Van die deelnemers by die NYC se algemene jaarvergadering wat deur visepresident Lucia Witbooi geopen is. Foto verskaf
Van die deelnemers by die NYC se algemene jaarvergadering wat deur visepresident Lucia Witbooi geopen is. Foto verskaf

Geweld ontsier Jeugraad-verkiesing

Nege beseer, vier in hospitaal opgeneem
Die Nasionale Jeugraad se algemene jaarvergadering Saterdag op Swakopmund is deur aanrandings, traangas en beserings ontsier.
Adam Hartman

Geweld wat tydens die Nasionale Jeugraad se algemene verkiesing op Swakopmund die naweek uitgebreek het, het nege deelnemers beseer gelaat en die verkiesingskomitee gedwing om te bedank. Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur was ook genoodsaak om die proses uit te stel.

Die algemene vergadering wat Vrydag begin het, sou na verwagting die raad se nuwe leierskap vir die volgende vier jaar verkies. In plaas daarvan is die proses deur Saterdagaand se geweld oor geskille oor nakoming, verifiëring van afgevaardigdes en padkaart vir die verkiesing tot stilstand geruk. 

Die ministerie het gister in ‘n verklaring bevestig dat Saterdag se verrigtinge deur wat beskryf is as “onaanvaarbare, onordelike gedrag en geweld” ontwrig is. Nege deelnemers het beserings opgedoen en mediese hulp ontvang. Almal is sedertdien ontslaan.

Minister Sanet Steenkamp en adjunkminister Dino Ballotti het vier geraakte individue in die hospitaal besoek.

“Die ministerie veroordeel hierdie geweld ten sterkste. Geen grief regverdig skade nie,” lui die sterkbewoorde verklaring.

Die verkiesingskomitee wat die gebeure gade geslaan het, het gister met verwysing na veiligheidskwessies met onmiddellike effek bedank. Volgens die ministerie is die komiteelede en die tussentydse raad “aansienlik” deur die gebeure geraak. In die belang van veiligheid en orde het Steenkamp besluit om die voortsetting van die algemene vergadering uit te stel. Volglens die ministerie is ‘n petisie van verskeie affiliasies en streekjeugforums ontvang wat kommer uitgespreek het oor nakoming, verifiëring van afgevaardigdes asook ‘n goedgekeurde padkaart vir die verkiesing. 

“Hierdie sake bly onopgelos en moet behoorlik aangespreek word voordat die algemene vergadering op 'n toekomstige tydstip verantwoordelik kan hervat,” lui die ministeriële verklaring.

“Die wetlikheid van die algemene algemene vergadering hang af van 'n wettige, deursigtige en geloofwaardige proses,” het Steenkamp beklemtoon. 

Daar word verwag dat die tussentydse raad en relevante strukture die uitstaande kwessies sal aanspreek en die pad vorentoe, insluitend tydlyne, sal kommunikeer.

Bronne binne die vergadering het aan Republikein gesê Saterdagaand se geweld het uitgebreek nadat een faksie glo probeer het om die verkiesing te keer.

Een bron beweer lede van die verkiesingskomitee en polisie is aangerand, stoele is gegooi en traangas is gebruik.

“Traangas is gegooi om te keer dat die verkiesing nie plaasvind nie,” het een bron gesê. Volgens die bron het mense weens die traangas flou geword, terwyl ‘n ander beweer daar was bloed weens die “geweldadige” optrede in die lokaal. Nog ‘n bron het beweer hulle is tydens die oproer “gejaag en gedreig”. 

Bogenoemde bewerings van traangas, floutes, bloed en aanrandings kon teen druktyd nie onafhanklik geverifieer word nie. 

Videomateriaal van die chaos tydens die vergadering kon wel sommige van die bewerings bevestig. 

Bronne beweer ook  ‘n persoon wat as kandidaat vir die NYC-raad staan, is na bewering deur die polisie aangehou omdat hy glo ‘n polisiebeampte aangerand het. Die polisie is oor die bewering genader, maar geen reaksie is teen druktyd ontvang nie. 

Die geweld volg op vroeëre geskille oor die raad se  verkiesingsproses.

'n Senior NYC-verteenwoordiger wat vertroud is met die verrigtinge, het vroeër aan Republikein gesê van die verwarring spruit voort uit die interpretasie van logistieke lyste wat gebruik word om vervoer en verblyf vir afgevaardigdes te reël.

Volgens die verteenwoordiger bestaan ​​die algemene vergadering uit vier afgevaardigdes van elke streek se jeugforum en vier afgevaardigdes van elke nasionale geaffilieerde organisasie.

Sommige lyste groepeer afgevaardigdes volgens waar hulle vandaan reis, eerder as watter struktuur verteenwoordig word. Dit kan volgens die verteenwoordiger die indruk skep dat een streek meer afgevaardigdes as 'n ander het, terwyl sommige mense wat gelys is, in werklikheid nasionale geaffilieerde organisasies verteenwoordig en nie ‘n streek se jeugforums nie.

“As iemand 'n lys van ||Kharas sien wat net uit vier afgevaardigdes bestaan ​​en jy sien 'n lys van Omaheke wat 14 het, moet jy uit daardie 14 weet dat slegs vier die streek se jeugforum verteenwoordig. Die tien behoort verskillende organisasies te verteenwoordig,” het die verteenwoordiger gesê.

Volgens hom is die geskille aan die leierskapstryd gekoppel.

“Dit is net suiwer politiek. Dit behoort nie die proses van die algemene vergadering te stop nie,” het die verteenwoordiger gesê.

Bronne binne die proses beweer ook dat een faksie nie wou hê die verkiesing moet voortgaan, omdat hulle nie die getalle het om te wen nie. Volgens die bron is die betrokke faksie glo aan die Jeugliga gekoppel. Dit kon egter nie onafhanklik geverifieer word nie.

Die stryd om uitvoerende voorsitter lê na bewering tussen die jeugleiers Ester Simon en Simon Taapopi.

Die leierskapsverkiesing is onder druk omdat die proses, volgens 'n senior NYC-verteenwoordiger, steeds voltooi moet word om aan 'n hofooreenkoms te voldoen.

“Ons moet die verkiesing hou, want ons het 'n hofooreenkoms wat ons teen nie later nie as 30 Junie moet oorhandig” het die verteenwoordiger gesê.

Die algemene vergadering is deur visepresident Lucia Witbooi geopen wat in haar toespraak gewaarsku het die geloofwaardigheid van die verkiesing hang af van beide die proses en die uitkoms wat gerespekteer word.

“'n Verkiesing is slegs die moeite werd om te hou as beide die prosesse en die uitkoms daarvan respek afdwing,” het Witbooi gesê.

Sy het afgevaardigdes aangespoor om te stem volgens die reëls wat deur die vergadering aangeneem is, die uitslae te aanvaar sodra dit aangekondig is en te ondersteun wie ook al verkies word. 

Die ministerie het die algemene vergadering beskryf as deel van die proses om stabiliteit in die NYC na bestuurs- en bedryfsuitdagings te herstel. - [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-06-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer