Die gewilde wandellaan naby die jetty en langs die see is erg deur branders beskadig. Foto Adam Hartman
Die gewilde wandellaan naby die jetty en langs die see is erg deur branders beskadig. Foto Adam Hartman

Swakop herstel see se skade

Branders 'kou' wandellaan
Die gewilde geplaveide wandellaan naby die jetty op Swakopmund gaan betyds vir die vakansieseisoen herstel word.
Adam Hartman
Met binnelanders en buitelandse besoekers wat stadig maar seker na die kus begin stroom vir ‘n seevakansie, gaan die Swakopmund-munisipaliteit wandelpaaie op die dorp herstel wat deur die branders beskadig is.

Die fokus is die gedeelte naby die gewilde jetty aan die suidekant van die vakansiedorp waar die see groot gedeeltes van die strand weggespoel het. Dit sluit in die gedeelte tussen die jetty en die akwarium waar die gewilde geplaveide wandellaan langs die Jörg Henrichsen-park erg onder hoog- en springgetye deurgeloop het. ‘n Houtbrug oor ‘n stormkanaal is ook beskadig, met sommige plekke waar die grond sowat 10 meter diep deur die branders uitgekalwe is. Buiten die skade aan die infrastruktuur, het dit kommer oor stappers se veiligheid laat ontstaan en was dit ‘n oogseer vir besoekers aan en inwoners van die dorp wat met van die mooiste tuine in die land spog.

Die munisipaliteit sê in ‘n kennisgewing die herstelwerk vorm deel van sy bestuur- en instandhoudingsbedrywighede.

"Die herstelwerk sal die versterking van die bestaande golfbreker insluit vir beskerming teen erosie as gevolg van hoog- en springgety se branders en om die omgewing teen verdere skade te beskerm," verduidelik Clarence McClune, die munisipale hoofbestuurder vir ingenieurs- en beplanningsdienste.

Volgens hom sal personeel en toerusting tydens die herstelwerk by die geraakte gebiede wees. Tydelike beperkings op parkeerterreine en toegang tot die strand sal ook vir die duur van die herstelwerk in die betrokke gebiede geld.

“Ons doen 'n beroep op alle inwoners en besoekers om versigtig te wees wanneer hulle in of naby hierdie sones tydens die herstelwerk is,” sê McClune.

Die herstelwerk sal na verwagting tot 12 Desember (aanstaande Vrydag) duur.

“Tensy drastiese regstellende stappe gedoen word, gaan hierdie strandgebied verlore gaan. 'n Oplossing sou wees om 'n seemuur te skep soos byvoorbeeld die golfbreker by Platz am Meer.

"'n Goedkoper oplossing sou egter wees om die Suid-Afrikaanse 'dolos'-stelsel te gebruik, wat plaaslik vervaardig kan word,” het die afgetrede argitek Peter Odendaal opgemerk.

‘n Inwoner van Swakopmund, Zanu Burger, het op sy beurt gewaarsku dat gebiede aan die waterfront, eens gewild onder branderplankryers en ook verder noord by Pebbles Beach waar branderplank gery en geswem word, weens die veranderende kuslyn al hoe gevaarliker word.

Volgens Burger is die verandering weens strukture vir golfbrekers. Hy het mense gemaan om ook aan die gevolge hiervan te dink. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer