Wlotzka vir twee maande sonder sein
Inwoners van Wlotzkasbaken het sedert omstreeks middel Mei vanaf saans tot middel soggens geen selfoonsein nie.
MTC het nie gesê wanneer die onderbreking gaan eindig nie. Die rustige kusdorpie tussen Swakopmund en Hentiesbaai is afhanklik van ’n enkele MTC-toring wat deur sonpanele en ’n kragopwekker aangedryf word.
In skriftelike antwoorde op inwoners se klagtes het MTC se kliëntesorgafdeling op 27 Junie bevestig dat “die kragopwekker foutief is en die gelykrigter ook hardeware probleme ondervind”.
Korrespondensie wat Erongo gesien het, wys inwoners het van middel Junie af klagtes via MTC se webwerf, sy oproepsentrum in Windhoek, sy Swakopmund-tak en per e-pos ingedien. Een inwoner het eers ná weke se opvolg ’n verwysingsnommer ontvang.
“Ons is nou in week nege sonder. . . betroubare MTC-sein,” het hy op 15 Julie aan die operateur geskryf.
“E-posse en stories gaan nie die probleem regmaak nie. Optrede op die grond is nodig.”
Die inwoners, verskeie van hulle pensioenarisse, sê die onderbreking laat hulle snags nie toe om vir hulp te bel nie.
“Ons is pensioenarisse en sou ’n noodgeval gebeur kan ons niemand [bereik] nie,” het een in sy eerste klagte geskryf.
Inwoners wys ook daarop dat die toring dele van die pad tussen Swakopmund en Hentiesbaai bedien, wat motoriste tydens die onderbreking sonder ’n manier sou laat om ’n ongeluk aan te meld, ook in misweer.
’n Tegnikus het later ’n bystand-kragopwekker afgelewer, wat oop en bloot by die terrein staan. Volgens een inwoner moet dit elke dag met brandstof gevul word en word dit gelos om te loop totdat dit droog is.
“Die kruks van die saak is dit: As hulle nie uitkom en die kragopwekker volmaak nie, dan is daar geen MTC-verbinding nie,” het hy gesê.
“Tot dan is ons aan hulle genade oorgelaat.”
KRAGOPWEKKER SONDER BRANDSTOF
’n Ander inwoner het Maandag gesê die bystand-kragopwekker staan buite sonder brandstof. Hy het gesê dit het twee nagte geloop voordat die brandstof opgeraak het.
Inwoners sê ’n MTC-tegnikus het vir hulle gesê bestuur is besig om ’n kwotasie vir ’n vervangingskragopwekker te kry, sonder enige aanduiding wanneer dit geïnstalleer sou word.
In reaksie op vrae het MTC-woordvoerder Nekundi Erasmus om verskoning aan geraakte kliënte gevra.
“Die stasie is ten volle sonkrag-aangedrewe en langdurige strawwe winterweer, saam met bewolkte dae, het dit uitdagend gemaak om konsekwente werkverrigting te handhaaf,” het hy gesê.
“Die terrein se rugsteun-kragopwekker is tans foutief, maar ons werk daadwerklik daaraan om ’n nuwe een te bekom om die situasie te help verbeter.”
Erasmus het gesê Wlotzkasbaken is nie aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel nie, “wat andersins ’n meer konsekwente en betroubare kragtoevoer sou bied”.
Hy het bygevoeg dat MTC hoop die owerhede sal die nedersetting “binnekort” koppel.
Die woordvoerder het nie op vrae gereageer oor ’n hersteltydlyn, die terrein se instandhoudingskedule, die rede waarom die herstel langer as twee maande neem, of vergoeding vir geraakte kliënte nie.
Inwoners betwis die verklaring oor die weer. Een, wat sowat 200 meter van die toring af woon, het gesê sy huishouding werk op sonpanele en batterye sonder ’n kragopwekker. Hy het gesê die toring se panele is vuil, die batterye oud en dat die houer waarin die toerusting gehuisves word, swart gebrand is met roet van die kragopwekker se uitlaatstelsel.
Hy het gesê hy beoog om die saak na die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) en die Namibië Verbruikersbeskermingsgroep te neem.
Cran het gesê geen klagte oor die onderbreking by Wlotzkasbaken het hulle bereik nie, hoewel dit ’n klagte ontvang het oor diensonderbrekings van MTC in die gebied tussen Myl 108 Kaap Kruis, sowat 98 km verder noord. Cran se uitvoerende beampte vir kommunikasie en verbruikersverhoudinge, Mufaro Nesongano, het gesê geraakte inwoners moet eers vir MTC nader en kan ’n klagte by die reguleerder indien op sy voorgeskrewe vorm indien die kwessie ná 14 dae onopgelos bly.
Nesongano het gesê lisensiehouers is verplig om voorgeskrewe gehalte diensstandaarde te haal, netwerkfoute stiptelik aan te spreek, kliënte en Cran in kennis te stel van kwalifiserende onderbrekings en dat Cran kan ondersoek instel en afdwingingsoptrede kan neem ingevolge die kommunikasiewet waar daar bewyse is van volgehoue agteruitgang van diens.
Hy het bevestig die Wlotzkasbaken-toring ondersteun dekking langs gedeeltes van die C34-pad en gesê nagtelike onderbrekings kan motoriste se vermoë beïnvloed om noodoproepe te maak.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie