Naloba verwerp 10%-drempel

Minister ‘maak seker ’n grap’
Naloba voer aan die benadering plaas te veel van die waarde van groot projekte in die hande van buitelandse kontrakteurs.
STAFF REPORTER

Nuusredaksie – Die Namibia Local Businesses Association (Naloba) het ’n beroep op die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, gedoen om die regering se vereiste van 10%-plaaslike inhoud vir buitelandse kontrakteurs – wat aan die land se spoorwegopgradering ter waarde van miljarde dollars werk – terug te trek.

Volgens Naloba is dié drempel hopeloos te laag om betekenisvolle voordeel vir Namibiese ondernemings in te hou.

Naloba se visepresident, Peter Amadhila, het gesê die minimum toewysing aan plaaslike entiteite behoort eerder tot 40% verhoog te word, aangesien groot infrastruktuurprojekte aansienlik meer geleenthede vir Namibiese ondernemings behoort te skep.

“Wat is 10%? Die agbare minister moet seker ’n grap maak,” het Amadhila gesê.

Nekundi het onlangs aan die Nasionale Vergadering gesê die tender- en kontrakdokumente vir die spooropgradering vereis dat kontrakteurs minstens 10% van hul totale kontrakwaarde aan maatskappye of verskaffers wat in Namibië geregistreer is, toeken.

Hy het gesê die span wat toesig oor die ingenieursaspekte hou, is ook opdrag gegee om die projekbedrywighede so te struktureer dat betekenisvolle deelname deur plaaslike maatskappye verseker word en die kapasiteit van plaaslike klein- en mediumgrootte ondernemings (SME’s) en konsultante uitgebrei word.

Naloba voer egter aan dat dié benadering te veel van die waarde van groot projekte in die hande van buitelandse kontrakteurs plaas.

“Projekte behoort aan Namibiese ondernemings toegeken te word, wat dan hul eie voorkeur-internasionale subkontrakteurs of vennote kan aanstel om die werk uit te voer,” het Amadhila gesê.

Hy het gesê betalings vir sulke projekte behoort aan Namibiese maatskappye gemaak te word, wat dan op hul beurt hul aangestelde internasionale subkontrakteurs of vennote sou betaal.

Volgens Naloba sou so ’n reëling Namibiese maatskappye in staat stel om die finansiële en tegniese kapasiteit te ontwikkel wat nodig is om verby die kategorie van SME te groei.

“Dit is geen wonder baie van ons ondernemings bly hul hele lewe lank SME’s nie,” het Amadhila gesê.


MILJARDE VIR SPOORLYNE

Nekundi se aankondiging het gevolg op ’n verslag aan die parlement oor die implementering van die spoorwegherstelprogram, insluitend die spoorlyn tussen Kranzberg en Otjiwarongo.

Die projek behels die bou van ongeveer 207 kilometer se nuwe spoorlyn langs die bestaande lyn tussen Kranzberg en Otjiwarongo, 16 brûe en die opknapping van twee spoorwegstasies. Die program sluit ook die verkryging van spoorstawe in vir ongeveer 518 kilometer se spoorlyn wat die Kranzberg-Otjiwarongo-Tsumeb-korridor en die Otavi-Grootfontein-vertakking dek.

Verkrygingsrekords van die Afrika-ontwikkelingsbank toon dat ’n kontrak van N$252,1 miljoen (BTW uitgesluit) aan Unik Construction Engineering Namibia toegeken is vir grondwerke aan die eerste gedeelte van 50 kilometer. 

Dit terwyl China Jiangxi International Economic and Technical Cooperation Co. Ltd ’n kontrak van N$267,6 miljoen ontvang het vir grondwerke wat die gedeelte tussen kilometer 100 en 150 dek. 

Indien die vereiste van 10% op die volle waarde van daardie kontrakte toegepas word, sou die minimum plaaslike toekenning onderskeidelik ongeveer N$25,2 miljoen en N$26,8 miljoen beloop. Die regering het nie bekend gemaak hoeveel werklik ingevolge hierdie vereiste aan Namibiese subkontrakteurs en verskaffers betaal is nie.

’n Afsonderlike kontrak van N$868,2 miljoen is in Oktober 2024 aan China Civil Engineering Construction Corporation toegeken vir die verskaffing van spoorstawe en wisselaars vir die Kranzberg-Otjiwarongo-gedeelte. 

Dit is steeds onduidelik of die vereiste vir ’n plaaslike aandeel van 10% op daardie kontrak van toepassing is op dieselfde wyse as wat dit vir konstruksiekontrakte geld.

Die spoorwegprogram vorm deel van die tweede fase van Namibië se projek vir die verbetering van vervoerinfrastruktuur, wat gesamentlik deur die regering en die AfDB gefinansier word. 

Die AfDB het in 2023 ’n lening van US$196,4 miljoen vir die program goedgekeur, wat 51,8% van die finansiering dek, terwyl die Namibiese regering die oorblywende 48,2% verskaf.


VERANDER

Naloba het gesê die regering behoort sy benadering tot plaaslike deelname te verander deur Namibiese maatskappye die primêre begunstigdes van projekte te maak en hulle toe te laat om self te bepaal watter internasionale vennote of subkontrakteurs hulle benodig.

Amadhila het ook kritiek uitgespreek oor wat hy beskryf het as onvoldoende konsultasie met plaaslike sake-organisasies voordat drempels vir deelname aangekondig is.

“Ons leiers moet altyd relevante belanghebbendes raadpleeg – veral organisasies soos Naloba – voordat hulle sulke drempelwaardes uit die lug gryp en dit aankondig,” het hy gesê.

Naloba het die kwessie verder gekoppel aan die afwesigheid van ’n omvattende beleggingsraamwerk en aangevoer die vertragings in die implementering van die wetsontwerp op beleggingsbevordering en fasilitering het skuiwergate rondom die vereistes vir plaaslike deelname gelaat.

Die vereniging het die regering aangespoor om die wetgewing te bespoedig en gesê toepaslike drempels vir buitelandse belegging en plaaslike ekonomiese deelname moet duidelik gedefinieer word.

Naloba het gesê die spoorwegprojekte verteenwoordig Namibië se werksomvang en behoort dus groter waarde vir plaaslike ondernemings en die breër ekonomie te genereer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer