Suid-Korea gooi flikkers vir kritieke minerale

Samsung op soek na plaaslike geleenthede
Suid-Korea se regering steun afgevaardigdes van groot maatskappye se besoek aan Afrikalande.
Augetto Graig
“Samsung SDI sal sy vaardighede verder opgradeer deur met Namibië te begin saamwerk en in die bestuur van die waardeketting vir die voorsiening van litium betrokke te raak.

“Samsung SDI se deur is, soos altyd, oop om by te dra tot die waardeketting en bronverryking. Dit sal wonderlik wees as dit vandag met Namibië kan begin.”

Die visepresident van Samsung SDI, Kyunghun Pee, was gister aan die woord by die eerste Namibië-Korea-sakeforum oor energie en hulpbronne in Windhoek.

Kyunghun Pee het uitgebrei oor die kundigheid wat sy onderneming oor 24 jaar opgedoen het om nou met die voorste kennis van chemie, die massaproduksie van produkte van onbeperkte gehalte wat op veiligheid gebaseer is, en wêreldwye bedrywighede te kan spog.

Die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) het die forum gereël en is onder meer deur die minister van myne en energie, Tom Alweendo bygewoon; asook Suid-Korea se ambassadeur in Namibië, Choi Kwang-jin; die president van die Koreaanse Energie-agentskap, Sanghoon Lee; en die sekretaris-generaal van Korea se tenderkomitee vir die Wêreld Ekspo 2030, Yoon Sang Jick.

Die presidensiële ekonomiese raadgewer, James Mnyupe, het as seremoniemeester opgetree. Volgens hom het die afvaardiging vyf ander Afrikalande besoek en Namibië is die laaste stilhoupunt voor hulle huiswaarts keer.

Volgens Yoon Sang Jick, ook self voorheen ’n presidensiële raadgewer, en ’n voormalige minister van handel, nywerheid en energie, is Suid-Korea ongeëwenaard in terme van die wêreld se beste tegnologie en grootste produksiekapasiteit vir hoë tegnologiese toestelle wat kritieke minerale benodig.

Behalwe vir China het Suid-Korea 54% van die wêreld-markaandeel in terme van die vraag na minerale vir batteryproduksie, byvoorbeeld litium.

“As jy nie na China uitvoer nie, is die laaste bestemming outomaties Korea,” brei hy uit. Hy het gesê die afvaardiging sluit ook verteenwoordigers van LG, SK en ander groot Koreaanse ondernemings in.

“Ek is baie bly om hier te wees omdat Namibië ryk is aan mineraalhulpbronne. Julle is ryk aan olie en gas en julle het ’n plan vir koolstofvrystellings, om julle nywerhede vir die energieoorgang te ontwikkel.

“Die doel van hierdie afvaardiging is om die fondament vir die samewerking tussen twee lande te lê, wat begin by die ontwikkeling van mineraalhulpbronne,” sê hy.

“Dit is waar dat Suid-Korea nogal laat hier aankom, maar ek glo dit is tyd om die ontwikkeling ons sakeverhouding te versnel,” het hy gesê.

“Ons afvaardiging dek die hele waardeketting, behalwe mynbou, en ons is meer geneig om ons besighede uit te brei in die rigting van raffinaderye,” het hy gesê.

Yunkyung Park het namens die Koreaanse Energie-agentskap gesê Suid-Korea wil sy eie opwekking van hernubare energie oor tien jaar met tien maal vergroot, waarvoor die land 5 GW van hernubare kragbronne elke jaar moet vestig.

Dus word die hernubare energiesektor bevorder asook sonkragpanele, sonkrag vir die boubedryf, die waardeketting van die windkragbedryf en bio-energie. ’n Bykomende oorsese projek vir mineraal-waardetoevoeging duur ook voort, voeg sy by.

Alweendo het vroeg die oggend reeds klem op plaaslike waardetoevoeging geplaas.

“Ons wil ’n ontwikkelde land word, soos julle, en vir ons om daar te kom verg samewerking. Ons het die regte bestanddele; energie en hulpbronne en soek steeds beleggers in ons ekonomie, maar die beleggings moet wen-wen-uitkomste bring,” het die minister gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer