‘G’n geld teruggehou in jeugskema’
Die minister van finansies het die Jeugfonds van N$257 miljoen verdedig, bewerings van teruggehoue betalings ontken en volgehou dat die volle toekenning onaangeraak is, selfs terwyl vrae toeneem oor tussengangers en vertraagde uitbetalings.
Ericah Shafudah het bevestig dat die regering sleutelinstellings wat toesig oor die fonds hou, betrek het.
“Ons kan bevestig dat ons met die Environmental Investment Fund (EIF) vergader het, asook met die Speaker se toestemming onder leiding van die eerste minister, al drie finansieringsinstellings vir ontwikkeling (DFI’s) ontmoet.” het sy Dinsdag in die parlement gesê.
“Ons het die nakoming van riglyne, uitgereik deur die regering, vir die implementering van die Jeugfonds beklemtoon.”
Haar antwoorde het gevolg op vrae van die leier van Affirmative Repositioning (AR), Job Amupanda, wat kommer uitgespreek het oor die rol van tussengangers in die fonds se uitvoering.
“Ek vra veral oor die saak rakende die tussengangers wat by die Jeugfonds betrokke is,” het Amupanda gesê. Hy het die ingryping van die regering erken, maar gewaarsku oor nuwe uitdagings: “Voorheen is tussengangers ingebring en hulle het begin om hul eie reëls te maak.
“Deur regeringsingryping het die Environmental Investment Fund (EIF) hierdie tussengangermaatskappy opdrag gegee om die oorspronklike beoordelingsproses te volg.”
Amupanda het die regering daarvoor bedank.
“Die situasie lyk egter nou meer ingewikkeld. Sommige begunstigdes het ontdek dat die tussenganger nie in staat is om die fondse uit te betaal nie, omdat die EIF nou daarop aandring dat die geld volgens behoorlike prosedures versprei word.
“Die tussenganger blyk nie in staat te wees om die regeringsfondse korrek uit te betaal nie.”
Amupanda het gesê begunstigdes word na bewering benadeel: “Tans word begunstigdes glo meegedeel dat as hulle vir N$1 miljoen kwalifiseer, hulle nou net N$500 000 sal ontvang, met die oorblywende N$500 000 wat in die tweede kwartaal vrygestel sal word. Maar hierdie fondse van die regering is nie in paaiemente toegewys nie.”
Hy het verder meer duidelikheid oor die hantering van die fondse geëis.
“Wat sê die Environmental Investment Fund oor hierdie situasie en hoe gee hulle rekenskap oor die regeringsfondse wat vir die jeug bedoel is?” het hy gevra.
“Het die implementeringsagentskap, Agribank, EIF en die Ontwikkelingsbank van Namibia (DBN) die fondse verwerk en dit na die tussenganger se rekening gestuur? Is dit wat werklik gebeur het?” vra Amupanda.
Hy het ook bewerings van moontlike misbruik geopper: “Is dit waar dat die tussenganger moontlik regeringsgeld misbruik het, dalk selfs persoonlike items gekoop het, terwyl die volle uitbetaling vertraag is?”
TUSSENGANGERS
Met betrekking tot kommer oor tussengangers en fondsbestuurders het Shafudah gesê die regering het die rol van fondsbestuurders of batebestuurders bespreek. “Hulle het aangevoer dat interne prosedures ruimte vir bykomende kriteria laat, maar ons het dit duidelik gemaak dat geen bykomende vereistes bo en behalwe die regeringsriglyne, soos sekuriteit, opgelê moet word nie.
“Die fondsbestuurders is verantwoordelik om fondse uit te betaal aan ontvangers van toekennings wie se projekte suksesvol geëvalueer is,” het sy gesê.
Oor klagtes dat begunstigdes slegs gedeeltelike uitbetalings ontvang, het sy gesê: “As fondse in fases vrygestel word, byvoorbeeld N$500 000 nou en die res later, is daardie besluit in oorleg van die fondsbestuurders.”
Shafudah het egter enige bewerings van staatsinmenging om fondse terug te hou, ten sterkste verwerp.
“Enige bewering dat die regering fondse terughou, is vals. Die volle N$257 miljoen wat vir die fonds toegewys is, is beskikbaar.”
Sy sê sommige vertragings kan te wyte wees aan die beoordeling van die aansoeker se vermoë om die projek doeltreffend te implementeer.
“Evaluerings verseker dat die fondse nie vermors word nie. As ’n aansoeker die evaluering slaag, behoort die fondse dienooreenkomstig uitbetaal te word,” het die minister bevestig.
“Ons bly in voortdurende kommunikasie met die DFI’s om te verseker dat die Jeugfonds aan die verwagtinge voldoen,” het sy gesê.
By die Statebond se Jeugdialoog verlede jaar het die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, aangekondig dat die kabinet N$257 miljoen vir die Nasionale Jeug Ontwikkelingsfonds (NYDF) goedgekeur het.
Die toekenning vorm deel van ’n breër verbintenis van N$500 miljoen vir die 2025-’26-boekjaar, gemik daarop om jeugwerkloosheid te takel, asook die bevordering van entrepreneurskap in sleutelsektore soos landbou, groen inisiatiewe en vervaardiging.
Steenkamp se adjunkminister, Dino Ballotti, het bevestig dat die fonds uitsluitlik vir mense tussen 18 en 35 jaar is.
By Internasionale Jeugdag op 12 Augustus het Ballotti gesê “selfs ek kwalifiseer nie vir die fonds nie” en sodoende die streng ouderdomsperk beklemtoon.
Hy het bygevoeg dat ’n sleutelkenmerk van die fonds is dat dit nie sekuriteit vereis nie, wat dit toeganklik maak vir jong entrepreneurs sonder beduidende bates.
DRIE KATEGORIEë
Die NYDF bied lenings in drie kategorieë, naamlik aanvangsinisiatiewe tussen N$60 000 en N$200 000, entrepreneursprojekte van meer as N$200 000 tot N$1 miljoen, en groter ondernemings, hoofsaaklik klein- en medium-ondernemings wat N$1 miljoen oorskry.
Rentekoerse wissel van 2% tot 4%, met terugbetalingstydperke van tot vyf jaar en ’n grasietydperk van 12 maande.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie