Nóg water vir Otjiwarongo
’n Reservoirprojek ter waarde van N$15,8 miljoen word op Otjiwarongo beplan om die dorp se voortgesette probleme met die toevoer van water hok te slaan.
Die projek sal die opgaarvermoë en ook waterdruk versterk.
Die reservoir sal drie miljoen liter tot die bestaande bergingskapasiteit van sowat ’n miljoen liter byvoeg, wat ’n totaal van vier miljoen liter vir die dorp sal verseker sodra die volledige opgaarstelsel in werking is.
Onderbrekings in watervoorsiening is verlede week oor verskeie dae op Otjiwarongo aangemeld, nadat ’n grootmaat-waterpyplyn wat die dorp bedien, veroorsaak het dat reservoirvlakke skerp gedaal het.
Die munisipaliteit se uitvoerende hoof, Mberipura Hifitikeko, het aan Republikein gesê die dorp ervaar die afgelope maand waterverwante probleme.
Die jongste onderbreking in die watertoevoer is deur ’n breuk of fout in die hoofpyplyn veroorsaak wat water aan Otjiwarongo lewer. Dit het gelei tot ’n skerp daling in die vlak van die reservoir wat die dorp van water voorsien.
Die vlakke het teen Donderdag reeds begin herstel, het hy gesê.
Die munisipale bou-inspekteur, Solver Sinombe, het gesê die nuwe reservoir vorm deel van ’n breër grootmaat-waterprojek wat daarop gemik is om waterdruk veral tydens spitstye te verbeter.
Inwoners wat hierby sal baat, sluit diegene in die informele nedersettings van Orwetoveni Uitbreiding 24 en 25, Reception en ook omliggende gebiede in. Die breër gemeenskap van Otjiwarongo sal voordeel uit die onderling gekoppelde munisipale waternetwerk trek.
Volgens Sinombe sal die bykomende opgaarvermoë ook ’n groter reserwe tydens tydelike onderbrekings in die grootmaattoevoer bied, afhangende van die duur van die onderbreking en waterverbruik.
FASE 1
Die projek het in Junie 2025 begin en word deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling gefinansier deur middel van sy projek vir die opgradering van informele nedersettings en bekostigbare behuising.
Na verwagting sal Fase 1 – wat die konstruksie insluit van die reservoir en die pyplyn wat water daarin pomp – teen die einde van Oktober 2026 voltooi wees.
Die reservoir alleen sal egter nie die stelsel ten volle in werking stel nie.
Sinombe het gesê Fase 2 – wat die konstruksie van ’n swaartekragpyplyn insluit om water van die reservoir na die gemeenskap te voer – moet ook voltooi word voordat die volledige stelsel in werking gestel kan word. Tydens die konstruksie is daar ook op harde rots afgekom, wat aanpassings aan die projek se voltooiingskedule genoodsaak het.
Die munisipaliteit verwag dat die bykomende bergingskapasiteit en infrastruktuur, sodra dit in gebruik is, die waterdruk tydens spitstye in die oggende en aande sal verbeter.
Die projek het nie ten doel om NamWater as Otjiwarongo se grootmaat-waterverskaffer te vervang nie.
NamWater sal voortgaan om die diens aan die dorp te lewer, terwyl die nuwe infrastruktuur die munisipaliteit se vermoë om water te berg en te versprei, sal vergroot. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie