Tweede fase vir Groot Aub se water
Die tweede fase van die vervanging van waterpyplyne vir Groot Aub met ’n belegging van N$5 miljoen het amptelik afgeskop.
Die jongste fase vorm deel van die Windhoekse munisipaliteit se opgradering en belegging van die waternetwerk na die nedersetting wat sedert 2023 tans op ’n totaal van N$18,4 miljoen staan.
Stad Windhoek se onderburgemeester Nangula Amutenya het Vrydag tydens die sooispitseremonie gesê die jongste fase sal oor ’n tydperk van ses maande voltooi word.
Die opgradering van die pyplyn het in 2023 onder Fase 1 begin en beoog om kritieke dele van Groot Aub se netwerk van waterpyplyne te vervang. Die doel is om kapasiteit van infrastruktuur te verbeter, waterdruk te verhoog en meer betroubare watervoorsiening aan inwoners te bied.
Volgens Amutenya het die munisipaliteit ongeveer N$11 miljoen belê in die verkryging van pyplynmateriaal wat onder die huidige kontrakte en toekomstige fases geïnstalleer word. Die algehele belegging in die vervangingsprogram staan tans op ongeveer N$18,4 miljoen.
Amutenya het gesê onvoldoende waterinfrastruktuur het gelei tot lae waterdruk, onderbrekings in die voorsiening van water en onsekerheid vir inwoners namate die bevolking aanhou groei.
“Wanneer waterinfrastruktuur nie meer aan die behoeftes van ’n groeiende bevolking voldoen nie, ervaar gesinne lae waterdruk, wateronderbrekings en onsekerheid oor voorsiening.
“Stad Windhoek erken dus beide die dringendheid van die uitdaging en sy verantwoordelikheid om met blywende oplossings vir infrastruktuur te reageer,” het sy gesê.
Amutenya het ook die frustrasies van inwoners op Groot Aub erken oor die uitdagings wat hulle met watervoorsiening op die nedersetting ervaar.
“Die ontwikkeling van infrastruktuur gaan nie bloot oor pype onder die grond nie. Dit gaan oor gesonder huishoudings, beter skole, veiliger gemeenskappe en beter geleenthede vir inwoners,” het sy gesê.
OMGEE
Sy het die aangestelde kontrakteur aangespoor om die projek betyds en binne die begroting af te handel, terwyl hoë standaarde van veiligheid en gehalte gehandhaaf moet word.
“Ek doen ’n beroep op die aangestelde kontrakteur en projekspan om werk van die hoogste gehalte te lewer, veiligheidstandaarde te handhaaf, die gemeenskap te respekteer en die projek binne die ooreengekome tydsraamwerk en begroting te voltooi,” het Amutenya gesê.
Sy het ook ’n beroep op inwoners gedoen om die opgegradeerde infrastruktuur te beskerm.
“Onwettige verbindings, vandalisme en skade aan waterinfrastruktuur verminder waterdruk, verhoog waterverliese en benadeel watergehalte,” het sy gewaarsku.
“Laat ons openbare infrastruktuur beskerm, onwettige aktiwiteite aanmeld en water verantwoordelik gebruik. Die sukses van hierdie projek sal nie net afhang van goeie konstruksiebestuur nie, maar ook van ons gedeelde rentmeesterskap.” - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie