u0027TE DUUR: Plakkamerkamers wat in die Hakahana informele nedersetting verhuur word. Foto lu00EAeru0027
u0027TE DUUR: Plakkamerkamers wat in die Hakahana informele nedersetting verhuur word. Foto lu00EAeru0027

Regering 'magteloos' teen huurpryse

Wil beheerrade aktiveer
Die afwesigheid van ’n huurbeheerwet stel huurders bloot, maar die hoop is om verouderde wetgewing te moderniseer.
Nikanor Nangolo

Die adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, Evelyn Nawases-Taeyele, sê daar is tans geen wet wat die ministerie bemagtig om huurpryse te beheer nie, daarom die nood om huurbeheerrade te vestig.

Volgens Nawases-Taeyele werk haar ministerie daaraan om die rade te laat herleef. Deel van die proses sluit in die hersiening van die Huurordonnansie Nr. 13 van 1977 en die opstel van ’n nuwe wetsontwerp wat huidige werklikhede in die verhuringsmark weerspieël.

“Die saak is by verkryging en dit sal binnekort deur wyse van 'n oop nasionale tender adverteer word vir konsultante met kundigheid in eiendomswaardes, eiendomsreg en verhuring om aan boord te kom,” het sy verlede week in in die parlement gesê.

Nawases-Taeyele het geantwoord op vrae oor maatreëls wat haar ministerie implementeer om die bekostigbaarheidskrisis te takel. Die gemiddelde huurprys het in 2024 op N$7 348 gestaan, met inflasie op 5,1%. Stedelike huurders word toenemend gedwing om 'n buitensporige gedeelte van hul inkomste aan huur te bestee. Pryse vir tweeslaapkamereenhede het met 14,7% opgeskiet het.

“Tans is daar geen wet wat die ministerie bemagtig om huurpryse te beheer nie, en daarom is dit nodig om die huurbeheerraad te vestig om hierdie kwessie aan te spreek. Dit vereis egter ’n gesamentlike poging van alle belanghebbendes in die bedryf. Die Huurbeheerraad alleen sal nie die beduidende verlaging bring wat ons in huurpryse wil sien nie, aangesien huurgelde op eiendomswaardes gebaseer is,” het sy gesê.

Nawases-Taeyele het verwys na die Huurordonnansie Nr. 13 van 1977 wat redelike huur definieer as nie meer as 9,5% per jaar van ’n eiendom se waarde (grond plus verbeterings) nie. “Dit beteken solank eiendomswaardes bly soos dit is, huurpryse altyd hoog sal bly. Daarom het ons hervormings nodig wat op eiendomswaardes gegrond is. Een so ’n hervorming is die vestiging van die raad vir professionele eiendomswaardeerders in Namibië onder die toesig van die waardeerder-generaal (direktoraat van waardasie en boedelbestuur, ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming), wat vroeg in Maart 2025 deur die voormalige minister Calle Schlettwein ingehuldig is,” het sy gesê.

Nawases-Taeyele sê die raad sal die regulering van beroepswaardeerders by banke oorneem, wat vir meer as twee dekades as beide speler en skeidsregter opgetree het.

“Vir dekades is banke die finansiers van huislenings, tog beklee hulle ’n dominante posisie om die waardes van daardie selfde eiendomme te bepaal waaruit hulle ook voordeel trek in rente,” het sy gesê.

“Om pryse in die eiendomsmark te stabiliseer, moet ’n gesamentlike poging aangewend word deur die raad vir eiendomsagente in Namibië onder die ministerie van nywerhede, myne en energie; die raad vir eiendomswaardeerders onder die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming; die beoogde huurbeheerrade onder die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, asook versnelde lewering van gedienste grond en bekostigbare behuising deur die regering via plaaslike owerhede, streeksrade, die Shack Dwellers Federation, Nasionale Behuisingsonderneming (NHE), en ander openbare-private vennootskappe,” het sy gesê. Intussen skiet huurpryse in Windhoek se informele nedersettings ook die hoogte in vir plakkershutte, waarvan baie onwettig opgerig en verhuur word.

Dit plaas 'n ondraaglike las op inwoners met lae inkomste wat sonder basiese geriewe soos elektrisiteit, sanitasie en lopende water leef. Network Media Hub (NMH) het vroeër berig oor stygende kommer oor huurders wat tot soveel as N$1 600 per maand betaal vir geïmproviseerde kamers wat noodsaaklike dienste kort. In Hakahana, een van die hoofstad se grootste informele nedersettings, betaal inwoners huur van N$250 tot N$600 per maand. Dit ondanks die feit dat dit onwettig is om plakkershutte op te rig en te verhuur. 'n Inwoner het verduidelik verduidelik "die strukture aan hierdie kant is onwettig wat dit onwettig maak om in Hakahana te verhuur, so dit kan nie meer as N$600 wees nie”.

Volgens hom kan die prys tot N$600 styg as krag en water voorsien word. Elektrisiteit bly egter skaars, met baie inwoners wat op gevaarlike onwettige aansluitings staatmaak. Toilette word dikwels deur dosyne mense gedeel.

In die meer gevestigde deel van Hakahana skiet die pryse egter op. Volgens 'n verhuurder vra sy tussen N$1 100 en N$1 300, afhangend van die grootte van die plakkershut en of water en elektrisiteit voorsien word.

“Die prys kan opgaan, veral vir mense wat saam met kinders of hul kêrels bly. Ek voeg altyd N$200 by,” het sy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer