Ou stelsels briek nuwe ontwikkeling
Rioolstelsels vervalle, te min
Ten spyte van president Netumbo Nandi-Ndaitwah se opdrag om 3 000 huise gedurende die 2025-’26-boekjaar te bou, kon 80% van munisipale rade nie dié opdrag uitvoer nie.
Volgens die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, is dit omdat beide die diens van grond en die bou van huise deur ’n verouderende rioolinfrastruktuur belemmer word.
Alhoewel Sankwasa nie gesê het wanneer Nandi-Ndaitwah die opdrag gegee het nie, het hy onthul dat ongeveer 80% van Namibië se 59 plaaslike owerhede vervalle rioolinfrastruktuur het wat nie nuwe ontwikkelings kan akkommodeer nie.
“Die rioolkapasiteit van plaaslike owerhede soos Okahandja, Rundu, Grootfontein, Ongwediva, Oshakati, Ondangwa, Katima Mulilo, Eenhana, Mariental, Tsumeb, Okahao, Opuwo, Windhoek, Hentiesbaai, Omaruru, Usakos en Walvisbaai het almal dringend grootmaat-infrastruktuur vir riool en nuwe watersuiweringsaanlegte nodig.”
Dit volgens Sankwasa se begrotingsmotivering vir 2026-’27 wat hy gister in die parlement sou lewer. Dit het egter nie gerealiseer nie weens die skielike dood van die voormalige Otjozondjupa-goewerneur en Swapo-parlementslid James Uerikua in ’n motorongeluk op Goeie Vrydag.
Hy het gesê die huidige geraamde koste van die opgradering van sulke grootmaat-infrastruktuur is N$2,5 miljard, waarvan niks in die ministerie se begrotingstoekenning van N$1,9 miljard vir 2026-’27 befonds word nie.
“As ’n land moet ons besef die meeste van ons rioolstelsels in plaaslike owerhede is tydens die koloniale tydperk vir ’n kleiner aantal inwoners gebou.
“In sommige gevalle het die bevolkingsgrootte nou al verdriedubbel, wat die rioolkapasiteit van sulke plaaslike owerhede oorweldig. Dit is die moeite werd om te noem dat die konstruksie van nuwe wooneenhede en die opgradering van informele nedersettings, wat ’n noodsaaklikheid vir ons ontwikkeling is, grootliks op die broodnodige opgradering van die rioolstelsel berus.
“Dit is om gevaarlike gesondheidsituasies in ons plaaslike owerhede te vermy,” het Sankwasa gesê.
Volgens hom sal die ministerie egter voortgaan om plaaslike owerhede aan te moedig om na ander alternatiewe finansiering buiten die staat te kyk. Dit sluit die Nasionale Beplanningskommissie en die ministerie van finansies in.
KHOMAS-GOEWERNEUR
In April verlede jaar het die goewerneur van Khomas, Sam Nujoma jr., die regering se ambisieuse plan verdedig om 5 000 huise in die streek binne die huidige finansiële jaar te bou.
Volgens Nujoma het die inisiatief op die benutting van vennootskappe met verskeie rolspelers staatgemaak om ’n teiken te bereik wat deur ontleders as ’n “wonderwerk” beskryf is.
Ten spyte van toenemende kritiek oor die regering se besluit om nuwe behuisingsprojekte te begin, terwyl meer as 2 000 massa-behuisingseenhede in Windhoek onbewoon bly, het Nujoma die benadering beskryf as ’n omvattende reaksie op ’n krisis wat dringendheid en omvang vereis.
Nujoma het toe by navraag deur Republikein erken die leë eenhede is “’n bron van kommer”. Hy het egter beklemtoon dat die omvang van die behuisingskrisis veral in informele nedersettings, breër en meer onmiddellike ingrypings vereis.
“Die onbewoonde massa-wooneenhede is inderdaad ’n bron van kommer. Die regering, deur verskeie sleutelinstellings, is aktief in konsultasie en werk daaraan om hierdie probleem te takel deur die diens en toewysing van daardie eenhede te bespoedig,” het hy verduidelik.
Nujoma het gemaan die behuisingskrisism veral in informele nedersettings, vereis ’n veelsydige benadering.
“Met byna 47% van huishoudings in Khomas wat in verarmde wooneenhede in informele nedersettings woon, is die lewering van 5 000 nuwe gedienste erwe en wooneenhede ’n direkte reaksie op hierdie dringende behoefte,” het hy beklemtoon.
Volgens hom vervang die inisiatief nie die pogings om die bestaande voorraad huise te benut nie, maar vul dit eerder aan om ’n omvattende oplossing vir stedelike behuisingsuitdagings te verseker.
In November verlede jaar is berig Nujoma het dit duidelik gestel dat die belofte van 5 000 nuwe huise nie syne is nie, maar ’n regeringsbelofte uit Swapo se manifes.
“Die 5 000 is belowe lank voordat ek goewerneur geword het. Ons is dus net verantwoordelik vir die implementeringsplan,” het Nujoma gesê.
SPERDATUM
Die ministerie het die blaam vir die versum om alle huise onder die ontwikkelingsprogram vir massabehuising (MHDP) teen Desember 2025 te voltooi en te oorhandig voor die deur van ’n reeks wetlike, tegniese en beplanningsuitdagings geplaas.
Die behuisingsbelofte is vervat in Swapo se implementeringsplan vir 2025-’30.
Die uitvoerende direkteur in die ministerie, Wilhelmine Shivute, het twee maande gelede aan Republikein gesê 4 826 wooneenhede is landswyd voltooi en oorhandig sedert die aanvang van die program in 2013. Die oorblywende 572 huise, geleë in Opuwo, Swakopmund en Windhoek, moet nog gefinaliseer word.
“Die vertraging in die voltooiing van die oorblywende huise wat begin is, maar nie teen die vasgestelde datum van November 2025 voltooi is nie, is betreurenswaardig,” het Shivute gesê.
“Verskeie faktore buite die ministerie se beheer het egter tot hierdie uitkoms bygedra.”
Ten spyte van dié terugslae, het Shivute gesê die ministerie bly verbind tot die voltooiing van die uitstaande projekte.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie