Eiseb-weduwee eis byna N$4 m. van Namdia
Die weduwee van die Namib Desert Diamonds (Namdia)-sekuriteitsbeampte wat vroeg verlede jaar tydens ’n rooftog by hul hoofkantoor doodgeskiet is, eis N$3,89 miljoen van die diamantverhandelaar in staatsbesit.
Deur Metcalfe Beukes Attorneys eis Shirley Eiseb meer as N$5 miljoen aan skadevergoeding en voordele ná die dood van haar man, Francis Eiseb, wat op 18 Januarie 2025 tydens die gewapende rooftog dood is – ’n voorval wat ook een van die vermeende rowers dood op die toneel gelaat het.
Die Eiseb-gesin beskuldig Namdia daarvan dat hy versuim het om ’n veilige werksomgewing te voorsien.
Die eis, vervat in ’n amptelike eisdokument gedateer 18 Desember 2025, voer aan dat Namdia nie voldoende voorsorg getref het nie, ondanks dat hy bewus was van moontlike sekuriteitsbedreigings by sy hoëwaarde-diamantperseel.
Eiseb was, volgens die dokument, vanaf 2018 tot met sy dood by Namdia in diens as ’n senior sekuriteitsbeampte. Sy weduwee se regsverteenwoordigers beweer hy is tydens die diamantroof doodgeskiet terwyl hy sy sekuriteitspligte uitgevoer en binne die bestek van sy diens opgetree het.
Die familie voer aan dat Namdia, as sy werkgewer, ’n statutêre verpligting asook kragtens die gemenereg gehad het om sy veiligheid te verseker.
“Dit is ’n geykte beginsel dat ’n werkgewer ’n statutêre en sorgplig dra om ’n werksomgewing te voorsien wat veilig is, vry van onnodige risiko en behoorlik beveilig teen voorsienbare skade,” lui die dokument.
Die regspan verwys na Artikel 39 van die arbeidswet, wat vereis dat werkgewers veilige werksomstandighede, toepaslike beskermende toerusting en voldoende opleiding vir werknemers moet voorsien. Die gesin se prokureurs voer verder aan dat Namdia, as ’n staatsonderneming wat verantwoordelik is vir die beveiliging en verhandeling van Namibië se diamante, ’n verhoogde sorgplig dra gegewe die inherente risiko’s om sulke waardevolle nasionale bates te beskerm.
VOORAF GLO GEWAARSKU
Kern tot die eis is bewerings dat Namdia vooraf kennis gehad het van ’n moontlike rooftog by sy perseel, maar na bewering versuim het om voldoende sekuriteitsmaatreëls in te stel. Die prokureurs argumenteer dat gewapende rooftog by ’n diamantperseel ’n duidelike en voorsienbare risiko is.
Hulle sê Namdia se versuim om beskermende toerusting te voorsien, sekuriteitsprotokolle af te dwing of doeltreffende reaksiesisteme in stand te hou, kom neer op roekelose minagting van werknemers se veiligheid. Hulle beweer verder dat die voorval self nalatigheid aantoon en beroep hulle op die regsbeginstel van res ipsa loquitur, wat toelaat dat nalatigheid afgelei word uit die blote voorkoms van ’n gebeurtenis wat behoorlike voorsorgmaatreëls moes verhoed het.
Die eis verwys ook na vorige Namibiese regspraak oor werkgewersaanspreeklikheid en onregmatige versuim.
FINANSIëLE, EMOSIONELE TOL
Eiseb word oorleef deur sy vrou en twee afhanklike kinders, wat volgens die dokument volledig op hom staatgemaak het vir finansiële ondersteuning, onderhoud en mediese uitgawes.
Volgens die eis het die oorledene ’n maandelikse inkomste van N$54 612 verdien en ongeveer N$35 500 tot huishoudelike uitgawes bygedra. Sy gesin se eis vir verlies aan onderhoud word bereken op grond daarvan dat hy nog agt jaar diens tot aftrede op 65-jarige ouderdom oor gehad het. Hierdie berekening plaas die beweerde finansiële verlies op N$2,89 miljoen.
Die gesin eis ook N$1 miljoen vir emosionele skok, pyn en lyding. Die prokureurs sê die trauma is vererger deur die feit dat die gesin na bewering die noodlottige skietery gehoor het, aangesien hulle naby die Namdia-perseel gewoon het.
Die dokument voeg by dat die gesin sedertdien ernstige finansiële nood ervaar.
ONDERRIG, MEDIES
Benewens skadevergoeding eis die gesin bykomende ondersteuning van Namdia, insluitend mediesefondsdekking vir Shirley totdat sy aftree-ouderdom bereik, asook vir haar twee dogters totdat hulle studies voltooi is. Die prokureurs beklemtoon ook mediese uitgawes wat verband hou met ’n kind met diabetes, asook voortgesette gesondheidsorgbehoeftes vir die weduwee.
Die gesin eis verder N$113 630 om tersiêre onderrigkoste vir albei kinders te dek, tesame met ’n maandelikse studietoelae van N$5 000 vir elke kind tot en met hulle hul grade verwerf het.
Volgens die brief is die dogter, Faith, tans in haar tweede jaar van haar baccalaureusgraad in joernalistiek en mediategnologie aan die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust), terwyl haar suster, Zaphania, geregistreer het vir ’n baccalaureusgraad in tegnologie in kuberveiligheid aan die Nasionale Instituut vir Tegnologie.
Die brief lui dat die weduwee Namdia aanvanklik in Februarie 2025 genader het en voordele wat met haar man sterfte verband hou, versoek het. Die maatskappy het na bewering in Maart 2025 geantwoord, erken dat Eiseb aan diens gesterf het, maar aanspreeklikheid vir skade wat die gesin gely het, van die hand gewys. Die weduwee se prokureurs beskryf die reaksie as onvolhoubaar volgens die reg en moreel ontstellend.
“Om te erken dat ’n werknemer terwyl hy aan diens was sy lewe verloor het, maar tog verantwoordelikheid te ontken, is ’n skokkende ontkenning van beide regs- as morele plig,” lui die brief.
NAMDIA SE REAKSIE
In ’n daaropvolgende reaksie aan die prokureurs het Namdia die ontvangs van die brief bevestig en aangedui dat dit die eise oorweeg. Die maatskappy het gesê sekere voordele is betaalbaar aan die oorledene se boedel ooreenkomstig toepaslike regsvoorskrifte. Dit sluit in die skeidingspakket, opgehoopte verlof, pensioenfondsbydraes en sterftevoordele, asook ’n ongelukseis.
Namdia het egter gesê dit sal nie die bedrae van hierdie voordele bekend maak nie, met verwysing na vertroulikheid en het aangedui dat verdere besonderhede deur die gesin verkry kan word. Die maatskappy het nie aangedui of dit van plan is om aanspreeklikheid vir Eiseb se dood te aanvaar of te skik vir die skadevergoedingseis nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie