Die minister van internasionale betrekkinge en handel, Selma Ashipala-Musavyi saam met die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov.
Foto mid.ru
Die minister van internasionale betrekkinge en handel, Selma Ashipala-Musavyi saam met die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov. Foto mid.ru

Russiese grootkoppe op pad

Wedersydse ekonomiese samewerking
Die Namibiese minister van internasionale betrekkinge en handel het tydens haar besoek aan Moskou met haar Russiese eweknie Sergey Lavrov, gesprekke gevoer.
Augetto Graig
Die minister van internasionale betrekkinge en handel, Selma Ashipala-Musavyi, sê sy sien uit daarna om haar Russiese eweknie Sergey Lavrov, asook adjunk- eerste minister Yury Trutnev in Februarie in Namibië te verwelkom.

Ashipala-Musavyi het gister deelgeneem aan 'n regstreekse mediakonferensie met Lavrov vanuit waar sy hierdie week vir drie dae op besoek aan die Russiese hoofstad Moskou was. Volgens haar het sy en Lavrov onder meer kwessies oor die geskiedkundige en strategiese betrekkinge tussen Namibië en Rusland bespreek, saam met wedersydse ontsteuning tussen die twee lande se parlemente en regerende partye. Handelsbevordering tussen die twee lande is ook hoog op die agendalys met groter samewerking op die gebiede van landbou, sport, die kreatiewe bedrywe, gesondheid, onderwys, grond, behuising en sanitasie wat uitgeken is as moontlike samewerkingsgeleenthede.

“Ons wil ekonomiese inhoud by ons verhouding voeg,” het Ashipala-Musavyi gesê en bygevoeg dat daar geleenthede vir albei lande se private sektore bespreek word.

Op sy beurt het Lavrov gesê dat daar reeds in Rusland gesprekke oor geologiese eksplorasie, die ontginnig en verwerking van minerale en Rusland se kernkragreus Rosatom gehou. Verder sal samewerking in landbounywerhede en visserye ook voortduur, sê hy.

Die interregeringskommissie van handel, ekonomiese, wetenskaplike en tegniese samewerking tussen Rusland en Namibië sal in Februarie in Windhoek vergader. Sedert die kommissie laas in 2024 vergader het, is dit nodig om spesifieke voorstelle te formuleer, sê hy: “Baie Russiese ondernemings stel belang,” sê Lavrov.

Verdere samewerking rakende die opleiding van mediese personeel sal voortbou op die opleiding wat duisende Namibiërs in Rusland reeds geniet het, volgens Lavrov, en kultuur, sport en veral toerisme bied ook goeie vooruitsigte, sê hy.

VENEZUELA

In reaksie op 'n vraag van 'n joernalis van Rusland se staatsbeheerde Sputnik Africa-mediakanaal oor Venezuela, het Ashipala-Musavyi die beweerde Amerikaanse inval en ontvoering van president Nicolás Maduro as 'n ongelukkige gebeurtenis beskryf.

“Namibië het onmiddellik 'n verklaring van ons ontsteltenis uitgereik. Dit was 'n blatante skending van internasionale reg en die VN-Handves. Venezuela is deel van die globale Suide en 'n produk van weerstand. Ons het na koloniale gebiede verwys en daarop aangedring dat ons verby dit is en nie daarna wil terugkeer nie.

"Ons het die noodvergadering van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad ondersteun en is bly dat dit plaasgevind het, hoewel min lande die geleentheid gekry het om hul sienings daar uit te spreek. Die stem wat ons het, is ons wapen om sterk op te staan ter verdediging van internasionale reg en die VN-Handves,” het sy gesê.

Volgens Lavrov staan Namibië en Rusland gereeld saam om gedeelde standpunte by the VN te ondersteun. Rusland steun Afrika se aandrang op hervorming van die Veiligheidsraad en groter verteenwoordigheid vir die vasteland daar. Die twee lande werk ook saam om Nazisme te bekamp, inligtingstegnologie-sekuriteit te bevorder, die vreedsame gebruik van die ruimte te ondersteun, ontwapening aan te moedig en om neokolonialisme hok te slaan, sê hy.

Volgens Lavrov is Venezuela 'n voorbeeld dat die Weste besig is om neokolonialisme te herleef.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer