Sportsentrumprojek verrys op Rehoboth
’n Sportinfrastruktuurprojek van byna N$10,2 miljoen in Rehoboth-Oos het die konstruksiefase betree.
Die verwagting is dat die ontwikkeling plaaslike werksgeleenthede sal skep en jong mense beter toegang tot sport- en ontspanningsgeriewe sal bied. Die projek het op 6 November met die amptelike oorhandiging van die terrein afgeskop wat ook die aanvang van die konstruksietydperk van vier maande is. Die hoop is dat die projek teen 8 Maart aanstaande jaar voltooi sal wees.
Die Rehoboth-sportsentrum met ’n beraamde waarde van sowat N$10,17 miljoen, is deel van ’n nasionale program wat daarop gemik is om toegang tot sport- en ontspanningsinfrastruktuur oraloor Namibië se 14 streke uit te brei.
Die eerste fase van die konstruksie sluit ’n omheining, waghuis, ’n sportveld met ’n atletiekbaan, netbalbaan, klein pawiljoen en openbare ablusiegeriewe in, sowel as die nodige krag- en meganiese installasies.
Die tweede fase sal ’n pawiljoen met sitplek vir tussen 300 en 400 mense insluit. Die verwagting is dat die projek Rehoboth se plaaslike ekonomie deur werksgeleenthede sal stimuleer. Danksy samesprekings tussen die kontrakteur, die leierskap van die kiesafdeling en die dorpsraad, sal voorkeur aan semigeskoolde werkers van Rehoboth-Oos gegee word.
Die voorsitter van die Rehoboth-dorpsraad se bestuurskomitee, Gaob Kawango, het tydens die oorhandiging van die terrein gesê die ontwikkeling is “vir die mense, deur die mense”.
Hy het die projekspan aangemoedig om die werk binne die ooreengekome tydsraamwerk te voltooi en het beklemtoon die ontwikkeling moet tot tasbare voordele vir die inwoners wees.
Volgens Kawango sal die geriewe meer as net ’n sportterrein wees en sal dit ook dien as ’n platform vir groot streek- en gemeenskapsgeleenthede. Dit sal Rehoboth ook as ’n bestemming vir sporttoerisme vestig. Die goewerneur van Hardap, Riaan McNab, het op sy beurt gesê ontwikkeling moet in pas wees met die behoeftes en realiteite van gemeenskappe. Volgens hom is dit belangrik dat regeringsverpligtinge in tasbare resultate omgeskakel word.
Die projek se kontrakteur, Romy van Wyk van Hebron Contractors, het gesê hy is trots daarop dat hy die geleentheid gekry het om konstruksiewerk in sy tuisdorp en streek te onderneem. Hy het die projek as ’n historiese mylpaal vir sy maatskappy beskryf en gesê dit is die eerste projek wat aan die maatskappy in Rehoboth en die Hardapstreek toegeken is. Van Wyk, wat in die streek gebore en getoë is, het gesê hy is daartoe verbind om tot die ontwikkeling van sy gemeenskap by te dra en gehaltewerk te lewer.
Eduard Wambo, streekvoorsitter van die kiesafdeling en adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, het gemaan die land se beperkte hulpbronne moet verantwoordelik aangewend word.
“Projekte mag nie halfpad deur die implementeringsfase tot stilstand kom nie. Tydige voltooiing en betalings en ’n verbintenis tot suksesvolle afhandeling is noodsaaklik sodat gemeenskappe ontwikkeling kan ervaar en waardeer.”
Volgens Wambo moet leierskap gemeet word aan implementering en resultate, eerder as aan beloftes.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie