Vervalle lughawens wag (steeds) vir herstel

Mpacha op Katima 'n 'skande'
Voorkeur vir opgraderings word deur nasionale ontwikkelingsdoelwitte eerder as net passasiersgetalle of verkeersvolumes gelei.
Phillipus Josef
Hoewel die toestand en toekoms van Namibië se streekslughawens nou sentraal in die land se ontwikkelingsplanne staan, hang baie van die lank beloofde opgraderings steeds af van voortgesette verkrygings- en befondsingsprosesse. Die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se woordvoerder Dan Kamati het gereageer op vrae deur Network Media Hub (NMH) oor wanneer die vervalle toestand van die lughawens op veral Rundu en Katima Mulilo uiteindelik aangespreek gaan word. Foto’s van verf wat afdop, stukkende vensters met kleeflint toegeplak, geroeste stoele en saamgeflanste banke met stene en planke vir passasiers en besoekers in die lughawe gebou op Katima Mulilo op Facebook het wyd frustrasie en ontnugtering uitgelok oor onderhoud wat duidelik jare laas gedoen is. In van die kommentaar op die foto’s op die Facebookblad Spotlighting Namibia word ook na die gebied om die lughawe verwys wat ‘n “skande” is.

“Vervalle geboue, vliegtuigloodse en om nie die walglike stand van sake van die aangrensende weermagbarakke te vergeet nie. Ongelukkig sal niks binnekort gebeur of verander nie, beslis nie in die volgende tien jaar nie. Die enigste verandering sal net nog verval wees,” lui van die kommentaar.

Kamati sê egter vordering is wel al by die Mpacha-lughawe in Katima Mulilo gemaak met die rehabilitasie van die aanloopbaan teen ‘n koste van N$96 miljoen. Dit is genoodsaak om die lughawe aan die veiligheidsstandaarde vir burgerlike lugvaart te laat voldoen. Volgens die NAC is reeds met ‘n verkrygingsproses begin wat nie net opgraderings by die lughawe op Katima Mulilo nie, maar ook Rundu en Lüderitz sal lei. Die opgradering sluit nuwe terminaalgeboue en ondersteunende infrastruktuur in. Kamati sê die proses sal sodra dit gefinaliseer is, bepaal hoeveel die onderskeie projekte sal kos, hoe dit gefinansier gaan word en wat die volgende stappe is.

Die NAC is volgens Kamati ook van voorneme om grondoordragte vir die Katima- en Rundu-lughawens te versnel. Die modernisering van die Hosea Kutako Internasionale Lughawe gaan ook met die beplande Terminaal 3 voort. Die verbeterings en opgraderings is volgens hom deel van ‘n groter poging om Namibië se lughawenetwerk te versterk, in pas met die regering se voorneme om weer ‘n nasionale lugredery te laat herleef. Op ‘n vraag watter streekslughawens voorkeur vir opgraderings kry, het Kamati gesê dit word deur nasionale ontwikkelingsdoelwitte en die NAC se strategiese plan, eerder as net passasiersgetalle of verkeersvolumes gelei.

FlyNamibia het op sy beurt verwys na wat dié verbeterings aan lughawens in streke nie net vir lugrederye en hul passasiers, maar ook vir gemeenskappe, die land en in veral toerisme kan beteken. Volgens die lugredery is betroubare streekslughawens "noodsaaklik om die volle potensiaal" van toerisme en landelike ekonomiese groei te ontsluit. Dit het die Zambezistreek as een van Namibië se mees opwindende toerismefronte beskryf en gesê die lugredery ondersteun planne om die Mpacha-lughawe op Katima Mulilo tot internasionale status op te gradeer ten volle. Volgens die lugredery sal die vermoë om streeks- en langafstandvlugte direk op Katima Mulilo te ontvang, toerisme en handel regoor die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (KAZA) hervorm en werklike voordele vir plaaslike gemeenskappe inhou. Die gebied is geleë in die opvangsgebied van die (O)Kavango- en Zambezirivier. Dit dek gebiede in die vyf lidlande van Namibië, Angola, Botswana, Zambië en Zimbabwe. Dit beslaan ongeveer 520 000 vierkante kilometer en is die grootste beskermde oorgrensbewaringsgebied in die wêreld.

Volgens FlyNamibia werk die lugredery nou saam met die NAC en die ministerie van werke en vervoer en bly verbind tot die ondersteuning van pogings wat "'n sterker, meer verbonde Namibië" bou. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer