Vervanging van Erongo-pyplyn begin
NamWater het die eerste treë gegee met twee pypleidingvervangingsprojekte in die Erongostreek met 'n gekombineerde konstruksiewaarde van meer as N$170 miljoen.
Die Schwarzekuppe–Swakopmund-projek is op 29 Julie van stapel gestuur en die Omdel–Wlotzkasbaken-projek op 30 Julie. Beide val onder die Watersektorondersteuningsprogram Fase 1 en word gefinansier uit 'n konsessieleningsfasiliteit van N$875 miljoen wat in 2022 verseker is. Die projekte word gefinansier met befondsing van die Duitse federale ministerie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling deur die KfW Ontwikkelingsbank en asook NamWater met ondersteuning van die Namibiese regering.
Die Schwarzekuppe–Swakopmund-kontrak word op ongeveer N$84 miljoen beraam en dek die laaste onvervangde dele van die Kuiseb–Collector 2–Schwarzekuppe–Swakopmund-pypleiding, wat in 1974 in gebruik geneem is. Vyf kilometer glasversterkte plastiekpyp sal bo die grond geïnstalleer word en vier kilometer nader aan die kus begrawe word. NamWater sê die bogrondse gedeelte sal dien as 'n beheerde loodsprojek om die materiaal se korrosiebestandheid in kustoestande te toets. Meer as 62 kilometer van die 80 kilometer lange stelsel is in vroeëre fases vervang. Konstruksie het op 14 Julie voor die aanvangseremonie begin.
Die adjunkminister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Ruthy Masake, het die hoofrede by beide seremonies gelewer.
“Hierdie laaste nege kilometer voltooi die rehabilitasie van die hele 80 kilometer lange pypleidingstelsel wat die sedert 1974 bedien," het sy gesê.
DRINGENDE INGRYPING
Die Omdel-Wlotzkasbaken-kontrak word op ongeveer N$86,6 miljoen beraam en dek 'n 10,3 kilometer lange gedeelte wat ongeveer 45 jaar oud is en van versterkte beton gebou is. Dit sal vervang word met 'n duktiele gietysterpyp wat bogronds geïnstalleer is.
NamWater se uitvoerende hoof, Abraham Nehemia, het gesê die gedeelte toon tans beduidende tekens van veroudering en korrosie en dat dit “'n kritieke bottelnek geword het wat dringende vervanging vereis”. Dié gedeelte werk onder die hoogste druk in die Omdel-watervoorsieningskema. NamWater skryf die verhoogde druk toe aan die integrasie van ontsoute water in die kusstelsel.
Sodra dit voltooi is, sal die lyn tot nege miljoen kubieke meter grondwater per jaar vanaf die Omdel-akwifer en tot 21 miljoen kubieke meter ontsoute water per jaar vanaf die Orano-ontsoutingsaanleg na die Swakopmund-basisreservoir vervoer.
Die Zhong Mei Engineering Group is verantwoordelik vir die Schwarzekuppe–Swakopmund-kontrak. NamWater sê die Omdel–Wlotzkasbaken-kontrak is na a ‘n mededingende inernasionale tender aan Unik Construction Engineering toegeken. NamWater bestee ongeveer N$4 miljoen aan die toesig oor die konstruksie van die projekte. .
Albei projekte duur 12 maande, met inbedryfstelling wat teen middel 2027 verwag word. NamWater verwag dat hulle ongeveer 120 werksgeleenthede sal skep en wel vir 40 geskoolde en 80 ongeskoolde werkers.
Volgens die KfW-direkteur, Beatrice Lucke, het pypleidings soos alle infrastruktuur, 'n beperkte leeftyd.
“Uiteindelik is die grootste risiko nie meer dat dit faal nie, maar dat ons rehabilitasie uitste,” het Lucke gesê.
Volgens Masake sal die grootmaat-wateraanvraag aan die kus na verwagting van 31 miljoen kubieke meter per jaar tot 48 miljoen kubieke meter per jaar teen 2050 styg. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie