Geleentheid om die Noordpool te verken

’n Wetenskaplike avontuur
In 2024 was 'n Suid-Afrikaanse leerling van die eerstes uit Afrika wat na die Noordpool en terug gereis het.
Augetto Graig
Plaaslike skoolleerlinge word aangemoedig om die geleentheid aan te gryp om deel te wees van die sesde “Icebreaker of Knowledge”-projek en ’n wetenskaplike avontuur na die Arktiese streek op ’n kern-aangedrewe ysbreker.

Die keuringsproses het aan die einde van April 2025 afgeskop.

Leerlinge van 20 lande oraloor Eurasië, Afrika en Suid-Amerika neem aan die kompetisie deel. Vanjaar word leerlinge tussen 14 en 16 jaar oud van onderskeidelik Namibië, Suid-Afrika, Ghana en Egipte spesifiek genooi om deel te neem. In 2024 was ’n Suid-Afrikaanse leerling van die eerstes uit Afrika wat na die Noordpool en terug gereis het.

Oor die afgelope ses jaar kon die projek meer as 350 leerlinge betrek om aan die ekspedisies, wat deur die Russiese kernkragkorporasie (Rosatom) en die Russiese kernkrag-bedryfsinligtingsentrum (NIIC) georganiseer word, deel te neem.

Die uitslae van die proses sal in Junie bekend gemaak word, volgens Rosatom Afrika.

“Die Icebreaker of Knowledge-projek gee jongmense in Afrika ’n platform om hul potensiaal op ’n globale verhoog ten toon te stel.

“Wetenskap ken geen grense nie en die Arktiese ekspedisie is ’n unieke kans om eweknieë van verskillende lande te ontmoet, saam te werk aan werklike wetenskaplike uitdagings en eerstehands te sien hoe vernuwing die wêreld se toekoms vorm.

“Ons moedig leerlinge van Ghana, Suid-Afrika, Namibië en oraloor die vasteland aan om hierdie geleentheid aan te gryp,” sê Ryan Collyer, die uitvoerende hoof van Rosatom in sentraal en Suider-Afrika.

Die kompetisie word tot 8 Junie aanlyn op die webwerf https://goarctic.energy aangebied.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer