DEBT: NamWater says it is owed billions by various stakeholders
DEBT: NamWater says it is owed billions by various stakeholders

Waterskuld draai by N$3 miljard

Styging van sowat 16% in nege maande
Die toenemende finansiële las hou 'n direkte bedreiging vir NamWater se vermoë in om infrastruktuur te onderhou en volhoubare grootmaatwatervoorrade oraloor Namibië te verskaf.
Kenya Kambowe
Die nasionale watervoorsiener NamWater se uitstaande skuld het einde November by sowat N$3 miljard gedraai. Verlede maand se skuld van N$2,8 miljard dui op ‘n skerp styging van 15,89% in net nege maande. In Februarie was die skuld N$2,4 miljard.

NamWater waarsku die toenemende finansiële las hou ‘n direkte bedreiging vir sy vermoë in om infrastruktuur te onderhou en volhoubare grootmaatwatervoorrade oraloor Namibië te verskaf.

In ‘n verklaring plaas NamWater die skuld vir die reusebedrae wat uitstaande is voor dorpsrade wat vir meer as N$926,9 miljoen van die uitstaande bedrag verantwoordelik is. Die dorpsrade se skuld het sedert Februarie tot einde verlede maand met N$$150,8 miljoen gestyg.

Ander beduidende skuldenaars sluit in landelike gemeenskappe wat N$783 miljoen in die rooi is, terwyl private verbruikers se skuld einde November op N$342,5 miljoen gestaan het.

Munisipaliteite skuld N$253,6 miljoen, dorpsrade N$169,8 miljoen, terwyl myne N$166 miljoen moet opdok. Die mynbousektor het ook die mees dramatiese styging in agterstallige skuld gesien, met 'n styging van 53% sedert Februarie 2025. Aan die ander kant was ministeries en streeksrade die enigste ligpunte in die skuldtonnel wat hul skuld met onderskeidelik 19.1% en 3.9% verminder het.

NamWater maan in die verklaring dit is ‘n openbare instelling wat byna uitsluitlik op waterverkope staatmaak om sy bedrywighede te finansier. Die watervoorsiener het die afgelope vyf jaar nie ‘n tariefaanpassing geïmplementeer nie, wat beteken dat stygende bedryfskoste en onbetaalde rekeninge NamWater se begroting ernstig kortwiek. Die “voortgesette wanbetaling" belemmer volgens die verklaring die watervoorsiener se vermoë om verouderende infrastruktuur te onderhou en toegang tot water na afgeleë en onderbediende landelike gemeenskappe uit te brei.

NamWater het ‘n dringende beroep op alle kliënte, insluitend plaaslike owerhede en regeringsinstellings, gedoen om hul rekeninge dadelik te vereffen of gestruktureerde betalingsplanne aan te gaan.

"Voortgesette wanbetaling hou 'n direkte bedreiging vir nasionale watersekerheid in," het NamWater gemaan. Strenger skuldinvorderingsmaatreëls sal gevolglik noodgedwonge geimplementeer moet word om nasionale watervoorsiening te beskerm.

"Watersekerheid is 'n gedeelde verantwoordelikheid. Tydige betaling vandag verseker volhoubare, betroubare waterdienste vir môre," beklemtoon die verklaring. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer