Midde-Ooste brand
Te midde van Amerika en Israel se militêre aanslag op Iran, is daar talle Namibiërs wat in die Midde-Ooste woon en werk.
Iran het reeds begin met teenaanvalle in Katar, Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein, Jordanië, Irak, Saoedi-Arabië en Israel. Al hierdie lande huisves Amerikaanse militêre basisse.
’n Namibiese onderwyser in Koeweit, René Reid van Langstrand het gister aan Republikein ’n video gestuur van die aanvalle op die stad, maar bevestig hulle is veilig.
“Ons to-go sakkie is gepak. Ons gee aanlyn klasse. Missiele en hommeltuig-aanvalle word by ons onderskep. Hopelik kalmeer dinge.
“Die klomp Britte en Suid-Afrikaners werk mekaar op en is paniekerig. Ek dink dinge is onder beheer vir nou. Die jong klomp weet mos niks van oorlog nie,” sê Reid wat in die tagtigerjare op Katima Mulilo midde die grensoorlog grootgeword het.
Reid se familie is oor die Midde-Ooste versprei. Haar man, Steven, werk by Fujaira in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), waar sy dit as rustig beskryf. Haar jonger suster Heidi Becker Hanekom is bly ses kilometer van Reid af en haar jongste suster Anke Becker woon en werk in Riaad in Saoedi-Arabië.
DUBAI
Die lugruim is bo Katar en die VAE gesluit met talle vlugte van die lugrederye Qatar en Emirate wat gesluit is.
’n Namibiese vlieënier wat vir ’n lugredery in die Emirate vlieg, sou Saterdag Japan toe vlieg, maar sit nou gestrand nadat die Dubai Internasionale Lughawe deur missiele van Iran getref het, het sy ma in Windhoek gister aan Republikein gesê.
“Agter sy huis in Dubai is ’n militêre basis waar dit rof gaan,” het sy bekommerde ma gesê.
Weens ’n vertroulikheidskontrak met sy lugredery mag sy naam nie genoem word nie en mag hy nie met die media praat nie.
Hy het egter in ’n stemboodskap gesê inwoners is beveel om binnenshuis te bly. Hy het gesê ondanks die ontploffings sowat elke twee ure, gaan alles normaalweg voort met elektrisiteit en water wat beskikbaar is en aflewerings wat gedoen word.
“Ons gaan nou weer braai!”
Die plaaslike politieke ontleder, Chrstie Keulder, het gesê die impak van die konflik in die Midde-Ooste het nie nou ’n direkte impak op Namibië nie. “Afhangend van wat gebeur, is daar dalk in die toekoms ’n gevolg op die globale olieprys, maar vir nou sien ek nie n impak nie.”
Israel en Amerika het Saterdag aangekondig dat hulle 'n aanval op Iran begin het. Sirenes in Israel het vroegoggend geloei en burgers oor die land heen het noodboodskappe ontvang wat hulle van 'n uiters ernstige bedreiging waarsku weens die verwagting van Iranse vergelding.
Ontploffings kon in verskeie dele van die Iranse hoofstad, Teheran, gehoor word.
Intussen gaan Iran gaan voort met aanvalle en sê om wraak te neem is sy wettige reg en plig.
Die dood van talle Irannese bevelvoerders is bevestig en hul name amptelik bekend gemaak. Die staatsmedia in Iran het 40 dae van rou aangekondig ná die dood van die ajatolla Ali Khamenei en duisende mense het Sondagoggend in die strate byeengekom om rou te betoon.
Amerikaanse president Donald Trump waarsku Iran indien hy nie ophou met aanvalle nie, sal hy met 'n mag aangeval word wat nog nooit vantevore gesien is nie.
Doha News berig owerhede in Katar het inwoners gister van vroegoggend af gewaarsku om nie uit hul huise te gaan nie, behalwe in noodgevalle.
Dit volg nadat Iran nog missiele gelanseer het in 'n aanval op 'n Amerikaanse lugmagbasis in die land. Dit kon in die lug gehoor word soos wat die missiele in lugafweer-teenaanvalle in die lug geteiken is.
BEROEP OP DIPLOMASIE
Wêreldleiers het 'n oproep om kalmte en diplomasie gedoen namate die oorlog tussen Amerika, Israel en Iran drasties vererger.
Kaja Kallas, die Europese Unie se hoof van buitelandse sake en verdedigingsbeleid, bestempel die verwikkelinge as "gevaarlik" en sê sy het gisteroggend met Israel se minister van buitelandse sake gepraat.
"Die beskerming van burgerlikes en die handhawing van internasionale humanitêre reg is 'n prioriteit," sê sy op X.
Anthony Albanese, premier van Australië, sê sy land "steun Amerika se optrede om te verhoed dat Iran 'n kernwapen bekom", maar skryf ook op X: "Australië staan saam met die dapper mense van Iran in hul stryd teen onderdrukking."
Indië se ambassades in Israel en Iran het Indiese burgers in dié lande aangeraai om "uiterse versigtigheid aan die dag te lê", onnodige reis te vermy en die situasie noukeurig dop te hou.
Mahamoud Ali Youssouf, voorsitter van die Afrika-Unie (AU), het ook sy diep kommer oor die verwikkelinge in Iran uitgespreek.
Ondanks navrae van die media vir reaksie van die ministerie van internasionale betrekkinge en handel oor die konflik, is teen druktyd geen mediaverklaring ontvang nie. - Bykomende bronne: Doha News, X


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie