Daar is nog steeds talle slaggate in die hoofstad, ondanks 26 000 wat volgens Stad Windhoek ná die reënseisoen herstel is.  Foto verskaf
Daar is nog steeds talle slaggate in die hoofstad, ondanks 26 000 wat volgens Stad Windhoek ná die reënseisoen herstel is. Foto verskaf

Windhoek se padinstandhouding: Agterstand beloop N$2,67 mjd.

Infrastruktuurprojekte goed op dreef
Meer as 11 500 bouplanne is in die afgelope boekjaar goedgekeur, wat 'n gekombineerde beleggingswaarde van N$9,9 miljard verteenwoordig.
Elizabeth Kheibes
Stad Windhoek (CoW) sukkel met ’n verstommende agterstand in padinstandhouding van N$2,67 miljard met verswakkende padoppervlaktes, slaggate en verouderende infrastruktuur wat toenemende uitdagings vir munisipale dienslewering inhou.

Die omvang van die uitdagings is Woensdag tydens ’n konsultasievergadering geopper wat met verteenwoordigers van Windhoek Wes- en Oos-gemeenskappe, asook die Windhoek Tarief- en Belastingbetalersvereniging gehou is.

Munisipale amptenare het gesê CoW het N$45 miljoen in finansiering van die Padfondsadministrasie (RFA) vir die 2025-’26-boekjaar ontvang.

Dié bedrag skiet egter ver te kort aan die N$384 miljoen wat jaarliks benodig word om die hoofstad se padnetwerk tot aanvaarbare standaarde te onderhou en te rehabiliteer. Meer as 650 strate word tans gekenmerk deur ernstige oppervlakslytasie, slaggate en strukturele vormveranderings wat dringende ingryping vereis.



26 000 SLAGGATE REEDS HERSTEL

Ten spyte van hierdie uitdagings het CoW daarin geslaag om meer as 26 000 slaggate sedert Februarie te herstel, deur interne hulpbronne en twee aangestelde kontrakteurs te gebruik om dekking oraloor in die hoofstad te verseker.

Nietemin bly die agterstand groei en word dit vererger deur reënskade en die hoë koste van padboumateriaal. Twee belangrike dreineringskanale (culverts), wat reeds beskadig is en veiligheidsrisiko’s inhou, moet teen ’n geraamde koste van N$30 miljoen herstel word.

In reaksie op die verslegtende toestand van infrastruktuur, gaan CoW voort met verskeie groot padprojekte. Dit sluit in om Peter Nanyemba-rylaan (voorheen Monte Christoweg), Winnie Madikizela-Mandela-rylaan (voorheen Otjomuiseweg) en Auasweg vanaf Truck Port tot Mandume Ndemufayo-rylaan in dubbelbane te omskep.

Amptenare het gesê dié paaie, sodra dit opgegradeer is, sal verkeersopeenhopings verlig en slytasie op nabygeleë sekondêre paaie verminder.

Opgraderings is ook aan die gang by belangrike kruisings oraloor die hoofstad om verhoogde verkeersvolumes te takel en voetgangerveiligheid te verbeter. Paaie in hoëdigtheidsgebiede soos Evelinestraat in Katutura word gerehabiliteer om plaaslike sakebedrywighede te ondersteun en pendelmobiliteit te verbeter.

Stormwaterinfrastruktuur benodig volgens CoW ’n bykomende N$353 miljoen, bo en behalwe gereelde padinstandhoudingsbegrotings, om te reageer op vloedskade wat deur die reënseisoen veroorsaak is. Dit sluit in die herstel van beskadigde slote en dreineringskanale, veral in gebiede wat deur kitsvloede geraak word.

Intussen word vordering gemaak op ander infrastruktuurfronte. Meer as 11 500 bouplanne is in die afgelope boekjaar goedgekeur, wat ’n gekombineerde beleggingswaarde van N$9,9 miljard verteenwoordig. Dié projekte wissel van residensiële komplekse tot kommersiële en openbare infrastruktuur. CoW is ook besig om ’n aanlyn bouvoorleggingstelsel van stapel te stuur wat tans finale toetsing ondergaan.

Openbare vervoer bly nog ’n gebied van voortgesette belegging. CoW het die afgelope jaar ongeveer 1,6 miljoen passasiers vervoer met behulp van ’n vloot busse wat 30 roetes dek. Om die invordering van tariewe te moderniseer, sal ’n outomatiese tariefinvorderingstelsel voor die einde van die jaar geïmplementeer word.



AFVALBESTUUR

Afvalbestuur staar steeds uitdagings in die gesig as gevolg van vloottekorte, met daaglikse behoeftes aan operasionele vragmotorbeskikbaarheid.

Ten spyte hiervan, het CoW gesê dat hulle steeds vullis van meer as 55 000 groen asdromme en 430 groot vullishouers elke week insamel. Hulle het ook die Clear-Bag-herwinningstelsel van ’n private kontrakteur oorgeneem, met ’n loodsfase wat nou aan die gang is.

As deel van langtermynbeplanning het CoW bevestig dat openbare konsultasies oor die konsep- stedelike struktuurplan op 19 Augustus sal begin. Die plan sal infrastruktuurbelegging en stedelike ontwikkeling oor Windhoek se vinnig groeiende bevolking lei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer