Krane loop droog op Langstrand
Inwoners is woedend
Watertoevoer na Langstrand is glo gedeeltelik herstel.
Kusredaksie - Inwoners van Langstrand is woedend nadat hulle sedert Donderdag onverwags wéér sonder water moet klaarkom en in rye moet staan om water uit tenks te tap wat die munisipaliteit op strategiese punte geplaas het om die situasie te probeer beredder.
Die munisipaliteit het inwoners op 20 April via sosiale media ingelig dat die gebied onderbrekings in watertoevoer of 'n baie lae waterdruk ervaar as gevolg van NamWater wat tegniese uitdagings ondervind. Die munisipaliteit het ook gesê hy bly in gesprek met die nasionale waterverskaffer om die probleem spoedig op te los en het beloof om inwoners op hoogte te hou van verwikkelinge in die kwessie.
ONKANT GEVANG
Die munisipaliteit het inwoners in 'n tweede kennisgewing ingelig dat die probleem tot 28 April sal voortduur en bygevoeg reëlings word getref om ondersteuningsdienste aan inwoners te bied tot op dié datum. Die aankondiging het gemengde reaksie onder inwoners ontlok.
"Die kommunikasie vanaf die munisipaliteit is 'n probleem en pateties, Die munisipaliteit behoort proaktief op te tree in gevalle soos hierdie. Mense moes eers navraag doen en talle oproepe het onbeantwoord gebly," het een inwoner gesê.
Sy het bygevoeg die watertoevoer is vanaf Saterdag tot 'n mate herstel. "Die geiser kan egter nie vol raak nie. Ek het oorweeg om 'n 25 000 liter-watertenk en pompstelsel vir sowat N$15 000 te koop. Ek het uitgevind 'n hotel in die gebied het twee watertenks geïnstalleer om in hul waterbehoeftes te voorsien.”
Volgens Kenneth Isaaks is inwoners onkant betrap deur dié ongerieflike situasie. "Ek het eers gedink die water sou vir 'n paar ure af wees. Tot op hede het ek nie enige verduideliking ontvang oor wat aangaan nie. Die munisipaliteit behoort die situasie uit te klaar en seker te maak dit gebeur nie weer nie," het hy gesê terwyl hy besig was om 'n paar houers by die watertenks vol te tap.
"Dit is belaglik. Ek bestuur 'n onderneming wat tot 120 mense kan akkommodeer en dit is volbespreek tot 26 Julie. Ek weet nie wat dink die owerhede wat aan die stuur van sake staan nie," het 'n besigheidseienaar op sosiale media gesê.
"Ek het die kennisgewing gesien. Dit is egter onaanvaarbaar dat hulle eers met die watertenks hier aangekom het op die dag toe die krane reeds droog was. Hulle maak ook net saans ná 19:00 die tenks vol. Hoe onbevoeg kan 'n mens wees?" was nog 'n inwoner se woorde.
VERDUIDELIKING
Volgens die munisipaliteit lê die probleem nie by die Kuiseb-watervoorsieningstelsel nie. Dié stelsel is stabiel, alhoewel NamWater onderbrekings by hul boorgate in die Omdel-produksiestelsel ervaar. Die stelsel verskaf ook tot ’n sekere mate water aan Swakopmund en Langstrand. Die munisipaliteit het verder verduidelik NamWater se situasie word tydelik vererger weens die beplande onderhoudswerk by die Orano-ontsoutingsaanleg. Die onderhoudswerk, wat nog vir die volgende vyf dae sal duur, beteken dié aanleg kan nie tans bydra tot watervoorsiening nie.
"Sodra dié onderhoud voltooi is, sal NamWater weer normale watertoevoer aan Swakopmund en myne kan bied," het die munisipaliteit gesê.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie