Ontwortelde Angolese vroue en kinders word u0027n algemene gesig oraloor Namibiu00EB. Foto argief (met toestemming vir publikasie verleen)
Ontwortelde Angolese vroue en kinders word u0027n algemene gesig oraloor Namibiu00EB. Foto argief (met toestemming vir publikasie verleen)

Amnestie Internasionaal pleit vir ontwortelde Angolese

Augetto Graig

“Ware honger en dors heers hier; daarom het die dorpie ontvolk geraak en woon daar min mense.” 

Dié aanhaling uit 2021 word in Amnestie Internasionaal se onlangse verslag gebruik oor “verplasings weens droogte van suidelike Angola na Namibië en die ingrypende impak op die menseregte van vroue en kinders, wat buite verhouding geraak word”, met verwysing na Nghikembua (nie sy werklike naam nie) van Angola se Cunene-provinsie.

Die verslag, getiteld “Hoe droër dit word, hoe verder moet jy loop, hoe dieper moet jy grawe”, is op 2 September vanjaar gepubliseer. Dit het gelei tot ’n sterk bewoorde reaksie van die ministerie van internasionale betrekkinge en handel, wat op 22 September uitgereik is.

In die verklaring sê die ministerie: “Die beweging van mense oor die grens tussen Namibië en Angola is ’n saak van wedersydse belang en kommer wat noue samewerking en koördinasie tussen ons twee lande vereis.”

Die verklaring – wat egter nie aan ’n spesifieke persoon toegeskryf word nie – spreek ontevredenheid uit oor die feit dat “die verslag deur Amnestie Internasionaal gepubliseer is sonder voldoende vooraf konsultasie met die Namibiese regering, of sonder dat die regering genoeg tyd gegun is om relevante inligting, verduidelikings en sy standpunte oor verwante aangeleenthede te verskaf”.

Daar word verder beklemtoon dat gesprekvoering met die betrokke lande belangrik is “voordat ’n verslag van hierdie aard gepubliseer word”.

Die regering het gesê hoewel hy die onafhanklikheid van burgerlike samelewingsorganisasies respekteer, skakeling met die betrokke regerings belangrik is wanneer verslae sensitiewe sake soos migrasie en humanitêre kwessies behels. Amnestie Internasionaal het egter is sy gepubliseerde verslag gesê dat Namibiese regeringsamptenare ten tyde van publikasie nog nie op sy versoek om kommentaar gereageer het nie.

Die verslag van 92 bladsye skryf die sleuteloorsaak van die migrasie toe aan ’n siklus van uiterste weersomstandighede, wat daartoe gelei het dat die provinsies Cunene, Huíla en Namibe in die suide van Angola “die swaarste getref is deur herhaaldelike droogtes en natuurrampe wat deur El Niño vererger is”.

Die organisasie het gesê dit het die bestaan uit boerdery ​​ondermyn en mense oor die grens gedwing op soek na voedsel, water, weiding, gesondheidsorg, werk en gesinsondersteuning.

Die verslag is gebaseer op onderhoude wat tussen Mei 2024 en Mei 2026 in Namibië met ten minste 167 gevoer is en bou voort op vorige navorsing oor droogte, veranderinge in grondgebruik en voedselonsekerheid in die suide van Angola, sê die menseregte-organisasie.

Volgens Amnestie Internasionaal is droogte “steeds ’n dringende dryfveer vir verskuiwing”.

Gevolglik word “vroue en kinders – wat reeds tot die mees gemarginaliseerde groepe behoort – gedwing om suidelike Angola te verlaat, en terwyl hulle grense oorsteek op soek na beskerming, word hulle voortdurend aan verhoogde risiko’s blootgestel”.

Die organisasie het bevind ’n beduidende aantal Angolese het sedert omtrent 2020 na Namibië gekom.

Grensoorgange vind by amptelike grensposte sowel as by informele rivieroorgange plaas; dit “weerspieël die afwesigheid van omvattende stelsels vir ontvangs, registrasie of data-insameling wat die werklike omvang van droogteverwante ontworteling kan vasstel,” lui die verslag.

Volgens Amnestie Internasionaal bestaan daar geen realistiese kanale waardeur ontheemde Angolese hul verblyf in Namibië kan wettig maak nie. Namibië se immigrasie- en beskermingswette maak nie voldoende voorsiening vir ontheemding as gevolg van klimaatsverandering nie.

Die verslag meld dat “ontwortelde Angolese wetlik onsigbaar bly en in voortdurende vrees vir arrestasie, aanhouding en deportasie leef”.

Die organisasie het gesê meer as 1 000 Angolese burgers is in 2026 na Angola teruggestuur nadat hulle in Namibië gevind is sonder ’n geldige immigrasiestatus.

Vroue en meisies ervaar verskeie vorme van diskriminasie, terwyl “chroniese armoede en die afwesigheid van doeltreffende meganismes vir beskerming kinders kwesbaar gelaat het vir kinderarbeid, uitbuiting en mensehandel”.

Amnestie Internasionaal het ook gevalle van “onvergeselde Angolese kinders en kinders wat van hul gesinne geskei is in Namibië se stedelike gebiede gedokumenteer en bevind die terugkeer van kinders na Angola het dikwels plaasgevind sonder voldoende beskermingsmaatreëls, opsporing van gesinne of die individuele assesserings van die menseregterisiko’s”.

“Ingevolge internasionale reg kom so ’n staatsgeorganiseerde oordrag neer op ’n verbode kollektiewe uitsetting,” lui die verslag.

Amnestie Internasionaal doen ’n beroep op die regering om ’n regte-gebaseerde benadering tot migrasie te oorweeg en wil hê Namibië moet kollektiewe uitsettings beëindig, toeganklike kanale vir beskerming en regulering vestig en ontheemde Angolese in Namibië toegang tot gesondheidsorg en onderwys bied. 

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer