Foto ter illustrasie
Foto ter illustrasie

Vroeg ryp, vroeg vrot

Alkoholmisbruik onder minderjariges in Windhoek
Ondanks streng wetgewing en veiligheidsbeleide, waarsku bronne en ooggetuies dat kinders onder die ouderdom van 18 steeds maklik toegang tot klubs en kroeë kry.
Annemarie du Toit
Windhoek se naglewe is vir baie jongmense ’n aantrekkingskrag, maar volgens verskeie bronne lê daar ’n toenemende risiko verbonde aan die misbruik van drank deur minderjariges.

Ondernemings, bronne en ooggetuies skets ’n beeld van hoe jongmense soms maklik toegang tot alkohol en nagklubs kry, ondanks bestaande regulasies.

’n Jong klubpromotor van ’n bekende klub in die hoofstad, sê egter dat die gebruik van drank onder die wetlike ouderdomsbeperking al hoe meer algemeen geword het en dat jong mense dikwels maklik toegang tot klubs en alkohol kry.

Hy beskryf hoe vals identiteitsdokumente gebruik word en dat sommige persele doelbewus anderpad kyk, aangesien wins dikwels swaarder weeg as wetstoepassing. Hy sê die druk om te drink, en selfs om dwelms te gebruik, is vir jongmense selfs “normaal” of word as vanselfsprekend gesien.

TIENERMEISIES IS TEIKENS

“Baie jong meisies, soms so jonk soos 14 of 15, kuier in nagklubs en kroeë,” het hy gesê. “Ouer mans by hierdie persele is dikwels bewus van hul ouderdomme en bied dan drankies of vervoer aan. Die jongmense verstaan nie altyd die gevaar van sulke situasies nie en dit kan baie riskant wees.”

Hy meen ook dat jongmense dikwels nie besef watter risiko’s in klubs skuil nie en dat sosiale media ’n groot rol speel in die normalisering van hierdie gedrag. Volgens hom word die menslike impak dikwels geïgnoreer en dan kan die gevolge vir jong mense, veral meisies, traumaties wees.

Een jong vrou, wat saam met haar vriende sedert hul middel-tienerjare klubs besoek, sê toegang is deesdae “uiters maklik”. “Niemand vra meer vir identifikasie nie. Dit het dit baie maklik gemaak om alkohol te koop en van ’n baie jong ouderdom af dronk te word,” het die ooggetuie gesê. Die persoon beklemtoon dat strenger beheer moontlik beter besluite sou afdwing.

’n Ander ooggetuie vertel van ’n ontstellende ervaring tydens ’n familieverjaarsdag by 'n bekende sportkroeg. Sy sê iemand het vir haar jonger suster verjaardagdrankies gekoop, waarna sy siek gevoel het. Die ouer suster het aan haar sussie se drankie geproe en ook skielik siek geword.

“Dit het vir my duidelik gevoel dat iemand moontlik met die drankies gepeuter het (spiking). Ek sidder om te dink wat kon gebeur het as ek nie daar was nie,” het die persoon gesê.

REAKSIE

’n Nagklub en ’n aantal restaurante en kroeë sê hulle neem die veiligheid van hul gebruikers en wetlike verpligtinge uiters ernstig op. Hulle beskryf prosedures soos streng ouderdomsverifikasie, sekuriteit en toesig deur bestuur en opleiding van personeel om verdagte situasies te hanteer.

“Personeel word opgelei om geldige identifikasie te versoek waar dit nodig is en diens word sonder uitsondering geweier indien die ouderdom nie bevestig kan word nie,” sê ’n verteenwoordiger van ’n Windhoekse nagklub. In gevalle waar iemand kwesbaar voorkom, word veilige vervoer georganiseer en gepaste ondersteuning of wetstoepassers betrek indien nodig.

’n Ander restaurant het beklemtoon dat hulle geen formele klagtes teen hul perseel gehad het nie en ’n geen-verdraagsaamheid-benadering volg waar dit by identiteitsvervalsing kom. Hulle doen ’n beroep op ouers en jongmense om verantwoordelik te wees en enige bekommernisse onmiddellik aan te meld.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer