Waterpunt by Garub gebou

Claudia Reiter
Die konstruksie van die Garub 1-waterpunt naby Aus kon te danke aan die finansiering van plaaslike skenkers begin.

Namibia Wild Horses Foundation is op die perseel om toesig oor die bouproses te hou. Die waterpunt bestaan uit ’n staalvorm waarin die beton gegiet word. Dit is ’n baie slim ontwerp, het die organisasie op sy Facebook-blad gesê.

“Vir Garub 2 is nuwe sonpanele en pype gekoop, sodat beide die waterpunte in Garub in die toekoms in ’n goeie werkende toestand is.”

Volgens hulle is die treinspoor tussen Aus en Lüderitz gebou om water vir die ossewaroete tussen Lüderitz en Keetmanshoop en verder na die binneland te vervoer.

“Skepe het tot 750 000 liter water uit die Kaap, plus 4 000 perde en tonne voer en voorrade na Lüderitz gebring wat van daar af na die binneland vervoer is.”

Die Garub-treinstasie is in 1906 gebou om water aan lokomotiewe te verskaf. Gedurende die oorlogsjare (1914-’15) het die vlugtende Duitse troepe ’n groot deel van die spoorlyn en die stasiegebou vernietig, terwyl die Unie-soldate dit geleidelik herstel het.

“Dit het gelyk of ’n konstante stofwolk oor die Garub-watergat gehang het, waar 10 000 soldate en 6 000 diere bymekaargekom het om hul dors te les. ’n Smalspoor is na verskeie boorgate gebou om die treine te bedien. Een van hierdie boorgate bestaan vandag nog as ’n waterbron.”

Volgens die stigting het die pomp van water vir die treine in Garub 1 – nadat die troepe die Garub-gebied verlaat het – die verantwoordelikheid van diegene geword wat afhanklik van die water was.

In die stadium was Lüderitz feitlik geheel en al afhanklik van die Garub 1-waterpunt.

“Die Suid-Afrikaanse Spoorweë (SAR) het die verantwoordelikheid vir die instandhouding van die treinspoor en die pomp van die water oorgeneem. Hulle het aangehou om treine van water te voorsien tot 1960, toe die stoomlokomotiewe vervang is.”

Die verbindingspad tussen Aus en Lüderitz en uiteindelik binneland na Keetmanshoop toe, het die afhanklikheid van water vanaf Garub 1 beëindig.

In 1977 het Jan Coetzer, ’n veiligheidswag van Consolidated Diamond Mines (CDM), opgemerk dat daar geen water vir die huidige wilde perde was nie – die pomp is saam met die sylyn verwyder. CDM het SAR genader om ’n deurlopende watertoevoer vir die perde te verseker en CDM het dit gefinansier.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer