Walvisbaai se munisipale raad takel onwettinge besettings in die Kuisebmond-woonbuurt. Foto Leandrea Mouers
Walvisbaai se munisipale raad takel onwettinge besettings in die Kuisebmond-woonbuurt. Foto Leandrea Mouers

Walvisbaai pak onwettige grondbesetting

Tydelike oplossing
Die besluit vorm deel van die raad se uitgebreide pogings om orde in die geraakte gebiede te herstel en lewensomstandighede te verbeter.
Leandrea Mouers

Walvisbaai se munisipale raad het die ingryping by onwettige grondbesetters se hervestiging en gevolglike grondbestuur in Kuisebmond goedgekeur.

Dit is daarop gemik om onwettige grondbesetting in Kuisebmond se aangewese gebiede van Build-Together, grond van die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) en sekere wonings in agterplase te takel. 

In ’n verklaring het die munisipaliteit verduidelik dat die besluit deel vorm van die raad se uitgebreide pogings om orde in die geraakte gebiede te herstel, lewensomstandighede te verbeter en wettige en gestruktureerde grondadministrasie binne Walvisbaai te verseker. 

Die raad het sedertdien goedgekeur dat gedeeltes grond by Plaas 37 opsy gesit word vir die tydelike hervestiging van kwalifiserende begunstigdes wat tans erwe onwettig beset. 

“Dit sluit in persone wat tans grond onwettig binne Kuisebmond beset, besetters op Build-Together-grond, inwoners op grond van die NHE, asook sekere inwoners in agterplase in Kuisebmond en 50 huishoudings uit Narraville se agterplaasgebiede.” 

Die munisipaliteit het ook verduidelik dat ’n bykomende gedeelte grond op Plaas 37 geoormerk is om as ’n ontvangsgebied te dien om die hervestigingsproses te ondersteun en te bestuur, wat gelyktydig met die ontwikkeling van die eerste gedeelte geïmplementeer sal word. 

“Begunstigdes wat vir hervestiging goedgekeur is, sal vereis word om ‘okkupasie-toestemmingsertifikate’ (PTO) om daar te woon te onderteken, wat hul tydelike okkupasie van die aangewese grond sal reguleer,” lui die verklaring. 

Daarbenewens sal slegs individue wat fisies in die geïdentifiseerde strukture woon, vir hervestiging kwalifiseer. 

“Persone wat tydens verifikasieprosesse bevind word dat hulle nie strukture bewoon nie, sal nie oorweeg word nie. Families sal aangemoedig word om waar moontlik saam te woon om die beskikbare grondtoekenning te bevorder. 

“Geraakte inwoners sal die geleentheid kry om hul strukture vrywillig af te takel; indien hulle dit nie doen nie, sal die projekspan die proses uitvoer.” 

Verder sal begunstigdes, eienaars van sinkhuise of eiendom nie toegelaat word om enige bykomende onwettige strukture op te rig nie, en alle bouregulasies sal geld. 

Die munisipaliteit het verduidelik dat goedkeuring ook verleen is vir die aanstelling van 80 tydelike werkers om monitering en afdwinging te ondersteun in samewerking met munisipale wetstoepassing en die Namibiese polisie se reservisstrukture. 

“Die ingryping is bedoel om ordelike grondbestuur te ondersteun en skep nie ’n presedent vir die legitimering van onwettige grondbesetting nie. 

“Die raad bevestig weer dat grondtoekenning moet voortgaan om goedgekeurde en wettige prosesse te volg,” is benadruk. 

“Dit is ook belangrik om te verduidelik dat individue wat deur hierdie ingryping hervestig word, nie dié omseil wat reeds op die amptelike behuisingswaglys is nie. 

“Hierdie proses is nie dieselfde as ’n grondtoekenning nie en verleen geen eienaarskapsregte nie, maar dien eerder as ’n tydelike maatreël vir hervestiging- en vestigingstabilisering wat daarop gemik is om dringende humanitêre en spasiebestuursuitdagings te takel,” maan die munisipaliteit  

Teen die einde van verlede jaar is sowat 50 mense van grond in private besit in Kuisebmond verwyder nadat die grondeienaar ’n hofbevel bekom het. 

Strukture is tydens die operasie afgebreek, met amptenare wat gesê het die besetters woon sedert omstreeks 2020 onregmatig op die grond. 

Die uitsetting het teenreaksie van inwoners en politieke rolspelers ontlok, met sommige wat die proses as onmenslik beskryf het. ’n Klagskrif is aan Erongo-goewerneur Nathalia Goagoses oorhandig. 


STORTINGSTERREIN

Tans hanteer die munisipaliteit ’n onwettige nedersetting by die Walvisbaai-stortingsterrein. Die stortingsterrein val egter onder die mandaat van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) en val buite die jurisdiksie van die Walvisbaai-munisipaliteit, wat aangedui het dat dit nie die bevoegdheid het om individue wat in die gebied woon, van die grond te verwyder nie. 

Daarbenewens is ’n gedeelte van die stortingsterrein binne die Dorob Nasionale Park geleë, wat onder die ministerie se mandaat val. 

Die ministerie het reeds ’n nakomingsbevel uitgereik om die storting van afval by die terrein te staak en skakel nou met relevante belanghebbendes oor ’n proses om die gedeelte van die stortingsterrein wat binne die Dorob Nasionale Park val, te deproklameer. Dit sal toelaat dat volle administratiewe beheer oor die hele stortingsterrein aan die Walvisbaai-munisipaliteit oorgedra word, sodat dit die geriewe in ooreenstemming met die Omgewingsbestuurswet van 2007 kan bestuur. 

Die ministerie het verder aangedui dat die proses van deproklamasie ’n paar maande behoort te neem, aangesien dit ander belanghebbendes betrek, soos onder meer die landmeter-generaal in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, asook die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge. 

Gegewe die dringendheid van die kwessie, word verwag dat dit binne maande afgehandel sal wees. MEFT het reeds begin om nou saam met die Walvisbaai-munisipaliteit te werk om die opmeting van die gebied te bespoedig. Wat die uitsetting van individue betref, het die ministerie aangedui dat die Natuurbewaringsordonnansie van 1975 regsbevoegdheid aan die minister gee om mense te verwyder indien dit amptelik deur ’n landmeter bevestig word dat hulle in die Dorob Nasionale Park woon. 

Ná die deproklamasie sal die munisipaliteit ook die regsbevoegdheid hê om hulle te verwyder ingevolge die Wet op Plaaslike Owerhede van 1992 of sy verordeninge. 

“MEFT is baie bekommerd hieroor en werk aktief saam met alle belanghebbendes om ’n volhoubare oplossing te vind.” 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer