Dachau + Gaza - Netanyahu = 0

Van vertroue tot wantroue
Benjamin Netanyahu het homself aan die mense van Israel voorgehou as die enigste leier wat Israel kon red van Hamas, Hezbollah en van ’n Iranse kernbom. In die proses het hy drie groot oorloë begin of voortgesit.
Piet Croucamp

Op 14 Mei 1948 om 16:00, presies twee jaar, agt maande en 12 dae ná die formele beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog, het die eerste premier van Israel, David Ben-Gurion, die Verklaring van Onafhanklikheid van Israel in Tel Aviv voorgelees. Dit was net ure voordat die Britse mandaat oor Palestina amptelik verval het. Die tydsberekening was doelbewus, want die volgende dag was ’n Sabbat en die seremonie moes voor sononder plaasvind. Binne ure het Amerika vir Israel as staat erken, gevolg deur die Sowjetunie drie dae later.

En 24 uur later, op 15 Mei, het die leërs van Egipte, Transjordanië, Sirië, Irak en Libanon Israel binnegeval; die eerste Arabies-Israeliese oorlog het begin. Die Palestyne herdenk dié dag en datum as Nakba (“die ramp”), ter herinnering aan die sistemiese en internasionale ontworteling van die Palestynse bevolking.

Israel was sedertdien in ’n byna permanente staat van konflik met sy bure. Die land het sedert 1945 enorme simpatie gehad vir die eksistensiële bedreigings waaraan die Jode oor millennia heen onderwerp was; Benjamin Netanyahu het hierdie simpatie goedkoop verkwansel. 

Op 7 Oktober 2023 het Hamas Israel aangeval; meer as 1 200 mense is dood en 251 gyselaars is geneem. Israel het met ’n verwoestende militêre veldtog begin. Teen Junie 2026 was 73 000 Palestyne dood, byna 175 000 beseer en Gaza is in puin gelê. En ek wonder of dit wat Israel en Netanyahu doen nie ook voor die deur van die Jode gelê kan word nie.


’n PERSOONLIKE GEWAARWORDING

Nadat ek in 1985 deur Israel geryloop het, was my gewaarwording dat die Palestyne deur onmenslike omstandighede geteister word ’n oorweldigende gevoel. Maar ek het steeds nie getwyfel aan die reg van Israel om te bestaan nie. Op pad na die land van die volk van God het ek deur Duitsland geryloop. Ek was onder meer in Dachau, geleë in die deelstaat Beiere in suidelike Duitsland, ongeveer 16 km noordwes van München.

Dachau is vandag steeds ’n kleinerige stad. Die voormalige konsentrasiekamp is op die noordoostelike rand van die stad gebou, in ’n nywerheidsgebied. Dit was oorspronklik ’n ou ammunisiefabriek, doelbewus effens buite die stadskern, maar tog naby genoeg dat die inwoners van Dachau moes geweet het wat daar gebeur. 

Die Nazi’s se konsentrasiekamp is intussen omskep in ’n gedenkmuseum vir een van die donkerste hoofstukke in die menslike geskiedenis. Niemand wat die plek besoek kan onaangeraak wees deur dit wat die Nazi's aan die Jode gedoen het nie.


OORLOGSMISDADE EN VOLKSMOORDE

Maar die gebeure ná 7 Oktober 2023 het alles vir my verander. Wel, nie net vir my nie. Groot dele van ’n eens welwillende wêreld kyk vandag anders na Israel se bestaan in seker die mees onbestendige geopolitieke terrein in die wêreld. 

In die daaropvolgende maande het Dylan Williams van die Sentrum vir Internasionale Beleid in Washington iets in verwysing na Israel gesê wat ook toe reeds in my kop posgevat het, maar wat ek met Netanyahu geassosieer het. 

Hy het gesê: “In vyf en ’n half maande van oorlog het Israel meer skade aan sy internasionale aansien aangerig as in die voorafgaande vyf en ’n half dekades van besetting.”

Daar was ook ander prominente stemme. Die militêre kommentator Yoav Limor het verdoemend gesê: “Ná 925 dae van gevegte sedert 7 Oktober het Israel daarin gefaal om ’n beslissende oorwinning op enige front te behaal. Teen die einde van nog ’n oorlog word ons besluite nie in Jerusalem geneem nie, maar in Washington.”

Danny Citrinowicz, ’n senior navorser oor Iran by Israel se Instituut vir Nasionale Veiligheidstudies, het in April 2026 na aanleiding van die Iran-konflik gesê: “Netanyahu wen nie. Hierdie oorlog is ’n strategiese mislukking. Daar is ’n gaping tussen wat hy aan die begin van die veldtog beloof het en waar ons uitgekom het.”

Maar die belangrike stem waarvoor ons almal wag, is dié van die oorlogsmoeë burgers van Israel in ’n verkiesing wat Netanyahu sou wou vermy as hy kon. Meningsopnames wys dat net 10% van Israeli’s die oorlog in Iran as suksesvol beskou, terwyl steun vir Netanyahu self van 40% aan die begin van die oorlog tot 34% gedaal het.


INTERNASIONALE KRITIEK

In plaas daarvan om die banale wreedheid van 7 Oktober te bestuur en universele ondersteuning vir ’n geteikende militêre veldtog en diplomasie te soek, het Netanyahu gekies om Gaza te verwoes en in die proses ongeveer 40 000 kinders uitgewis. Dit was nie ’n Holocaust nie, dit was ’n ander minder primitiewe, maar ewe wrede minagting van menselewens.

Die Internasionale Strafhof het sedertdien lasbriewe uitgereik teen Netanyahu vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Gaza, spesifiek vir die doelbewuste weerhouding van humanitêre hulp en die teiken van burgerlikes. In Mei 2026 het die Suid-Koreaanse president, Lee Jae Myung, Netanyahu ’n “oorlogsmisdadiger” genoem en die Suid-Koreaanse regering amptenare aangesê om te oorweeg of Suid-Korea sy eie lasbrief teen hom moet uitreik.

Israel se grootste bate, die empatie van die grootste deel van die mensdom, is vernietig en niks behalwe dalk ’n tweede volksmoord op die Jode kan dit ooit weer herstel nie. Die krisis is só drasties vir die internasionale politieke ekonomie dat die opsie van pessimisties wees jou laat voel jy is aandadig aan die huidige onbenydenswaardige posisie van die mensdom.


WêRELDWYE REAKSIE

Die internasionale reaksie van weersin was voorspelbaar. In dié dae het die voormalige voorsitter van die Amerikaanse Gesamentlike Stafhoofde, Mark Milley, iets gesê wat baie van ons gedink het: “Israel betaal ’n geweldige strategiese prys vir die oorlog, die verlies aan internasionale ondersteuning is enorm.” 

In November 2024 het die Internasionale Strafhof lasbriewe uitgereik vir Netanyahu en Yoav Gallant, voormalige minister van verdediging.

Teen September 2025 het Brittanje, Frankryk, Kanada, Australië en verskeie ander Europese lande Palestina gesamentlik as staat erken, as deel van ’n inisiatief by die 80ste sitting van die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering. In totaal het 145 lande ’n Palestynse staat erken, waarvan net 19 lande, insluitend 15 Europese state, dit in 2024 en 2025 gedoen het. Ten minste nege lande het die dramatiese stap geneem om hul ambassadeurs terug te roep en diplomatieke bande met Israel te verbreek. 

Die empatie wat die mensdom vir Israel gehad het, was nou vir die Palestyne beskore. Empatie is ’n skaars kommoditeit – ons moet iewers iets wegneem as ons elders ter wille wil wees.

Israel se internasionale aansien is in vryval. Die 12 dae lange Israel-Iran-konflik in Junie 2025 word wyd in Israel as ’n strategiese mislukking beskou. Die ooreenkoms van Junie 2026 tussen Iran en Amerika, wat Israel uitsluit, is ’n duidelike illustrasie van hoe Israel vanuit die kern van Westerse diplomasie in Asië en die Midde-Ooste na die kantlyn geskuif het. Die Abraham-akkoord van 2020 het Israel se verhoudings met die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein, Marokko en Soedan genormaliseer, ’n betekenisvolle en historiese deurbraak. Verhoudings met Saoedi-Arabië was op die punt om te normaliseer.

Israel het stille maar betekenisvolle bande met verskeie Golfstate gehad, veral rondom die gesamentlike bedreiging van Iran. Missiele is in dié land se vergeldingsaanvalle op Bahrein, Jordanië, Koeweit, Oman, Katar, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate afgevuur, almal lande wat as Israel se bondgenote beskou is. 

Die Gaza-oorlog het die openbare mening in hierdie lande so skerp teen Israel gedraai dat geen Arabiese leier dit meer kan bekostig om Israel openlik te ondersteun nie. Die Saoedi-normalisering lê nou in puin.

Ook binne Amerika het Israel politieke empatie verloor met ’n afname in steun onder beide die Demokrate en Republikeine, veral onder jong mense. Die grootste flater van beide Netanyahu en Donald Trump is die narsistiese oortuiging dat blote militêre mag, sonder diplomasie, internasionale steun of ’n weldeurdagte politieke uiteinde, al hierdie probleme kon oplos.

Dit is ’n morbiede bron van moedeloosheid dat mense soos JD Vance, Jared Kushner en Steve Witkoff namens die mensdom met ’n onbestendige teokrasie onderhandel oor die belange van ’n oorlogsugtige krygsheer soos Netanyahu. Dit terwyl ’n despoot soos Vladimir Putin deur ’n narsistiese Trump geloof word vir sy imperiale fascisme. Alles word met genoegdoening deur ’n diktator in Beijing gadegeslaan.

Netanyahu het homself aan die mense van Israel voorgehou as die enigste leier wat Israel kon red van Hamas, Hezbollah en van ’n Iranse kernbom. In die proses het hy drie groot oorloë begin of voortgesit. 

Vandag is Hamas verswak, maar nie vernietig nie, Hezbollah skiet steeds vuurpyle en missiele op Israel, die regime in Teheran is steeds staande en Netanyahu self het ’n Internasionale Geregshof-lasbrief teen sy naam. Hy kan nie meer na sy vroeëre bondgenote in Europa reis nie.

Israel is in groot dele van die wêreld waar daar eers politieke welwillendheid was, nou ’n onbetroubare identiteit wat sonder skroom uitwis. Daar is ’n ontstellende verwantskap tussen die gewetenloosheid van die Nazi's en die argelose vernietigingsdrang van Israel. As Trump en ’n diep verdeelde Amerika jou enigste bondgenoot is, is die toekoms ’n baie donker plek.

– BINNE+LAND


– Prof. Piet Croucamp is gebore in Namibië en is verbonde aan die Noordwes-Universiteit se departement politieke studies en internasionale verhoudinge in Suid-Afrika. Hy is ’ politieke ontleder, joernalis, akademikus en meningsvormende skrywer wat ’n kenmerkende stem in politieke kommentaar en navorsing oor demokrasie, geweld, politieke risiko’s, media en samelewing is. 



Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer