arworldseries.com. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer