’n Gedeelde strewe na vryheid

Oekraïne vier 34ste jaar van onafhanklikheid
Oekraïne het Sondag 34 jaar van onafhanklikheid gevier te midde van 'n verwoestende oorlog wat reeds meer as drie jaar duur, nadat Rusland dié land in Februarie 2022 binnegeval het. 'n Oekraïense fotograaf vertel van haar tuisland se veerkragtigheid te midde van hartverskeurende omstandighede.
Henriette Lamprecht
Die oorlog in Oekraïne raak die hele wêreld, sê Olga Nesterenko, ’n fotograaf van Zaporizjzja wat ’n holte vir haar voet in Swakopmund gevind het en dié kusdorp as haar tweede tuisdorp beskryf.

Buiten die sigbare tekens soos stygende pryse en die regering se begroting wat toenemend op wapenaankope fokus, is daar die sielkundige letsels van diegene wat intens by die oorlog betrokke is.

Die psigologiese toestand van Oekraïners is kompleks, erken Olga, en word buiten vir die toename in gevalle van posttraumatiese stress, angs en depressie ook gekenmerk deur veerkragtigheid, hoop en ’n diepgewortelde begeerte na vrede.

“Dit maak nie saak waar jy jouself bevind nie. Ja, daar is angs, maar ook optimisme en ’n sterk wil om die teëspoed te oorbrug. Dit word aangevuur deur die geloof in die krag van ons nasie en ook hulle wat ons verdedig.”

Dis nie net blote woorde nie, maar sigbaar wanneer sy ook met ander Oekraïners praat wat in Namibië woon.

“Iemand se tuisdorp is naby die oorlogsfront, ’n ander s’n verder weg en nog een s’n is reeds beset. Sielkundig is dit uiters moeilik vir ons, maar dit is min dat iemand jou daar in besonderhede sal vertel hoe hulle die nag in ’n bomskuiling moes deurbring.”

Die oorlog in haar tuisland het reeds diep sielkundige letsels gelaat, erken Olga, maar dit het ook ’n landswye beweging laat ontstaan om geestesgesondheid te prioritiseer. Laasgenoemde word volgens haar nou gesien as ’n model om die kollektiewe trauma en ook veerkragtigheid van mense vasgevang in ’n oorlog te verstaan.

Die langtermyn-uitwerking van die Sowjet-era se onderdrukking het ’n blywende letsel op Oekraïne se nasionale bewussyn gelaat en was ’n groot bydraer van wantroue en die onderdrukking van emosies onder haar landgenote.

“Histories was daar ’n huiwering om vir sielkundige hulp aan te klop, wat aangevuur is deur stigma en beperkte toegang tot geestesgesondheidsdienste,”sê Olga.

“Die oorlog het egter historiese en kulturele sienswyses verander en dit moedig mense nou aan om meer oop oor geestesgesondheid te wees.”

Met gemeenskappe in die land wat nou dikwels daagliks die ondenkbare in die gesig moet staar, het Oekraïners stelsels geskep om inwoners se geestesgesondheid te verseker, vertel Olga.

Dit sluit in mobiele eenhede vir geestesgesondheid asook virtuele ondersteuningsnetwerke wat verbind is met die land se nasionale ondersteuningsprogram onder die vaandel How Are You?

By sentrums wat deel is van die program, word inwoners met die hulp van tradisionele psigoterapie behandel asook alternatiewe behandelings soos waterterapie, joga en om tyd saam met diere deur te bring.

Olga verwys na die stad Mariupol, ’n simbool van Russiese oorlogsmisdade, wat vandag spog met ’n liefdadigheidsnetwerk van ondersteuningsentrums vir “honderde duisende”ontheemde inwoners wat die besetting moes deurmaak.

Die Mariupol-projek is deur die stad se munisipaliteit van stapel gestuur, met 100 000 inwoners wat tans sielkundige ondersteuning ontvang. By die Zhytomyr-sentrum in Mariupol word berading byvoorbeeld deur ’n ervare spesialis verskaf wat onder meer van kunsterapie buiten vir sielkundige terapie gebruik maak.

Haar naam is Svitlana en haar ervaring van wat inwoners van Mariupol deurmaak, kom nie uit boeke nie, sê Olga.

Haar dogter, ’n grenswag, is tydens die besetting gevange geneem en sy verstaan en het begrip vir waardeur inwoners gaan.

“Elke enkele storie van ’n inwoner van Mariupol is vol van die pyn en gruwels wat die besetting gebring het. Die sentrums help inwoners om van voor af te begin, om saam te staan en mekaar te ondersteun en koester saam met hulle die hoop om eendag weer na hul tuisdorpe te kan terugkeer.”

Olga vertel trots van haar landgenote wat, ten spyte van die daaglikse verwoesting, steeds op die wêreldverhoog triomfeer, ’n duidelike bewys volgens haar dat ware onafhanklikheid nie net die afwesigheid van kettings is nie, maar die teenwoordigheid van ’n doel.

Op 19 Julie het die Oekraïense swaargewigbokser Oleksandr Usyk van die oorloggeteisterde Simferopol sy titel as onbetwiste swaargewigkampioen met ’n uitklophou teen Daniel Dubois behou. Usyk het na die tyd gesê hy veg nie net vir titels nie, maar ook “vir die gees van my mense”.

Tetyana Lazarenko van Zaporizhzhia en Marina Gladun van Sumy, beide stede slegs 30 kilometer van die oorlogsfront, stap met die goue medalje by die Europese Strandvlugkampioenskap weg, terwyl

Eva Serdiuk en Daria Romaniuk in dieselfde kompetisie goud vir die jeugkategorie wen.

Dié twee goue medaljes is ’n eerste in die geskiedenis van Oekraïne en Serdiuk en Romaniuk behaal boonop die prestasie om nie ’n enkele stel tydens die kompetisie af te staan nie.

Dan is daar Neslamni, Kharkiv se eerste sokkerspan wie se spanlede uit geamputeerdes bestaan. Dié span is eers in Maart vanjaar gestig en het reeds aan verskeie toernooi deelgeneem en goue medaljes verower.

Buiten vir sport, fokus Oekraïne steeds sterk op onderwys en is daar volgens Olga verskeie “ondergrondse” skole gebou ten spyte van die daaglikse werklikheid van bomdreigemente en kragonderbrekings. Die Oekraïense veerkragtigheid is ook onder kinders en jongmense sigbaar.

By vanjaar se internasionale wiskunde-olimpiade wat in Australië aangebied is, verwerf Oekraïne se jong inwoners verskeie goue medaljes bo deelnemers uit 110 lande.

Die Namibiese lug is terapeuties vir haar, sê Olga, want hier “asem jy vryheid in”.

“Dit herinner my daaraan dat vryheid nie net ’n politieke ‘toestand’ is nie, maar ’n geleefde ervaring wat hoop en innerlike vrede kan herstel.”

As Oekraïners in Namibië beskou hulle die land as hul tweede tuiste, sê Olga, wat byna die helfte van haar volwasse lewe hier deurgebring het.

“Oekraïne en Namibië deel ’n diepgewortelde verbintenis tot onafhanklikheid, veerkragtigheid en die soeke na ’n beter toekoms.”

Onafhanklikheid en demokrasie is nie staties nie, sê Olga, met beide Oekraïne en Namibië wat wys dat ’n land floreer wanneer sy inwoners daarin glo.

“Om in Namibië te woon, het my geleer veerkragtigheid is universeel. Of jy in die strate van Swakopmund of Kiëf is, mense wil dieselfde dinge hê – waardigheid, geleenthede en vrede.

“Wanneer individue verantwoordelikheid neem vir hul eie groei en uitreik na diegene in nood, word hulle die argitekte van ’n meer regverdige, veerkragtige en empatiese planet.

“Hierdie positiewe verandering, wat deur miljoene individue herhaal word, skep ’n rimpeleffek wat die hele wêreld versterk.”

Oekraïne en Namibiê kan dalk wêrelde van mekaar verwyder wees, maar “ons is verenig deur ’n gedeelde droom, om gemeenskappe te bou wat nie net vir ons nie, maar ook die wêreld ophef”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer