Havana is een van die verskeie informele nedersettings in Windhoek. Foto Nikanor Nangolo
Havana is een van die verskeie informele nedersettings in Windhoek. Foto Nikanor Nangolo

Meer as 8 000 huise het nou krag

Deel van Stad Windhoek se elektrifiseringsprogram
Die munisipaliteit is reeds besig met ‘n nuwe fase vwat 'n verdere 1 300 huishoudings in informele nedersettings met elektrisiteit sal verbind.
Nikanor Nangolo

Windhoek het sedert 2018 meer as N$157 miljoen bestee om meer as 8 000 huise in informele nedersettings te elektrifiseer. Dit vorm deel van ‘n elektrifiseringsprogram wat die afgelope agt jaar van die hoofstad se mees gemarginaliseerde gemeenskappe getransformeer het.

Windhoek se burgemeester Sakarias Uuona het tydens die sewende gewone raadsvergadering verlede week gesê die hoofstad se elektrifiseringsprogram vir informele nedersettings wat in 2018 van stapel gestuur is, het reeds duisende lewens danksy ‘n vennootskap tussen die stad en die regering positief verander. 

Uuona het gesê die program verteenwoordig ‘n gesamentlike belegging van ongeveer N$157,5 miljoen. Dit is hoofsaaklik befonds deur regeringstoelaes wat duisende inwoners in staat stel om toegang tot veilige, betroubare en bekostigbare elektrisiteit te verkry.

Volgens hom is elektrisiteit meer as ‘n basiese munisipale diens en het dit 'n katalisator vir maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling geword. Uuona het gesê dit het openbare veiligheid verbeter, opvoedkundige geleenthede uitgebrei, ekonomiese deelname gestimuleer en die algehele lewensgehalte in informele nedersettings verbeter.

Die elektrifiseringsveldtog duur intussen voort, met die munisipaliteit wat reeds ‘n nuwe fase van projekte implementeer wat nog 1 300 huishoudings sal verbind.

Volgens Uunona het die munisipaliteit in April vanjaar 12 elektriese kontrakteurs aangestel om 12 elektrifiseringsprojekte oraloor Okuryangava, Goreangab, Otjomuise, Mix Settlement en Morning Star teen ‘n koste van ongeveer N$33,5 miljoen te voltooi.

Volgens hom vorder die uitgrawingswerk, die oprigting van pale en die voorbereiding vir die installering van kragborde op die meeste terreine in die betrokke nedersettings goed. Huishoudings in Mix Settlement het reeds kragaansluitings begin ontvang. 

Benewens die elektrifisering van huishoudings het Uunona gesê die munisipaliteit belê ook intensief in openbare beligting om die veiligheid van inwoners in die onderskeie gemeenskappe te verseker. 

Volgens hom het Stad Windhoek sedert die bekendstelling in 2018 van die hoë mas-beligtingsprogram 37 hoëmasligte teen ‘n gesamentlike koste van ongeveer N$13,85 miljoen in informele nedersettings, vervoerkorridors en ander hoërisiko-openbare gebiede opgerig om sigbaarheid en sekuriteit te verbeter.

Die hoofstad het ook begin met wat Uunona beskryf het as ‘n landmerk opnameprojek vir die opname van straatligte ter waarde van N$12 miljoen.

Die projek van 28 maande wat op 15 Julie begin het, sal meer as 17 000 munisipale straatligte fisies inspekteer, digitaal gekarteer en vir die eerste keer in die hoofstad se geskiedenis in ‘n omvattende batebestuurstelsel opgeneem word.

Die inisiatief het reeds 34 vaste termyn werkgeleenthede geskep, met 30 mense wat gewerf is om die werk uit te voer.

Uunona het gesê die projek sal nie net infrastruktuur in Windhoek verifieer nie, maar ook verseker dat foutiewe straatligte, beskadigde pale en foutiewe toerusting herstel word soos inspeksies plaasvind. Die doel is dat inwoners onmiddellik by die projek baat vind, eerder as wat hulle moet wag totdat dit uiteindelik voltooi is. 

Volgens Uuona weerspieël die gekombineerde beleggings ‘n “ongekende verbintenis” tot die verbetering van toegang tot elektrisiteit en openbare beligting oraloor Windhoek. Uuona het gesê die munisipaliteit se langtermyndoelwit is om te verseker dat elke huishouding toegang tot elektrisiteit het en dat “geen donker hoekie van Windhoek onverlig bly nie.”

Die burgemeester het ook breër ontwikkelingsprioriteite tydens die raadsvergadering uitgelig, wat insluit die versterking van samewerking met die nasionale regering na onlangse gesprekke met eerste minister Tjitunga Elijah Ngurare asook die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa. Uuona het gesê die besprekings was daarop gemik om groter steun vir infrastruktuurontwikkeling, behuisingsprojekte en verbeterde dienslewering in die hoofstad te verseker.

Hy het verder die belangrikheid van die informele ekonomie beklemtoon en gesê dat dit na raming 26,5% van Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) bydra en werk aan 58% van die nasionale werksmag bied.

In Windhoek het die munisipaliteit 18 oop markte ontwikkel, insluitend ‘n gemeenskaplike motorwassery en vier semi-ontwikkelde markte. Dit ondersteun die lewensbestaan ​​van ‘n beraamde  44 200 mense. Hy het egter erken dat die vraag na handelsruimte steeds die aanbod oorskry.

Om dit aan te spreek, het die raad 20 tydelike handelsterreine goedgekeur waar informele handelaars onder minimum higiëniese toestande sake kan doen, terwyl permanente markinfrastruktuur deur vennootskappe met die privatesektor ontwikkel word.

“Deur informele handelaars te ondersteun, beoog die raad om duisende inwoners te bemagtig om hul gesinne verantwoordelik en met waardigheid te ondersteun. Dit terwyl hulle tot die ontwikkeling en voorspoed van ons stad bydra,” het Uunona gesê. - [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer