Uitbreidingsplanne vir Lüderitz-hawe op koers

Otis Daniels
Die Namibiese Haweowerheid (Namport) het voldoende planne in plek vir beide die hawens op Lüderitz en Walvisbaai op kort-, medium- en langtermyn om aan die huidige en toekomstige aanvraag te voldoen.

“Die hawe van Lüderitz het sy kapasiteit bereik en moet uitgebrei word. Lüderitzbaai bied 'n goeie opsie vir uitbreiding met diep aanlegplekke vir olie en gas, terwyl die Angra Point-uitbreiding groenwaterstof sal akkommodeer,” het Immanuel Hango, Namport-hawe-ingenieur vir infrastruktuur en instandhouding tydens die Konstruksiebedryfsforum 2025 gesê wat onlangs op die hawedorp aangebied is.

Volgens Hango beslaan die Lüderitz-hawe 25 hektaar grond by Robert Harbour.

“Tans is die hawegrond byna ten volle beset, met kort- tot mediumtermyn (vyf jaar) bykomende kapasiteit wat geskep sal word deur die optimalisering van bestaande grond. Op die langtermyn (meer as vyf jaar) word 'n nuwe hawe by Angra Point (Lüderitz) beplan met 886 hektaar bykomende grond.”

Hango het verduidelik die Lüderitz-hawe bestaan uit drie dele, insluitend Robert Harbour, Lüderitzbaai en Angra Point, wat tans onontwikkeld is.

“Die meesterplan het voldoende ontwikkelingskapasiteit om in die aanvraag oor die volgende eeu te voorsien,” het hy gesê.

IN DIE PYPLYN

Met verwysing na toekomstige projekte het Hango gesê dit sal alles via ‘n nasionale tenderproses met 'n 10%-prestasiewaarborgvereiste gedoen word. Van die projekte sluit in ‘n nuwe wooneenheid wat deur Namport op erf 635 gebou gaan word, sowat 1 700 m² groot is en langs Inselstraat geleë is.

"Die geraamde begroting is N$15 miljoen, met implementering van die projek vanaf April 2026 oor 'n periode van 12 maande," het hy gesê.

'n Tweede projek deur Namport behels die konstruksie van 'n omtrekpad wat bestaan uit 'n tipiese basis en subbasis met tussengrendels. “Die projek, met 'n geraamde begroting van N$6,5 miljoen wat oor 12 maande strek, sal binnekort weer geadverteer word vir implementering in 2026.”

Namport beoog ook om 'n sonkrag-PV-stelsel te installeer.

“Dié projek, met 'n geraamde begroting van N$7 miljoen wat oor 62 maande sal strek, is ook geskeduleer vir implementering in 2026.” het hy gesê.

Jaarlikse perlasonderhoud moet ook by die hawe van Lüderitz uitgevoer word. “Hierdie driejaarlikse kontrakprojek is geskeduleer vir implementering in April 2026 en behels die skoonmaak van wissels, aanstamp, ens.,” het Hango gesê. Volgens Hango sal die Diaz Point-vuurtoring ook gerehabiliteer word. “Die projek, met 'n geraamde begroting van N$3,5 miljoen wat oor agt maande uitgevoer sal word, is geskeduleer vir implementering in 2026. Die jaarlikse onderhoud op spoorlyne in die hawe moet ook gedoen word.

“Hierdie driejaarlikse kontrakprojek is geskeduleer vir implementering in April 2026 en behels onder meer die skoonmaak van wisselaars.” Die Diaz Point-ligtoring kry ook ‘n nuwe baadjie met ‘n geraamde begroting van N$3,5 miljoen met die projek wat volgende jaar begin en oor agt maande sal strek. Spesialis-betonherstelwerk word ook vir beide Lüderitz en Walvisbaai beplan.

Die tender vir projek met ‘n begroting van N$16 miljoen en wat oor agt maande strek, word November geadverteer.

UITBREIDING VAN DIE HAWE

Die eerste fase van die uitbreiding van die Robert Harbour-kaaimuur sal afhangend van die finale lengte teen 'n geraamde koste van N$4 miljard gebou word.

“Ons voorsien 'n kaaimuurlengte van 500 m op 9 m diepte met 14 ha grondherwinning. Die omgewingsimpakstudie is tans aan die gang en sal teen laat 2025 voltooi wees. Die voorlopige ingenieursontwerp en basiese ingenieursfase (FEED) is ook reeds onderweg, met die geotegniese ondersoek wat in die volgende ses maande gedoen sal word. Die ingenieurs-, verkryging en konstruksietender (EPC-tender) kan teen middel 2026 uitgereik word, en die plan is om die eerste gedeelte van die kaaimuur teen laat 2027 in gebruik te neem en die laaste gedeelte teen 2028,” het Hango verduidelik. Namport het ook ‘n tender uitgereik vir die aanstelling van ‘n raadgewer vir die Lüderitz-olie- en gasvoorsieningsbasis om die haweowerheid te help met die aanstelling van bevoegde voorsieningsbasis-operateur(s) vir sy beplande voorsieningsbasisse in albei hawens. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer