Foto ter illustrasie/verskaf
Foto ter illustrasie/verskaf

Nuwe slimkaarte vir munisipale busse

Elizabeth Kheibes
Die munisipaliteit van Windhoek het amptelik ’n kontantlose kaartstelsel vir sy openbare busse bekend gestel.

Dit vervang kontantbetalings en ou slimkaarte in ’n poging om gemak by passasiers, bedryfsdoeltreffendheid en ook veiligheid te verbeter. Voortaan sal net die nuwe slimkaarte vir busdienste aanvaar word, met kontant of ou kaarte wat nie meer gebruik sal kan word nie.

Die munisipaliteit het ’n beroep gedoen op passasiers wat van sy openbare dienste gebruik maak om hul huidige kaarte by die munisipale busdepot in Pattersonstraat in die hoofstad se suidelike nywerheidsgebied te vervang. Passasiers het nog tyd tot eerskomende Vrydag om die ou kaarte te vervang. Die oorblywende balans op ou kaarte sal tydens die proses geverifieer en na die nuwe slimkaart oorgedra word.

’n Geldige identiteitsdokument, geboortesertifikaat vir leerlinge of ’n paspoort vir buitelandse burgers word vir ’n nuwe kaart vereis.

Nuwe slimkaarte sal tot 4 Oktober gratis aan alle passasiers verskaf word, of hulle nou ’n ou kaart vervang of hulle vir die eerste keer registreer.

Dis verpligtend om die eerste keer N$50 op die nuwe slimkaart te laai. Die vervanging van die kaarte indien dit verlore of beskadig is, kos N$78, en die kaart kan met tussen N$50 tot N$2 500 herlaai word.

Passasiers kan hul nuwe kaarte registreer en herlaai by munisipale kantore oraloor die hoofstad, insluitend die sentrale sakegebied, Katutura, Ombili, Wanaheda en Okuryangava. Elke kaart sal gekoppel wees aan die passasier se persoonlike besonderhede om sekuriteit vir die geld op die kaart te verseker indien dit verlore, beskadig of foutief raak.

Die munisipaliteit het pendelaars aangemoedig om die kaarte so gou as moontlik om te ruil om te verhoed dat hul vervoerreëlings ontwrig word.

Vir navrae kan die kantoor vir openbare vervoer by (061) 290 2507/3524/3520/2436 of die inbelsentrum by (061) 290 3777 gekontak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer