Karakter gevorm, waardes geleer
Sedert Februarie 1932 word aan karakter gebou en avonture beleef, met die Voortrekkers in Namibië wat reeds die afgelope 95 jaar ’n verskil in die lewens van kinders en jongmense maak.
Dit is nie bloot net ’n klub vir aktiwiteite nie, sê Elmine McCarthy van die Namibiese Voortrekkers.
“Dit is ’n kultuurbeweging wat
die jeug toerus om positiewe burgers en konsekwente Christene te wees. Ons fokus
op diensbaarheid, leierskap en karaktervorming deur praktiese ervarings in die
natuur en in spanverband – van tente opslaan tot kampvuurgesprekke,
vriendskappe smee, visvang en klomp avontuur en nuwe lewensvaardighede,” vertel Elmine.
Van graad een tot graad 12 en selfs volwassenes kan deel word van die Voortrekkers wat kinders en jongmense byeen bring met die
doel om hulle lewens op vaste beginsels te bou, sodat hulle met koers en
selfvertroue die toekoms kan ingaan, sê Elmine.
“In die natuur word karakter gevorm en
waardes aangeleer. En ons vier hierdie jaar die 95ste bestaansjaar!”
Elmine verduidelik dié benadering kry vandag besondere betekenis binne Die Voortrekkers se tema vir die jaar - Voortrekkers as ligdraers in die wêreld.” In ’n era van slimfone,
sosiale media en konstante afleiding aanlyn, kies Die Voortrekkers steeds ’n koers
waar die Bybel die rigting gee, sê Elmine. Tydens kampe en tussen braaivleis- en potbroodvure
leer kinders om tente op te slaan, berge uit te klim en hoe om aktief in hul gemeenskappe betrokke te raak.
“Ook hier in Namibië word die lig dan deur ons lede uitgedra deur hulle voorbeeld, diens en betrokkenheid. Voortrekkers word aangemoedig om, weg van skerms, verhoudings en leierskap te
ontwikkel. Hulle leer hoe om vraagstukke oor die lewe op ’n sinvolle manier te bespreek en verantwoordelik te leef in ’n wêreld vol diversiteit en uitdagings.”
Diens word ’n leefstyl; kreatiwiteit ’n hulpmiddel om struikelblokke te oorkom en geloof en
hoop die dryfveer vir môre.
Die verhaal van Die Voortrekkers is een van die Afrikaner se mooiste kultuurstories, sê Elmine, is
’n verhaal van deursettingsvermoë, toewyding en opoffering, waar lewenslange vriendskappe gesmee word en volwassenes ’n blywende invloed in jongmense se
lewens het.
“Die Voortrekkers is ook ’n gesellige familiehuis waarby die hele gesin betrokke kan
raak en waar almal welkom is wat hulle vereenselwig met die Voortrekkers se
verbintenis aan die Drie-enige God, asook die kultuur en geskiedenis van die Afrikaner. Ons ideaal is om kinders daaraan bloot te stel terwyl hulle die grootheid van die Skepper en die skepping kan ervaar. Die balans tussen kultuur, avontuur en natuur vorm die kern van ons kan-filosofie.”
Hulle bou nie net aan vandag nie, verduidelik sy, maar aan die toekoms van ons land. In ’n wêreld
vol druk en kompetisie bied Die Voortrekkers eenvoud, kameraadskap en avontuur. Sukses word nie gemeet aan prestasie nie, maar aan die vreugde van deelname, beklemtoon Elmine.
“As ’n jeuglid aan die einde van die jaar kan sê: ‘Voortrekkers was vir my super lekker,’ dan weet ons die lig brand helder!”
Projek Ligpunt is vanjaar 'n wêreldwye Voortrekkerinisiatief wat daarop gerig is om 'n kultuur van empatie, begrip en inklusiwiteit te vestig. Die fokus is op gestremdhede – sigbaar én onsigbaar – en hoe Voortrekkers 'n ligpunt kan wees in hul gemeenskappe. Vir meer inligting hieroor en om deel van die Voortrekkers te word, besoek die webtuiste www.voortrekkers.co.za asook die Facebookblad Namibie Voortrekkers (sonder die deelteken). - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie