Verkeersbeamptes dun gesaai
Die Otjiwarongo-munisipaliteit se verkeersafdeling het slegs vier beamptes om orde in ’n dorp met duisende inwoners te handhaaf.
Amptenare waarsku dat dié tekort aansienlike druk op die handhawing van padveiligheid plaas.
Die verkeershoof van die munisipaliteit, Lesley Kauatjoma, het tydens ’n besoek van die Nasionale Raad se staande komitee oor vervoer en infrastruktuur dit as ’n “uitdagende taak vir die mans in uniform” beskryf.
“Ons het net vier lede wat rondom en op die dorp werk, wat meer as 54 000 inwoners moet bedien,” het Kauatjoma gesê.
Volgens hom onderneem die munisipaliteit gereelde patrollies, operasies vir die handhawing van spoed, inspeksies vir padwaardigheid van voertuie, asook bewusmakingsveldtogte in vennootskap met die Nasionale Padveiligheidsraad, die Paaieowerheid (RA) en ander belanghebbendes.
Verskeie faktore ondermyn egter steeds padveiligheid, insluitend oormatige spoed, die onveilige verbysteek van voertuie, alkohol- en dwelmmisbruik, moeë bestuurders en die swak nakoming van padverkeersreëls, het Kauatjoma gesê.
INSTRUKTEURS
Kauatjoma het ook kommer uitgespreek oor die aantal bestuurskole wat vinnig toeneem en gesê dat sommige instrukteurs nie oor die nodige kwalifikasies en opleiding beskik nie.
“Vandag is een instrukteur geleer hoe om te bestuur. Môre gee hy bestuurslesse en leer hy iemand anders bestuur,” het hy gesê en gevra vir strenger regulering en akkreditasie van bestuurskole en instrukteurs.
Onpadwaardige voertuie, swak en onreëlmatige voldoeningsinspeksies, onveilige laaipraktyke en onvoldoende monitering van openbare vervoeroperateurs is ook ’n bron van kommer vir die verkeersdepartement.
Onder die munisipaliteit se aanbevelings aan die komitee is verhoogde gesamentlike verkeersoperasies op die besige B1-hoofpad en ander geïdentifiseerde brandpunte, asook die gebruik van CCTV-kameras om verkeersmonitering te versterk.
Kauatjoma het gesê die munisipaliteit implementeer reeds ’n CCTV-projek en glo dat kameras wat op strategiese liggings geplaas is, insluitend langs die B1, kan help om bestuurders se gedrag te verander.
“Ons moet die padveiligheidsforum laat herleef,” het Kauatjoma gesê en beklemtoon dat verbeterde koördinering tussen belanghebbendes nodig is om verkeersongelukke doeltreffender aan te pak.
Die munisipaliteit het ook gevra vir toegewyde finansiering om na-uurse verkeersbedrywighede, tegnologie en laekoste-padveiligheidsverbeterings te ondersteun. Duidelikheid word ook van owerhede gesoek oor die handhawing van verkeersreëls en padveiligheid op nasionale paaie wat die dorp binnekom.
KNELPUNTE
Die hoof van misdaadondersoeke in Otjozondjupa, adj. komm. Naukalemo Andreas, het op sy beurt gemaan dat die verbetering van infrastruktuur dieselfde gewig dra.
Volgens Andreas is die B1-nasionale pad tussen Okahandja en Otjiwarongo te nou, wat dit baie gevaarlik maak om ander voertuie verby te steek. Hy het voorstel die regering moet oorweeg om dit tot ’n dubbelbaanpad uit te brei.
Andreas het ook gevra vir beter instandhouding van plantegroei en gras langs die pad. Hy het gemaan oorgroeide plantegroei, veral lang gras, verminder sigbaarheid en verhoog die risiko van botsings met diere.
Die pad tussen Kalkfeld en Otjiwarongo is ook as ’n brandpunt vir botsings geïdentifiseer, met die installering van verkeerskameras wat as ’n moontlike oplossing voorgestel is.
Hoewel die polisie gereeld padblokkades opstel, het Andreas gesê dat talle motoriste kort nadat hulle deur die padblokkade gery het, weer begin versnel.
“Jy beweeg verby die padblokkade en begin versnel. Tien kilometer verder hoor jy daar was ’n ongeluk op die pad,” het hy gesê.
GEBREK AAN TOERUSTING
Reagan Katjimune, bevelvoerder van die Grootfontein-verkeerseenheid, het op sy beurt gesê verkeerseenhede hier staar verskeie uitdagings in die gesig, waaronder ’n tekort aan personeel, patrollievoertuie en gespesialiseerde toerusting soos instrumente om spoed te meet. Dit terwyl die eenheid ’n uitgebreide padnetwerk met toenemende verkeersvolumes moet polisiëer.
Katjimune het ook kommer uitgespreek oor herhaalde verkeersoortreders en gesê sommige motoriste oortree voortgeset die padreëls, ten spyte van herhaalde boetes.
Die munisipale raadslid Godhardt Hoko het intussen die regering aangespoor om ’n nasionale moniteringstelsel vir padverkeer te prioritiseer en die vestiging van ’n noodreaksie-eenheid vir die streek te ondersteun.
Volgens Hoko sal deurlopende monitering spoedoortredings buite polisiepadblokkades ontmoedig en die uitkomste vir veiligheid op die land se paaie verbeter. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie