Kuba verwyder van lys van finansierders van terroriste
Biden neem besluit voor Trump leierskap oorneem
President Nangolo Mbumba het die besluit verwelkom en gesê Namibië vra al lank daarvoor op internasionale vlak.
Die uittredende president van die Verenigde State van Amerika (VSS), Joe Biden, het verlede week, dae voordat die aangewese president Donald Trump leierskap van die VSA sou oorneem, besluit om Kuba van die lys van lande wat as finansierders van terroriste beskou word, te verwyder.
President Nangolo Mbumba het die besluit Woensdag verwelkom en gesê Namibië vra al lank daarvoor op internasionale vlak.
“Ek prys die Amerikaanse regering dat hulle uiteindelik die lank uitstaande besluit geneem het om Kuba te verwyder van die lys van lande wat terrorisme finansier.
“Namibië het deurgaans gepleit vir die verwydering van Kuba van die lys van staatsfinansierders van terrorisme, wat as arbitrêr, onregverdig en sonder grondslag in internasionale reg gesien word,” sê Mbumba.
Volgens hom is dit ongetwyfeld ’n stap in die regte rigting, na normalisering van die verhouding tussen Kuba en die VSA.
“Tog moet hierdie stap onderneem word met tasbare optrede deur die Amerikaanse regering om die onregverdige en onwettige ekonomiese sanksies teen Kuba te stop,” voeg hy by.
Kuba se ministerie van buitelandse sake sê hoewel Amerika ook die lys van Kubaanse maatskappye verwyder het waarmee Amerikaners nie mag handel dryf nie, is die jongste verwikkeling steeds redelik beperk.
“Dit is belangrik om daarop te wys dat die ekonomiese sanksies en ’n groot deel van die dosyne dwangmaatreëls om dit verder te versterk, wat sedert 2017 in werking getree het, steeds van krag bly, met hul volle impak in die buiteland en in stryd met internasionale reg en die menseregte van alle Kubane,” lui die Kubaanse ministerie se verklaring.
SPEAKER
Die Speaker, prof. Peter Katjavivi, het ook namens die parlement gesê die VSA se besluit erken Kuba se groeiende rol in die stryd teen terrorisme.
Hy verwys na die eenparige aanvaarding van ’n resolusie – wat die Namibiese parlement op 16 April 2024 geneem het – om Amerika aan te spoor om die besluit te neem.
“Hierdie besluit maak deure oop na ’n nuwe era van betrokkenheid, wat op samewerking, begrip en die vreedsame oplossing van verskille gefokus is,” sê Katjavivi.
Namens die Namibiese ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking het die uitvoerende direkteur, ambassadeur Penda Naanda, gesê Namibië verwag dat sekere ekonomiese beperkings opgehef sal word, en hoop die nuwe Amerikaanse leierskap handhaaf dieselfde diplomatieke gesindheid tot gesamentlike voordeel van die twee lande en hul mense.
Cecilia Muzile het ook die besluit namens die Namibië Kuba-vriendskapsvereniging in ’n verklaring verwelkom.
“Beëindig die sanksies nou!” het sy geskryf.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie