FOTO/ILLUSTRASIE: Zboralski, Wikipedia
FOTO/ILLUSTRASIE: Zboralski, Wikipedia

Duisende dollars vir Amerikaanse visum

Tot N$250 000 vir toeriste, sakereisigers
Die vereistes vorm deel van 'n loodsprogram wat daarop gemik is om as afskrikmiddel te dien vir diegene wat hul visums oorskry.
Brigitte Weidlich,Henriette Lamprecht
Namibiërs wat beplan om die Verenigde State van Amerika (VSA) volgende jaar te besoek, kan maar solank tot N$250 000 begroot vir die voorreg. Dit nadat die Amerikaanse regering onder president Donald Trump toegangsvereistes vir Derdewêreldlande, en wat nou ook Namibië insluit, verskerp het.

Vanaf 1 Januarie 2026 sal Namibiese burgers wat die VSA as toeriste of sakereisigers wil binnekom met B1- en B2-visums en as deel van 'n loodsprogram van 12 maande, borg van tot US$15 000 moet betaal. Dit is ongeveer N$250 000. Volgens Namibië se ministerie van internasionale betrekkinge en handel het hulle die naweek van die regulasie kennis geneem wat reeds in September deur die Withuis aangekondig is.

“Namibië erken ten volle die soewereine reg van die VSA en alle state om hul immigrasie- en grensbeleid te bepaal en te implementeer in ooreenstemming met hul nasionale wette en prioriteite,” het die ministerie in ‘n verklaring gesê.

“Terselfdertyd is ons bewus van die potensiële impak van sulke maatreëls op uitruilings tussen die mense van Namibië en die VSA, insluitend reise vir toerisme, sake en gesinsdoeleindes het.”

Die ministerie het Namibiese burgers verseker dat dit in kontak bly met Washington “oor die omvang, duur, modaliteite en praktiese implikasies van hierdie loodsprogram, insluitend die toepassing daarvan op Namibiese reisigers”.

Die verklaring sê voorts Namibië bly “toegewy aan konstruktiewe en respekvolle dialoog” met die Amerikaanse regering oor die kwessie. Die ministerie sê enige nuwe inligting sal ook met die publiek gedeel word.

Volgens die webtuiste van die Amerikaanse ambassade in Windhoek het president Trump die verandering in toelatingsvereistes reeds in September vanjaar aangekondig. Dit meld ook dat aansoekers nie derdeparty-webwerwe moet gebruik om die deposito te betaal nie. Die deposito moet slegs betaal word nadat 'n konsulêre beampte dit versoek het. “B1/B2-visums vir Namibiese burgers kan slegs uitgereik word nadat die borg betaal is,” aldus die Amerikaanse ambassade.

Buiten vir Namibiërs wat hul sakke vir ‘n besoek aan onder meer die Groot Appel moet skud, geld dieselfde borg van tot US$15 000 vanaf 1 Januarie 2026 ook vir onder meer Botswana, die Sentrale Afrika Republiek en Guinea. Vir onder meer Tanzanië, Malawi en Zambië het dit reeds in onderskeidelik Augustus en Oktober in werking getree. Enige burger wat reis met 'n paspoort wat deur een van hierdie lande uitgereik is, en wat andersins in aanmerking kom vir 'n B1/B2-visum, moet van US$5 000, US$10 000 of US$15 000 betaal. Die bedrag word bepaal ten tyde van die visumonderhoud. Aansoekers moet eers die bedrag betaal nadat 'n konsulêre beampte hulle gelas het om dit te doen. 'n Borg waarborg egter nie die uitreik van ‘n visum nie en sou ‘n voornemende besoeker die bedrag sonder ‘n konsulêre beampte se aanwysings betaal, sal die persoon nie die geld terugkry nie.

As 'n voorwaarde vir die borg moet alle visumhouers wat 'n visumborg betaal het, Amerika binnekom en verlaat by die Boston Logan-, John F. Kennedy- en Washington Dulles Internasionale Lughawe.

Die vereistes vorm deel van ‘n loodsprogram wat op 20 Augustus begin het en daarop gemik is om as afskrikmiddel te dien vir diegene wat hul visums oorskry. Al Jazeera het in Augustus berig die program van 12 maande sal na verwagting tot US$20 miljoen vir Amerika in bring. Die Withuis het toe in ‘n verklaring gesê die nuwe program is verder ontwerp as 'n diplomatieke afskrikmiddel vir dié wat hul visas oorskry. In die fiskale jaar 2023 was daar 500 000 vermoedelike oorskrydings van besoekers se toegelate verblyftydperk in die land. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer