‘Kinders moet boeke besit’
Die Namibiese kinderboekskrywer, Hilma Weber, het die bibberkoue Saterdag in Ombili in Katutura, deurgebring waar sy 50 van haar kinderboeke, Children’s Picture Atlas of Africa, aan kinders van die gemeenskap uitgedeel het.
“Die kinders was gretig om my te vertel wat hulle van Afrika en die wêreld weet. Hierdie oomblikke herinner my altyd hoekom toegang tot boeke so belangrik is,” sê Hilma wat in ’n klein dorpie in die noorde van Namibië gebore is en sonder toegang tot boeke grootgeword het.
“Toe ek terugstap na my motor, het ek ouers buite hul huise sien sit en deur dieselfde boeke blaai wat hulle pas saam met hul kinders ontvang het. Sommige was reeds besig om die boeke met plastiek toe te maak sodat hulle langer sou hou,” het Hilma gesê.
Deur haar betrokkenheid by vroeë kinderontwikkelingsprogramme en haar eie ervaring uit haar kinderjare, het Hilma haar inspirasie gekry om kinderboeke te skryf.
“Vir my het hierdie werk nog nooit net oor boeke skryf gegaan nie. Dit gaan daaroor om geleenthede te skep vir kinders om boeke te ervaar en te besit. “Dit gaan daaroor om oomblikke te skep vir families om stories te geniet en die wêreld saam te verken.”
Hilma sê hierdie ervaring is nederig, maar dit is ook haar motivering om aan te hou doen wat sy doen.
Die skrywer, haar man en seun het vir ’n wyle Namibië vir Switserland verruil, maar hulle het teruggekeer na die land van sonskyn waar sy haar doelwit nastreef.
“Ek verbeel my die dag wanneer elke kind toegang tot boeke het en wanneer elke gemeenskap 'n biblioteek het.
“Elke boek wat in 'n kind se hande geplaas word, is 'n klein treetjie in die rigting van daardie verbeelding.”
Die Children’s Picture Atlas of Africa is ’n visuele en interaktiewe atlas vir jong lesers wat
die Afrika-vasteland wil verken. Die atlas bevat die ryk kulture, tradisies, wildlewe en natuurwonders wat Afrika werklik ’n buitengewone plek maak. Die
bedrywige stede, rustige dorpies en nedersettings, kuns en vele ander kenmerke van die vasteland kenmerk, is pragtig illustrasies van Alan Kennedy aangevul.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie