Trans-Kalahari kan 30 000 poste skep

N$23 miljoen haalbaarheidstudie voltooi
Namibië en Botswana moet N$128,3 miljard vind om ’n spoorverbinding te bou.
Augetto Graig

Die regerings van Namibië en Botswana sal die aanbevelings wat in ’n haalbaarheidstudie gemaak is, deeglik ondersoek en ooreenkom oor finansieringsmeganismes en verkrygingstrategieë vir die verwesenliking van die lankverwagte Trans-Kalahari-spoorwegprojek om die twee buurlande te verbind.

In reaksie op vrae wat Republikein verlede week gestuur is, het die woordvoerder van die ministerie van werke en vervoer, Julius Ngweda, bevestig dat die “haalbaarheidstudie deur CPCS Transcom UK Limited onderneem is in samewerking met Zutari (wat in Botswana en Namibië bedryf), Bowman (Namibië) en ander onafhanklike kundiges, vir ’n kontrakbedrag van N$23 miljoen oor 14 maande”. 

Die studie is nie openbaar gemaak nie en volgens Ngweda is dit aan ’n gesamentlike ministeriële komitee wat die twee regerings verteenwoordig, oorgelaat om te besluit hoe, wanneer en of die inhoud bekend gestel sal word.

Hy het wel gesê dat “die projek nou na ’n versoek om voorstelle of ’n verkrygingsfase behoort te beweeg vir ’n ontwikkelaar onder ’n openbare-private-vennootskapsmodel.”

Die voorgestelde spoorverbinding sou oor ongeveer 1 850 kilometer strek en “Botswana se steenkoolvelde en mineraalryke binneland, insluitend Mmamabula, met die hawe van Walvisbaai in Namibië verbind,” het hy verduidelik. 

Tans word beraam dat dit ongeveer US$7,9 miljard (sowat N$128,3 miljard teen die huidige wisselkoers) sal kos om dit bou, het hy gesê. 

“Die duur van konstruksie sal bevestig word sodra ’n ontwikkelaar aangestel is en die finale

ontwerp afgehandel is. Vroeëre vooruitskattings het op ongeveer drie jaar gedui,” het Ngweda gesê.

Alhoewel die aantal handearbeidsposte wat geskep sal word tydens die gedetailleerde ontwerp- en volhoubare finansieringsfase bepaal sal word, het Ngweda gesê dat “albei ministers beklemtoon het dat Namibiese en Batswana kontrakteurs, professionele persone en verskaffers by elke fase werklik geleenthede moet kry. Projekposte – van professionele tot ongeskoolde poste – is meer as 30 000”.

Volgens die woordvoerder het amptenare aangedui dat konstruksiewerk reeds so vroeg soos Desember vanjaar kan begin, “onderhewig aan finansiering, verkryging en regulatoriese goedkeurings, met ander tydlyne wat na 2027 wys”.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer