‘Tree nou op’ met Lüderitz-hawe
Die goewerneur van ǁKharas, Dawid Gertze, het die spoedige uitbreiding van die Lüderitz-hawe as ’n saak van nasionale dringendheid beskryf en gewaarsku dat die vertragings Namibië beleggings, werkgeleenthede en kanse wat met buitelandse olie- en gasontwikkeling verband hou, kan kos.
“Die Namibiese Haweowerheid (Namport) se voorstel vir die uitbreiding van die Lüderitz-hawe sal die bestaande hawe van ’n beskeie streekhawe in ’n wêreldklas-ondersteuningsentrum vir buitelandse olie en gas omskep, wat miljarde dollars se ekonomiese bedrywighede kan ontsluit en duisende werksgeleenthede kan skep,” het hy verlede week tydens sy streekrede (Sora) gesê.
“Dit is ’n saak van nasionale dringendheid, aangevuur deur die vinnige opkoms van buitelandse olie- en gasverkenning langs Namibië se suidelike kuslyn.”
Hy het gesê Namport het gewaarsku dat ’n versuim om die hawe uit te brei, bedrywighede na Walvisbaai, Suid-Afrika of Angola kan laat verskuif.
“Aangesien groot infrastruktuur vir hawens minstens drie jaar neem om te voltooi, vernou elke vertraging Namibië se venster om sy plek in die wêreldwye voorsieningsketting van energie te verseker,” het die goewerneur gewaarsku.
“Die tyd om op te tree is nou, voordat die geleentheid van Lüderitz se kus af wegvaar.”
Hy het gesê die land kan dit nie bekostig dat “hierdie geskiedkundige geleentheid na Suid-Afrika of Angola wegdryf nie en ons kan ook nie ’n toekoms aanvaar waar ons jeug werkloos bly terwyl voorspoed by ons kus verbygaan nie”.
Hy het bygevoeg die huidige hawe kan slegs die verkenningsfase dra en dat die komende fases van ontwikkelings en produksie ’n grootskaalse uitbreiding sal vereis om die toename in skeepsverkeer, logistiek en industriële bedrywighede te hanteer.
SHARK ISLAND
Gertze het erken dat die voorgestelde uitbreiding kommer oor die erfenism omgewings- en gemeenskappe oor Shark Island laat ontstaan het, wat geskiedkundige en geestelike betekenis dra.
“Die kommer wat oor erfenis- en voorvaderlike terreine geopper is, word diep gerespekteer. Ons geskiedenis en die herinnering aan dié wat voor ons gekom het, moet altyd geëer word.
“Tog moet vooruitgang ook deur wetenskap en bewysgebaseerde besluitneming gelei word,” het die goewerneur gesê.
Hy het gesê die kommer sal “met respek en deursigtigheid” aangespreek word.
In ooreenstemming hiermee het Namport spesialisstudies laat doen, insluitend argeologiese opnames, ondergrondse erfenisondersoeke en geraas- en visuele-impakbeoordelings.
“Hierdie onafhanklike ondersoeke het geen ondergrondse menslike oorskot binne die voorgestelde ontwikkelingsgebied gevind nie,” het die goewerneur benadruk.
Gertze het gesê kennerspan(ne) het versagtingsmaatreëls aanbeveel om te verseker dat ontwikkeling verantwoordelik voortgaan, terwyl kulturele en omgewingserfenis gerespekteer word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie