Die Hollard Affie-fees 2026 vind vanaand plaas. Foto argief
Die Hollard Affie-fees 2026 vind vanaand plaas. Foto argief

Geniet bobaas-musiek, gesinspret by Hollard Affies-fees

No Byline

’n Aand van musiek, kuier en gesinsvriendelike vermaak wag op Windhoekers wanneer die jaarlikse Hollard Affies-fees vanaand by die Wanderers-krieketveld plaasvind.

Die fees, wat deur Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) aangebied en deur Hollard Namibia geborg word, beloof om nog ’n hoogtepunt op die hoofstad se sosiale kalender te wees.

Die hekke open om 17:30, met ’n ontspanne piekniek-atmosfeer wat jou aan die gewilde konserte in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuine in Suid-Afrika sal herinner. Feesgangers kan hul eie komberse, stoele en piekniekmandjies saambring en die aand onder die herfshemel geniet, terwyl kinders vrylik speel en families saam kan ontspan. Vir diegene wat dit eenvoudig wil hou, sal piekniekmandjies vooraf kan bestel.

Die verhoogprogram spog met ’n mengsel van gevestigde en opkomende Afrikaanse kunstenaars van Namibië en Suid-Afrika. Die gewilde Stefan Ludik tree as aanbieder op en sal ook self optree. Hy deel die verhoog met mede-Namibiër John Rock Prophet, wie se kenmerkende stem en kitaarspel reeds wyd lof ontvang het.

Uit Suid-Afrika sluit die opkomende kunstenaar Fran Prins by die program aan. Sy eerlike lirieke en emosionele klank het hom vinnig gevestig as ’n naam om dop te hou. Die hoogtepunt van die aand is egter die energieke duo Droomsindroom, bekend vir hul alternatiewe popklank en aansteeklike energie op die verhoog.

Benewens die musiek, bied die fees ook volop vermaak vir jonger besoekers. Springkastele, gesigverf en ’n fotostrokie-ervaring sal beskikbaar wees, terwyl die bekende Milky Lane-trok en ’n spesiale sone vir lekkergoed sorg vir soetighede soos roomys, lekkers en ysdrankies.

Die organiseerders beskryf die geleentheid as meer as net ’n musiekfees, maar eerder ’n volledige gesinsuitstappie wat daarop gemik is om mense in ’n veilige en ontspanne omgewing bymekaar te bring.

Kaartjies is via KuduKey en by WAP se finansiële kantoor beskikbaar en kan in kontant of met ’n kaart gekoop word.

Geen glasprodukte of sal op die terrein toegelaat word nie en slegs plastiekhouers mag ingebring word. Parkering is by Wanderers se sportgronde beskikbaar, met bykomende ruimte by die Ramblers-sportgronde.

Indien reën voorspel word, word besoekers aangemoedig om sambrele of gazebo’s saam te bring — maar ongeag die weer, beloof die Hollard Affies-fees om ’n aand van goeie musiek, heerlike kos en blywende herinneringe te wees.

Kommentaar

Republikein 2026-06-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer