Magiese Istanboel
Smorgasbord van klank, kleur en geur
Istanboel slaan jou asem weg, en jou voete onder jou uit. Maak seker jy haal álles uit 'n besoek aan dié kleurryke stad wat met een voet in Europa en die ander in Asië staan.
My eerste besoek aan Istanboel ses jaar gelede was ’n voormiddag lank. Ek moes ’n paar ure vir ’n aansluitingsvlug na Antalya wag, en het ’n taxibestuurder ’n ruim fooitjie beloof as hy sy beste Engels uithaal en my op ’n blitstoer deur die stad neem.
Kort voor sonopkoms hou hy met my op die plein tussen die Hagia Sophia en die Blou Moskee stil. Die volgende oomblik weerklink die muezzin se gebedsoproep (ezan) uit dié impossante moskee se ses minarette. Ek is die ene hoendervel toe dit dieselfde tyd boonop saggies begin reën.
Toe die eerste ligstrale goue strepe oor die Bosporus verf, het ek myself beloof na dié stad keer ek beslis terug.
En só land ek en twee gesinsgenote twee weke gelede om 04:35 met Ethiopian Airlines by Istanbul Havalimani, die supermoderne lughawe buite die stad wat drie jaar gelede in gebruik geneem is.
’n Wenk: Toeriste wat met Turkish Airlines daarheen vlieg, kan aanlyn vir ’n e-visum aansoek doen – ’n vinnige, pynlose proses.
Aangesien ons nie met die Turkse redery gevlieg het nie, moes ons by die Turkse ambassade in Windhoek vir ’n plakkervisum in ons paspoorte aansoek doen, ’n proses wat normaalweg vier weke duur.
Ons Airbnb-woonstel is in ’n netjiese, smal geboutjie wat soos ’n vinknes teen ’n baie steil heuwel in Beyoğlu hang.
Dié buurt aan die Europese kant van die stad is baie sentraal geleë en ons woonstel is skaars 50 m vanaf Taksimplein, die metro- asook die tremstasie af.
Die beroemde Istiklal-wandellaan met sy tremspoor, oulike antiekwinkeltjies, straatmusikante en -kafees, restaurant, ’n Madame Tussauds-wasmuseum en klerewinkels galore, is ook net ’n hanetree weg.
Dit was juis hier vlak teen Taksimplein in Istiklal-wandellaan waar minstens vyf mense dood is in ’n selfdood-bomaanval die nag van 15 Julie 2016 tydens die mislukte staatsgreep in Turkye toe probeer is om die regering van pres. Recep Tayyip Erdoğan omver te werp.
Moenie dat dit jou afskrik nie – Turkye is ’n toeristemekka en veilige land.
DRIE MILLENNIA SE GESKIEDENIS
Istanboel met sy sowat 14 miljoen inwoners is die grootste metropool in Europa en een van die grootste stede ter wêreld. Hoewel nie die hoofstad nie, is dit die kulturele, ekonomiese en finansiële hart van die land.
Dit is in die noordweste van die land aan die Bosporus-seestraat geleë wat die Swartsee en die See van Marmara skei. Dit vorm ’n natuurlike hawe, bekend as die Goue Horing. Istanboel lê uitgestrek aan beide die Europese kant (Thrakië) en die Asiatiese kant (Anatolië) van die Bosporus en is die enigste stad ter wêreld wat op twee vastelande geleë is.
Sy geskiedenis strek oor ’n tydperk van 3 000 jaar en dit word as een van die oudste stede beskou wat steeds bestaan. Oor dié drie millennia was Istanboel die hoofstad van die Romeinse (330–395), die Bisantynse (395–1204 en 1261–1453), die Latynse (1204–1261) en die Ottomaanse Ryk (1453–1922).
Dit is in 2010 as Europa se kulturele hoofstad van die jaar aangewys en die historiese dele van die stad is sedert 1985 ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Die danse van die Mevlevis of dwarrelende derwisje (whirling dervishes) is ook as wêrelderfenis verklaar
Aanvanklik kos dit bietjie inspanning om kop te hou tussen watter deel van die stad Europees en wattter deel Asies is.
Die Asiatiese kant is waar die meeste van Istanboelse woonbuurte geleë is, terwyl die Europese kant meer gerig is op toerisme.
Dit is eksoties en energiek, ’n roesemoes van klanke, kleure, geure en smake wat jou sintuie laat dartel.
Die stad se magiese kwaliteite laat soms jou voel of jy dit op Aladdin se towertapyt binnegevlieg het.
PLEKKE WAT BETOWER
Die Blou Moskee met sy ses minarette (ook genoem die Sultan Ahmed-moskee) kry sy naam van die 20 000 blou Iznik-teëls wat die vloere en mure binne versier. Dié teëls is eeue gelede in die dorp Iznik met die hand gemaak.
Die Hagia Sophia, of Aya Sophia, was van 360 tot in 1453 ’n katedraal van die Oosters-Ortodokse Kerk. In die Ottomaanse tyd vanaf 1453 is dit as ’n moskee gebruik, maar in 1934 het Mustafa Kemal Atatürk, stigter van die moderne, demokratiese en sekulêre Turkye, dit tot ’n museum verklaar.
Ná toenemende druk die afgelope dekade het Erdoğan in Maart 2019 gesê hy sal die museum se status weer in dié van ’n moskee verander en dat dit ’n “baie groot fout” was om dit in ’n museum te omskep. Omdat dit ’n Unesco-wêrelderfenisgebied is, sal Unesco se Wêrelderfeniskomitee egter die finale sê hieroor hê.
Digby Hagia Sophia is die Basilika Cistern, Istanboel se grootste ondergrondse watertenk wat uit die Romeinse tyd dateer. Dit het ’n kapasiteit van 80 000 m³ en is omtrent so groot soos ’n moskee.
’n Houtbruggie lei ’n mens bo die wateroppervlak tussen die 336 marmerpilare deur wat die koepeldak ondersteun. Die pilare is elk 9 m hoog.
’n Ander “grote” in dié deel van die stad, wat as Sultanahmet bekend staan en waarna ook as die geskiedkundige skiereiland aan die suidekant van die Goue Horing verwys word, is die Topkapi-paleis. Dit was die eertydse woning van verskeie Ottomaanse sultans.
Die paleis was ook die tuiste van Europa se grootste harem en bestaan uit meer as 300 kamers, nege Turkse baddens (hammans), twee moskees, ’n hospitaal en ’n wassery. Sowat 100 houvroue het saam met die heersende sultan se familie in dié paleis gewoon.
Besoek gerus ook die Galata-wagtoring wat in 1348 gebou is. Dit is in Beyoğlu geleë en bied ’n fantastiese 360 grade-uitsig oor die stad. Daar is ook ’n restaurant op die boonste vlak.
Dit is onder meer ook eeue gelede gebruik as ’n uitkykpunt waarvandaan wagte kon sien waar ’n vuur in die stad uitbreek.
Die bekende Groot Basaar (Kapaliçarsi, of Grand Bazaar) is ook in Sultanahmet in die Ou Stad-gedeelte van Istanboel. Dit beslaan meer as 60 strate en daar is meer as 4 000 winkeltjies onder dak.
Ons het verdwaal op pad daarheen en by die kleiner Speserymark, of Spice Bazaar, beland. Daar kan jy enige denkbare spesery denkbaar koop en ek het oë toe geknyp en 3 gram topgehalte Uranese saffraan gekoop.
Die sultan- en Ottoman-speserymengsels is eg Turks en ook baie gewild.
Om nie eens te praat van die wondersoete Turkse lekkers, (lokum, of Turkish Delight) en baklava nie. Die gedroogte vrugte, neute, olywe en allerlei gegeurde Turkse tee en koffie is ook gewild.
’N STAD VIR SMULPAPE
So van lekkernye gepraat: Jy sal beswaarlik elders in die wêreld lekkerder smul as in Turkye.
Turkse kos het sterk Mediterreense en Midde-Oosterse invloede. My gunsteling is köfte (Turkse frikkadelle) en börek. Laasgenoemde is filodeegpasteie gevul met spinasie, vleis of kaas.
My man en seun was weer gek oor die döner kebab wat gemaak word van vleis wat op ’n vertikale braaispit gaargemaak word.
Die gesoute vleis word in die vorm van ’n omgekeerde keël gestapel wat stadig op die spit draai. Dun skaafsels van die buitenste laag van die vleis word afgesny en in ’n pita voorgesit.
VAAR MET ’N VEERBOOT
Ons het net een toer deur ’n operateur bespreek en dit was ’n twee ure lange veerbootvaart op die Bosporus. Ons het die toerleier se inligting baie insiggewend gevind en aangesien ons dit aan die begin van ons besoek aan Istanboel gedoen het, kon ons in die daaropvolgende dae onsself baie beter oriënteer aan die hand wat sy vertel en ons van die boot af waargeneem het.
Die veerboot vaar byvoorbeeld vlak teen die lieflike Dolmabahçe-paleis verby, een van die wonderlike simboliese strukture van die Ottomaanse Ryk se veranderende 19de-eeuse identiteit.
Atatürk is ook in dié paleis oorlede.
’n Mens sien ook die lieflike huise van gegoede Turke wat aan die Asiatiese kant van die Bosporus woon.
WERD OM TE WEET
Istanboel staan bekend as die Stad van Katte en word ook soms Katstanboel genoem. Honderde duisende straatkatte dwaal al duisende jare in die nou stegies rond.
Oral sien ’n mens bakkies water en kos wat deur sorgsame Istanboelers vir hulle neergesit word.
Daar is ook op plekke groot houers waarin ’n mens munte gooi om ’n bakkie kat- of hondepille vir die straatdiere te koop.
Blykbaar is die katte se eeue oue doel om die stad met sy baie houtgeboue vry van muis- en rotplae te hou.
Wat ’n mens óók dadelik opval as jy die strate in vaar, is hoeveel mense met pleisters oor hul neuse of elders aan hul gesigte rondloop. Dit is eers toe ek mooi begin oplet na veral die vroue se gesigte, dat ek besef hulle lyk lankal nie meer soos hulle geskape is nie.
Dit is skynbaar ’n doodsonde onder Turkse vroue om botoks- en fillerloos, en sonder ander kosmetiese skaafwerk, die lewe in die oë te kyk.
Turkye is een van die voorste bestemmings in die wêreld vir gesondheidstoerisme, en baie besoek die land spesifiek vir kosmetiese prosedures. Mans laat vir hulle hare inplant, of laat werk aan hul neuse of ore. Tandheelkundige krone en inplantate vir ’n skitterwit, nuwe glimlag, is ook baie gewild.
Hospitale en klinieke bied pakkette aan wat die pasiënt se vliegtuigkaartjie, prosedure, luukse hotelverblyf terwyl hy/sy herstel en toere daarna insluit.
Behandelingskoste in Turkye is 70% - 90% goedkoper as in Europa, die VSA en Brittanje, aldus die Yeditepe University Healthcare Institutions.
’n Hartklepvervangingsoperasie kos in Amerika tussen US$170 000 – US$200 000, terwyl jy in Turkye US$17 000 daarvoor sal betaal.
Dit blyk 40 persent van die land se totale omset in mediese toerisme is vir tandheelkundige dienste, 42 persent vir ortopedie, kardiologie, hartchirurgie en neurochirurgie, en 15 persent vir kosmetiese chirurgie.
VERSTOMMENDE BESTUURSVERNUF
Die Turke kán bestuur. Hulle trek seepglad teen die steilste helling weg en vleg vinnig en behendig deur baie druk verkeer.
Ons het nie een keer ’n ongeluk gesien in dié stad waar miljoene voertuie daagliks op die paaie is nie.
Ek het ook nooit padwoede beleef of gesien hoe bestuurders op hul toeters lê en mekaar in vingertaal vloek nie.
Dat taxibestuurders jou wel gaan probeer inloop, is gewis. Dring altyd daarop aan dat hulle die meter aanskakel en wys vir hulle op Google Maps wat die kortste roete na jou bestemming is.
’n Ander opsie is om ’n vervoerkaart, bekend as die Istanbul Kart, te koop. Dit is by straathandelaars en kiosks beskikbaar. Die kaart kos N$25 en dit verval nie. ’n Mens laai geld daarop by ’n bus- of treinstasie, en daarmee het jy toegang tot alle openbare vervoer en selfs die openbare toilette.
Die vervoerstelsel is maklik om te gebruik en die kaart kan selfs aangewend word vir veerbootvaarte op die Bosporus.
Ek het goeie nuus vir jou as jy hier lees en wonder hoe op aarde jy in hierdie geldskraal-tye ’n besoek aan Istanboel kan bekostig.
Die Turkse lira en Namibiese dollar is nou feitlik 1:1.
Met Ethiopian Airlines kan jy vanaf Windhoek oor Addis Abeba daarheen vlieg. Doen navraag oor hul spesiale aanbiedinge.
’n Airbnb kan jou so min as N$300 per dag vir twee mense kos en produkte in supermarkte is gemiddeld 40 persent goedkoper as by ons.
As jy by die regte plekke eet, betaal jy N$30 vir ’n bord lensiesop en heerlike plat Turkse brode, en N$6 vir Turkse tee (çay).
Waarvoor wag jy! Begin spaar vir ’n wonderlike week in Istanboel. –[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie