Stedelike behuising ’n krisis
’n Nasionale basislynverslag oor informele nedersettings het 419 landswyd geïdentifiseer, wat die omvang van Namibië se stedelike behuisingskrisis beklemtoon.
Die meeste het nie basiese dienste nie, met die regering wat waarsku dat vinnige verstedeliking die beplanningsvermoë verbysteek.
By die bekendstelling van die “Namibia Informal Settlements Baseline Report” verlede week op Swakopmund het die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se statistikus-generaal, Alex Shimuafeni, gesê 563 nedersettings is beoordeel, waarvan 419 as informeel in stedelike gebiede geklassifiseer is.
Volgens die bevindings bly toegang tot infrastruktuur beperk. Shimuafeni het gesê 70,4% van die 419 nedersettings het nie water nie, 86% het nie rioolstelsels nie, 70% het nie elektrisiteit nie en 93% het nie paaie nie.
Hy het beklemtoon dat die syfers spesifiek na informele nedersettings verwys.
Slegs ’n handjievol informele nedersettings het volle diensvlakke bereik, terwyl baie onbeplan of onopgemeet bly.
Die data toon ook sterk patrone van stedelike migrasie. Die Khomasstreek het die grootste bevolking wat in informele behuising woon, gevolg deur Erongo en Kavango-Oos.
Die druk van verstedeliking is ook deur die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, beklemtoon, wat gewaarsku het dat Namibië se demografiese tendense die land se toekoms kan hervorm.
“Sonder ernstige nasionale ingryping teen 2050, voorsien ons dat Namibië se stedelike bevolking alleen sy huidige totale bevolking sal oortref,” het hy gesê.
Die minister het aangedui dat die land se stedelike bevolking van 42,8% in 2011 tot 50% in 2023 toegeneem het, terwyl 28,7% – wat neerkom op 217 068 huishoudings – in informele behuising of plakkershutte leef.
Hy het gesê die sesde nasionale ontwikkelingsplan (NDP6) beoog om nedersettings te formaliseer, gedienste erwe uit te brei en informele nedersettings te verminder, maar het beklemtoon dat die werklike waarde van die basislynverslag gemeet sal word aan hoe doeltreffend die bevindings in beleid en uitvoering omgesit word.
TOESTROMING NA STEDE
Die goewerneur van die Erongostreek, Nathalia /Goagoses, het die druk op haar uitgelig wat die syfers aandryf. Sy het gesê die 2023-sensus toon dat Erongo “die hoogste stedelik-landelike migrasie. . . van meer as 90%” ervaar het, gedryf deur mynbou, visserye, toerisme en logistiek.
“Die stedelike gebiede is regtig nie in staat hulle om te akkommodeer nie,” het sy gesê .
/Goagoses het gevra vir maatreëls om die versnelling van migrasie na groot dorpe te demp en inwoners na “waardige lewens en huise” te beweeg. Op nasionale beplanningsvlak het die direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, Kaire Mbuende, gesê regeringsingrypings in die lewering van grond en behuising vorm ’n sentrale pilaar van ontwikkelingsbeleid.
Hy het egter erken dat beplanning deur ’n gebrek aan betroubare data ingeperk is.
“Doeltreffende beplanning en die optimale toekenning van hulpbronne is nie moontlik sonder betroubare, tydige en omvattende statistiek nie,” het hy gesê.
Mbuende het die basislynverslag beskryf as die eerste nasionale uitset van die Namibië Behuising Informele Stelsel en gesê dit bied ’n grondslag vir bewysgebaseerde beplanning en hulpbrontoekenning onder NDP6 wat tot 2030 strek.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie