Oudburgemeester in boedelgeskil
Nikanor Nangolo en Sonja Smith
Die voormalige burgemeester van Windhoek, Agnes Kafula, is in ’n hoërhofgeskil vasgevang oor ’n eiendom met ’n familielid wat die huis bewoon wat Kafula se aanspraak op die eiendom en die omstandighede waaronder dit aan haar oorgedra is, bevraagteken.
Die eiendom, Erf 2036 in Khomasdal se Uitbreiding 12, is die onderwerp van ’n saak waarin Kafula die uitsetting van Reginald Iipinge en alle ander inwoners vereis.
Die geskil draai om die eienaarskap van die eiendom ná die dood van Kafula se voormalige man, afgetrede kolonel Shaanika Kafula, in Maart 2019.
Die hofstukke sit drie duidelik afgebakende standpunte oor die eiendom uiteen.
In haar beëdigde verklaring sê Kafula sy is die regmatige eienaar van die eiendom en geregtig daarop dat Iipinge en die ander inwoners uitgesit word.
“Ek is die wettige eienaar van die eiendom geleë op Erf 2036, Khomasdal, Windhoek. Daar is geen ooreenkoms tussen myself en Iipinge wat Iipinge of enigiemand wat saam met die verweerder woon, magtig om op my eiendom te woon en/of dit te okkupeer nie.
“Daarom is Iipinge in onregmatige okkupasie van die eiendom,” het sy gesê.
Kafula se saak spruit uit haar huwelik met die wyle Shaanika, met wie sy binne gemeenskap van goedere getroud was.
Volgens die hofstukke is hul huwelik op 13 Junie 2016 deur die hoërhof ontbind.
Kafula hou vol dat sy, ná die bereddering van haar oorlede man se boedel, geregtig is op sy belang in die Khomasdal-eiendom en dat die eiendom in haar naam oorgedra is.
Iipinge, wat tans die eiendom bewoon, betwis Kafula se eienaarskap en die geldigheid van die oordrag.
In sy pleit en teeneis sê Iipinge hy het in 2012 in die huis ingetrek om na sy oom, Shaanika Kafula, tydens sy siekte om te sien.
Hy het gesê die voormalige burgemeester het teen daardie tyd reeds in daardie jaar die huwelikshuis verlaat en dat ná die egpaar se egskeiding, sy oom die regmatige eienaar en inwoner van die eiendom gebly het.
Shaanika is op 21 Maart 2019 in Ongwediva Medipark oorlede. Sy seun, Leonard Kafula, is as eksekuteur van sy boedel aangestel.
“Iipinge ontken dat Kafula die regmatige eienaar van Erf 2036, Windhoek is,” lui die hofstukke.
“Nie die erfgename of die eksekuteur is in kennis gestel van enige aansoek om die bekragtiging van die titelakte ingevolge die Akteregistrasiewet 47 van 1937 nie.”
Iipinge beweer dat die magtiging wat die eiendom aan Kafula oorgedra het, op 25 Oktober 2022 gemaak is, etlike jare ná Shaanika se dood – sonder die kennis of goedkeuring van die eksekuteur of erfgename.
Iipinge sê hy het tussen 2012 en 2024 sowat N$200 000 aan herstelwerk, opknappings, verbeterings, toestelle, meubels en sekuriteitstelsels op die eiendom bestee.
Sy teeneis sluit ook N$28 653 in wat hy sê ’n uitstaande saldo op Stad Windhoek (CoW) se waterrekening was om die eiendom te onderhou.
FAMILIEBYEENKOMS
’n Getuieverklaring wat ter ondersteuning van Kafula se saak ingedien is, verwys ook na ’n familiebyeenkoms ná wyle Shaanika se dood.
Rauha Nikanor, tradisionele hoof van die Iipumbu-nedersetting onder die Uukwambi Tradisionele Owerheid, sê ’n vergadering is in 2019 gehou om die bates van die oorledene te bespreek, veral dié wat op kommunale grond geleë is en aan tradisionele gebruike onderworpe is.
Die vergadering is volgens Nikanor deur wyle Joel Uutoni gelei.
Nikanor ontken dat sy ’n brief gegee het waarin staan dat Erf 2036 aan Iipinge gegee moet word.
“Ek het geen brief aan wyle mnr. Joel Uutoni of aan enige ander persoon gegee waarin staan dat Erf 2036, Khomasdal (Uitbreiding 12), Windhoek, wat aan wyle Marti Shaanika Kafula behoort het, aan Iipinge gegee moet word nie.
“Ek is ook nie bewus daarvan dat enigiemand by die vergadering gesê het dat die genoemde eiendom aan Iipinge gegee moet word nie,” het Nikanor gesê.
Sy sê die enigste uitspraak wat sy van Uutoni onthou, was dat die huis onder die munisipaliteit se beheer is.
In ’n telefoniese onderhoud met Republikein Maandag het Kafula gesê die saak is nog nie afgehandel nie.
“Ek kan nie regtig nou kommentaar lewer oor die saak nie, want dit is nie afgehandel nie. Ons wag nog,” het sy gesê.
BOEDEL BETWIS OORDRAG
Leonard Kafula, die eksekuteur van sy oorlede pa se boedel, betwis die gebeure rondom die oordrag van die eiendom aan sy ma.
In sy verklaring sê Leonard sy pa het sy neef, Iipinge, gevra om in 2012 in die eiendom in te trek om na hom sy pa om te sien en het bedoel dat hy op lang termyn daar moes bly.
Leoanrd sê hierdie wens is weer bevestig by ’n “Omwaale”-byeenkoms in 2019 wat deur familielede bygewoon is, insluitend Kafula self. (Tydens ’n “Omwaale”-byeenkoms kom familielede byeen om die bates van ’n oorledene te bespreek.)
“Die familie-oudstes het my pa se instruksie bevestig dat Reginald op die eiendom moet bly. Kafula het dit destyds nie betwis nie en het selfs haar oorblywende besittings in 2019 uit die huis verwyder,” het Leonard gesê.
Hy sê verder dat hy, in sy hoedanigheid as eksekuteur, Iipinge se voortgesette okkupasie van die eiendom en enige aansprake wat hy daarop mag hê, bekragtig het.
Hy sê Kafula het in 2020 vergoeding geëis vir verbeterings wat sy aan die eiendom aangebring het, waarna ’n betaling van N$400 000 aan haar gemaak is.
“Dit was my begrip as eksekuteur dat hierdie betaling alle geskille oor die huis tot ’n einde sou bring,” het Leonard gesê.
Hy betwis dat hy die oordrag van die eiendom aan Kafula gemagtig het.
Leonard sê hy is in Oktober 2022 na Standard Bank op Okahandja ontbied om “dringende dokumente” te teken sodat boedelfondse vrygestel kon word.
Volgens sy verklaring is die dokumente nie gelees of aan hom verduidelik nie en hy het later ontdek dat sy handtekening gebruik is op ’n skikkingsooreenkoms van 29 Augustus 2022 en ’n aansoek om bekragtiging van die titelakte.
“Ek het nie geweet ek teken die huis oor aan Kafula nie en ek het nooit ENS Africa of enige aktebesorger gemagtig om die eiendom oor te dra nie,” het hy gesê.
Leonard sê hy is mislei om die skikkingsooreenkoms te teken en het nie toestemming gegee dat Kafula as die enigste eienaar gemagtig word nie.
“Weens die teenstrydighede in die boedel se totale waarde, wat ek op meer as N$4,5 miljoen beraam in vergelyking met die veel laer bedrae wat uitbetaal is en die ongemagtigde oordrag van die eiendom, het ek hierdie onreëlmatighede amptelik by die owerhede aangemeld,” het Leonard gesê.
“Daar is tans ’n strafsaak by die Otjomuise-polisiestasie geopen wat die aard van die dokumente en die optrede van die betrokkenes by die boedeladministrasie ondersoek,” het hy gesê.
Volgens dokumente is die saak in Junie 2024 geregistreer.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie