Sonkragprojek met twee jaar vertraag

Volhoubaar en deursigtig
Die verkrygingsproses vir die projek word tans nog deur die kantoor van die uitvoerende hoof hersien.
Aurelia Afrikaner
Stad Windhoek sê sy beplande sonkragprojek is met byna twee jaar vertraag.

Die munisipaliteit het by navraag deur Network Media Hub (NMH) gesê die verkrygingsproses is nog by die kantoor van die uitvoerende hoof, Moses Matyayi, om hersien te word vir finale insette.

Sodra die hersiening afgehandel is, sal hersiene tydlyne aan rolspelers en die publiek deurgegee word.

Die navraag volg ná ’n voorlegging verlede maand deur die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) tydens die raad se besoek aan Kavango-Wes. Tydens die voorlegging is verwys na die stigting van ’n beleggingskomitee en dat die beplande sonkragprojek tot stilstand gekom het.

Tydens navrae om die huidige van stand van sake op te volg, het die munisipaliteit die voortgesette vertragings erken, maar beklemtoon dat dit steeds daartoe verbind bly om hernubare energie op ’n deursigtige en volhoubare manier te bevorder.

“Die Windhoekse munisipaliteit bly daartoe verbind om inisiatiewe vir hernubare energie te bevorder en te verseker dat projekte op hierdie skaal op sy ’n manier geïmplementeer word dat dit volhoubaar, deursigtig en in pas met ons breër doelwitte vir energiesekuriteit is,” het Harold Akwenye, Stad Windhoek se woordvoerder, gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer