Die Fortuins het arriveer
Gemoedsdrif het vandeesweek drie nuwe inwoners verwelkom toe Jonty, Teddy en hul seun Renzo Fortuin hul eerste verskyning in kykNET se Skemergrond maak.
Die gesin, wat deur Whaden Johannes, Kim Syster en Ettienne Gertse vertolk word, bring elkeen ’n unieke persoonlikheid en hul eie dinamika na die dorp. Hoewel die karakters verskillende eienskappe het, is dit juis hul onderlinge verhoudings wat die nuwe gesinsverhaal interessant maak.
Jonty Fortuin is intelligent, berekend en verkies om altyd ’n tree voor ander te wees. Volgens Whaden het hy aanvanklik gedink Jonty is bloot ’n tipiese weet-alles, maar namate hy die karakter beter leer ken het, het hy besef daar skuil heelwat meer agter dié persoonlikheid.
“Ek hou daarvan om na ander te luister om hulle te verstaan. Jonty luister eerder sodat hy ’n beter, meer intellektuele antwoord kan gee,” vertel Whaden.
Sy vrou, Teddy, is weer waaghalsig sonder om roekeloos te wees. Sy is sterk en veerkragtig en sal ver gaan om haar gesin bymekaar te hou. Dit beteken egter nie dat sy altyd bereid is om terug te staan nie.
Kim sê veral die vurige woordewisselings tussen Teddy en Jonty het haar bygebly. Kykers moet ook nie te vinnig oor haar karakter oordeel nie. “Moenie die boek op sy voorblad beoordeel nie. Leer Teddy eers ’n bietjie ken,” sê sy.
Die jongste lid van die gesin, Renzo, is volgens Whaden ’n mengsel van sy ouers se persoonlikhede: “50% Jonty en 50% Teddy. Soos ’n double scoop roomys, die lekkerte van twee flavours.”
Hoewel die drie akteurs ’n fiktiewe gesin op die skerm vorm, het hulle vinnig ’n hegte band buite die stel ontwikkel. Hulle ondersteun mekaar en hou selfs groepoproepe om saam deur hul tonele te werk.
“Ons dra mekaar,” sê Kim, wat ook vertel dat sy en Whaden heelwat gemeen het. Albei is ouers en lewensmaats en hulle kom boonop van Mamre.
“Ons kom ook albei van Mamre en is trots daarop.”
Vir Ettienne is Renzo se bekendstelling aan kykers ’n besondere geleentheid. Hy vergelyk dit met ’n speler wat lank op die bank gesit het en uiteindelik die kans kry om die veld te betree.
Die Fortuins bring egter meer as net nuwe gesigte na Gemoedsdrif. Met hul eie geskiedenis en agtergrond hoop Ettienne dat kykers ook iets van hul eie gemeenskappe en mense in die gesin sal herken.
“Niemand weet wat om te verwag nie, want hulle ken ons nog nie. Ons bring stukkies van die plek en die mense saam van waar ons vandaan kom. Dit gee eer aan hulle en laat hulle deel voel van die hele storie, asof Jonty, Teddy en Renzo sommer om die draai kon gebly het.”
Met drie sterk persoonlikhede en ’n gesinsband wat reeds agter die skerms begin vorm het, is die Fortuins gereed om hul merk op Gemoedsdrif te maak.
Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie