Liefde vasgevang in lirieke

Annemarie du Toit

Die plaaslike sanger en liedjieskrywer Salvador Mouers stel sy nuwe enkelsnit “Slaan my Binne” op 20 Maart 2026 vry. 

Dis ’n emosionele liefdesliedjie wat die kompleksiteit en skoonheid van verhoudings vasvang.

“Dis ’n liefdeslied vir my vrou [Leandrea], maar ook vir almal wat die mooi en die moeilike van ’n verhouding ken,” sê Salvador oor dié snit, die eerste vrystelling uit sy EP “Binne” wat op pad is.

Die liedjie is geïnspireer deur die mense naaste aan hom – sy vrou, hul drie dogters – en sy geloof en weerspieël ’n diep verbintenis en onwrikbare liefde. Met lirieke wat van toewyding te midde van uitdagings getuig, vertel die liedjie die verhaal van ’n verhouding wat deur beide storms en vreugde gevorm word.

Salvador, wat in Windhoek gebore en in Walvisbaai getoë is, put sy musikale inspirasie uit sy persoonlike lewensverhaal. As die oudste van vyf kinders wat deur ’n enkelma grootgemaak is, en nou self ’n pa van drie dogters is, vorm familie en geloof die kern van sy kreatiewe werk.

Die snit het ook besondere betekenis vir hom, aangesien dit deel was van sy optredes tydens die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram en die Crescendo-konsertreeks, GOUD. Volgens Salvador was dit dus ’n natuurlike keuse as die eerste enkelsnit.

Hy beskryf sy vrou as sterk en veerkragtig, iemand wat stabiliteit bring selfs te midde van die alledaagse chaos van gesinslewe.

“Ek is nie noodwendig die ou wat blomme en sjokolade aandra nie, maar ek kan my gevoelens deur musiek oordra,” sê Salvador met ’n glimlag.

Hy maak ook geskiedenis as die eerste Namibiese kunstenaar wat deur ATKV-Crescendo opgeneem en bekend gestel word – ’n mylpaal wat hy as ’n groot eer, maar ook as ’n verantwoordelikheid beskou. 

“In ’n sekere sin help ek om die standaard te stel vir die kunstenaars wat na my sal volg,” voeg Salvador by.

Die opnameproses vir die projek het in Kaapstad plaasgevind, waar hy saam met vervaardigers Jean-Marc Meyer, Eddy Strings en Ruan Graff gewerk het.

Die vrystelling van Salvador se musiek vorm deel van ’n nuwe vennootskap tussen ATKV-Crescendo en Kosmos 94.1, wat daarop gemik is om ’n volhoubare musiek-ekosisteem vir Afrikaanse kunstenaars in Namibië te bou en plaaslike talent verder te ontwikkel.

“Slaan my Binne” sal vanaf 20 Maart op alle digitale musiekplatforms beskikbaar wees, terwyl die EP “Binne” op 25 April vrygestel word.

Die amptelike bekendstelling van Salvador se album vind op 17 April op Walvisbaai en op 25 April tydens die Kosmosfees in Windhoek plaas. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer