’n Nuwe generasie filmmakers gevier
Die MultiChoice Talent Factory (MTF) Academy Southern Africa het onlangs die graduering van 20 opkomende filmmakers tydens ’n seremonie in Lusaka in Zambië gevier, met drie Namibiërs onder die suksesvolle gegradueerdes.
Valeria Handobe, Shaquille Shikwambi en Georgina Likukela is onder die groep vir 2025-’26 wat ’n intensiewe en omvattende opleidingsprogram in filmvervaardiging voltooi het.
Die uitvoerende hoof van MultiChoice Namibia, Roger Gertze, het die Namibiese studente met hul prestasie gelukgewens en gesê die maatskappy sien daarna uit om te sien hoe hulle hul vaardighede en kreatiwiteit gaan gebruik om tot die plaaslike filmbedryf by te dra.
Die program het gefokus op alle kernaspekte van rolprentvervaardiging, insluitend regie, produksie, kinematografie, draaiboekskryf en redigering. Studente het ook waardevolle praktiese ervaring opgedoen en mentorskap van ervare professionele persone ontvang,
Volgens die uitvoerende hoof van MultiChoice Zambia, Averess Ndhlovu-Chella, is die geleentheid nie net ’n viering van akademiese prestasie nie, maar ook ’n bewys van die groei en volhoubaarheid van die streek se kreatiewe bedrywe.
Sy het beklemtoon dat die gegradueerdes nou gereed is om die bedryf te betree en Afrikastories op die internasionale verhoog te vertel.
Die MTF Academy, wat in vennootskap met die Universiteit van Zambië aangebied word, speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van kreatiewe talent deur akademiese opleiding met praktiese ervaring te kombineer.
Dié gegradueerdes sluit nou aan by 'n groeiende netwerk van MTF-alumni wat reeds hul merk in die bedryf gemaak het en tot die ontwikkeling van Afrika se kreatiewe landskap bydra.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie