Renaldo Alberts FOTO VERSKAF
Renaldo Alberts FOTO VERSKAF

Renaldo inspireer met sy nuwe enkelsnit

No Byline

Die Suid-Afrikaanse sanger Renaldo Alberts is terug met ’n kragtige nuwe enkelsnit, Droom Te Klein, wat reeds aandag trek met sy vars klank en inspirerende boodskap.

Die liedjie moedig luisteraars aan om weer groot te droom en hul drome met oorgawe na te jaag.

Renaldo beskryf die enkelsnit as ’n herinnering dat ’n mens se drome nooit te groot is nie, maar dat mense soms te klein droom. Volgens hom is dit juis dié boodskap wat hy met die liedjie wil oordra.

Droom Te Klein kombineer elemente van pop, rock en alternatiewe musiek en skep ’n energieke, emosionele klank, wat by ’n wye gehoor aanklank sal vind.

Die liedjie fokus op die groot en onskuldige drome wat ’n mens as kind gehad het en vra of volwassenes steeds die moed het om daardie drome te verwesenlik.

Renaldo het die liedjie in samewerking met Richann Brussow van die groep Reën geskryf. Die inspirasie vir die titel het, volgens Renaldo, tydens ’n spontane gesprek ontstaan toe die woorde “ons droom te klein” geopper is.

Wat as ’n eenvoudige idee begin het, het later die kern van die liedjie geword. Met sy universele tema vind die liedjie veral aanklank by mense wat dalk hul drome laat vaar het. 

Renaldo hoop luisteraars sal weer in hul eie potensiaal begin glo en die moed bymekaar sal skraap om hul doelwitte uit te leef.

’n Musiekvideo vir Droom Te Klein is reeds voltooi en beeld die vreugde en vryheid van die lewe uit.

Die video is op verskeie bekende plekke in Pretoria geskiet, insluitend die Menlyn-inkoopsentrum se dak en parkeerterrein, asook ’n uitkykpunt in die Waterkloof-woonbuurt met uitsigte oor die stad. Bykomende tonele is by Renaldo se huis verfilm om die produksie ’n meer persoonlike gevoel te gee. Leon Barnard het die vervaardiging behartig.

Renaldo se liefde vir musiek het reeds op vyfjarige ouderdom begin. Van jongs af het hy gesing, hetsy in die klaskamer, by die huis of saam met familie en vriende. Sedert 2019 is hy aktief in die musiek- en radiobedryf betrokke en het reeds by verskeie feeste en liefdadigheidsgeleenthede opgetree.

Met Droom Te Klein wys Renaldo dat passie, talent en groot drome steeds ’n wenresep in die Afrikaanse musiekbedryf is. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer